Bijon de Kock: Van pypkar tot Porsche
'n Oud-Namibiër het sy eie motorrolprentmaatskappy in München waar hy vir onder meer Porsche advertensies maak. Hy vertel in sy eie woorde sy merkwaardige storie, "so bont soos 'n paradysvogel, dog gee ek die turbo-weergawe".
Bijon de Kock - Kleintyd het ek in die Hardapbesproeiingskema buite Mariental grootgeword.
Weens omstandighede buite my ouers se beheer moes ons die plaas opgee en het die gesin na Hentiesbaai verhuis.
Reeds op vierjarige ouderdom al was my voetjies nog jare van die pedale af, is ek al gereeld op my ouers se skoot toegelaat om die stuurwiel te draai. So met een oog bo die dashboard en die ander op soek na petrol en briek, kon ek toe al my ma se outomatiese Mazdatjie parkeer.
Van daar was die saadjie reeds vroeg geplant dat my voorliefde vir karre in 'n brandende passie sou ontwikkel wat uiteindelik my loopbaan sou word.
Nadat my ouers, Dries en Gusta de Kock, na Hentiesbaai getrek het, beland ek in die koshuis op Leonardville. Party naweke het hulle ons seuns teen 02:00 uit die bed gejaag om met oom Hannes se pypkar te gaan hase jag. Vir daardie hele tydperk van alleen wees en verlang was die pypkar-aande beslis my hoogtepunt. Die pypkar, as onopgesmukte, opgeboude voertuig sonder fieterjasies wat vreesloos in die maanlig deur die veld kon jaag, was vir my 'n beeld van dit wat ek graag self wou wees: Sterk, vinnig, vry!
VW KEWER OP 15
In 'n verlate, sandverwaaide kusdorpie soos Henties met sy soutpaaie was die reëlboek maar lekker dun en wou ek so gou moontlik 'n voertuig aanskaf, want as die spietkop aan doerkant van die duin is, ry ons gou aan hierdie kant van die dorp!
Op 12 het ek my pa probeer oortuig en op 15 het ek my eerste voertuig, 'n ou Volkswagen Kewer, besit. (Nie die kewer of enige van die ander voertuie wat ek as kind behad het, het ooit uit my ouers se beursie gekom nie.) As dit oor motors gegaan het, kon ek onderhandel dat die wiele draai!
So begin ons toe een ou kar ruil vir 'n ander, beter een en omdat ek die ruiltransaksie beding het, het pa ingestem dat ek 'deeleienaar' daarvan was.
Ons kinders het ook 'n geel Jeep onder mekaar gehad wat dikwels gedood het as sy masjien nie aan die rol was nie. Dus kon mens hom nie op die strand durf waag afskakel nie en moes ek op lae spoed uitspring, 'n swem gaan vat en dan weer die steeds bewegende Jeep van agter af inhardloop!
Naweke het ek as 'n mechanic by 'n plaaslike vulstasie gewerk en deur die week ou stapels CAR-tydskrifte verslind. Ek het gedroom om eendag vir hulle te kon werk!
Ná matriek verkas ek om in die Kalahari by 'n lodge te gaan werk, waar ek 'n paar broekskraap-avonture met wilde diere het. Onder meer moes ek twee 'getemde' leeus en 'n jagluiperd met 'n Ricoffy-blik vol donkievleis agter in 'n bakkie lok, wat amper baie skeef geloop het. En het 'n ander 'mak' leeu ook aan my knie tydens 'n uitstappie 'geknaag', asook 'n hengse skrik toe 'n jagluiperd een oggend by my rondawel se venster ingespring het!
FOTOGRAFIEKURSUS
Eindelaas beland ek – met my opgerygde veldstewels en letsels – as 'n totale 'groentjie' in Kaapstad.
Hier reël my oudste suster, die bekende skrywer en oudjoernalis van Republikein, Anoeschka von Meck, dat ek 'n fotografiekursus kan loop.
Dit was great, maar ek was steeds brandarm. Sedert ons die plaas verloor het, was dit byna altyd 'n stryd om oorlewing - klomp vis uit die see en meer aartappels as wat ek kon tel.
Die volgende paar jare was nog meer harde bene kou en ek het gespartel tussen kelner wees en hier en daar werk as 'n model.
By oudisies het die agente seker gedink ek is een van daai hoogs modebewuste of kunssinnge ouens wat aardige klere aantrek om te probeer uitstaan. In der waarheid het ek maar net aangetrek wat nog skoon was en gepas het. En aangesien ek en een van my ander broers plus nog 'n vriend op daardie stadium 'n agterkamer by ons oudste, getroude broer in sy huis in Tuine in Kaapstad gedeel het, het jy maar gevat watter onderbroek jy uit die wasbalie kon kry.
FRUSTRASIE BRING DEURBRAAK
Ná 'n tyd het ek 'n deurbraak gehad.
Frustrasie.
Ja, dit was my deurbraak. Min het ek geweet dat frustrasie een van die baie dinge is wat God aan my gegee het om verder te kom in die lewe. Juis omdat niks regtig uitgewerk het nie en my drome steeds soos 'n fontein in my bly borrel het, het ek eendag eenvoudig aan CAR Magazine geskryf: “Hier is ek. Ek sal enige iets doen. Asseblief, gee my net 'n kans!”
En hulle het.
'n Week later het ek as leerlingjoernalis- en fotograaf begin werk. Dit was puik! Ek kon proe hoe die lewe verander, hoe ek nader kom aan dit waarvoor ek bestem was. Heerlik, maar ek was steeds slegs 'n rookie.
'n Paar maande later voel dit of die lewe nogmaals die wind uit my seile slaan en ervaar ek van die pynlikste verwerping wat ek nog beleef het. Ek word genader om 'n oudisie te doen as 'n aanbieder vir 'n motorjoernaalprogram, maar word afgekeur.
Vir dae kon ek nie eet terwyl ek vir daai oproep gewag het nie. My selfoontjie was vol soutkristalletjies soos my natgeswete palms wag dat hulle terugskakel. Eindelaas het ek hulle toe maar gekontak.
Dit was soos 'n vuishou toe ek hoor dat ek nie die werk gekry het nie. Ek was nie goed genoeg nie. Ek het gefaal. Hoe kan dit wees? Ek is dan gemaak vir hierdie rol.
Verward en vernederd het ek lank by die see gaan sit en huil. Moedeloosheid en teleurstelling het gedreig om my te oorweldig. Uiteindelik sou ek my droom afskryf soos mens 'n wrak na 'n skrootwerf stuur.
Dog wou daai passie in my net nie smoor nie.
Iewers skep ek weer moed en besluit: As ek eendag 'n karprogram wou aanbied, moet ek leer om vlot voor 'n kamera te kan praat. Met hierdie gedagte skryf ek myself vir 'n kursus in waar jy televisie-aanbieding geleer word. Ek was nie 'n natural nie. Allesbehalwe. Nog iets wat ek te bowe moes kom, maar ek was vasberade.
DUITSLAND TOE
As 'n vryegeeskind van Namibië se ongerepte vlaktes beland ek in Duitsland, sonder dat ek twee sinne Duits magtig is.
Weens my desperate omstandighede was ek bereid om enige tipe werk te doen. Swaarkry het gemaak dat ek nie bang is vir hard werk nie.
Van my drome het egter niks oorgebly nie. Uit onkunde, naïwiteit en min selfvertroue het 'n string swak besluite alles in my lewenstruspieëltjie soos 'n tiener se slaapkamer laat lyk.
Eendag sit ek weer in my kamer. Ek was nou al amper 30. Dit het kompleet gevoel my lewenspad was weinig iets anders as al die pad diep sinkplaat ry. Uit pure radeloosheid begin ek God se voete gryp en om hulp smeek.
Toe pak ek my karretjie en trek na München, een van die duurste stede ter wêreld. Ek word oral afgekeur om rolprentkuns te studeer, maar met goddelike bestiering eindig ek by 'n fenomenale mentor wat my onder sy streng, perfeksionistiese hande sou neem.
Party keer het weke aaneen se onverpoosde werk met nagte se redigering onder geweldige druk ons almal broos gehad en het ek deeglik my eie gebrokenheid besef. Ek was 'n stukkende mens. Ek moes oor myself kom. My een voet het my ander een aanhoudend gepootjie. Dit het 'n menigte argumente tussen myself en die persoon in die spieël gevat om my wese te oortuig ek sou nie opgee nie. Ek sou aanhou totdat ek flippen uitmuntend en 'n sukses in die motorrolprentbedryf is.
Januarie 2016 beleef ek 'n intense openbaring. Ek snap dat dit eksélf is wat besluit wanneer en waar om vorentoe te beweeg om my drome na te jaag. God was dalk jare die stem wat my aangepor het met "vat jou goed, staan op en gaan!" maar steeds het ek gehuiwer. In vrees het ek bly redeneer ek moet nog vir die regte oomblik, geleentheid en kontakte wag. Snert! Jy besluit self jou tyd is nóú!
Ek het geleer dat mens frustrasie jou 'kneg' kan maak - dat hy vir jou werk en nie verder jou drome belemmer nie. Nou span ek juis my frustrasie in om my te dryf om dinge te laat gebeur en nie met ronde handjies rond te sit en wag vir dinge om na my toe te kom nie.
PORSCHE
So pak ek my kamera in 'n sak en soek die naaste Porsche-kantoor op Google Maps, klim in my kar, stap daar in en sê ek wil graag met iemand by hul bemarkingsdepartement praat.
In Europa daag mens nie sonder 'n naam en afspraak op nie. Jou kanse sal maar skraal wees.
Dit vat steeds baie afsprake, oortuiging en deursettingsvermoë. 'n Jaar later werp daai dag se durf vrugte af en skiet ek my eerste advertensie vir Porsche onder die vaandel van Fast Lane Poetry.
Intussen het ek nog goeie nuus gekry.
BMW het laat weet dat hulle ook saam met my 'n reeks films wil maak. Terselfdertyd is ek besig om die storie vir die nuwe Porsche 911 te skryf.
Mens kan seker hier stop en sê dat dit fantasties is wat gebeur het, maar ek is nou eers in derde rat. Die lewe is 'n leerskool en dis 'n jolly ride. Vat hom!
Ná jare en jare se bloedsweet en swoeg kan ek uiteindelik my droom om my sien ontvou, hoewel daar nog vér is om te gaan. Intussen het ek die voorreg om die wêreld vol te rits, na China, Australië, Amerika, Swede, Sisilië, Italië, Switserland, Ierland, Skotland, Spanje, Kroasië, Oostenryk, Frankryk, die Tjeggiese Republiek, Portugal, Suid-Afrika en natuurlik Namibië. Ek werk saam met ongelooflike meesters van wie sommige selfs onder my vriende te tel.
MOTORROLPRENTMAATSKAPPY
Vandag het ek my eie klein motorrolprentmaatskappy.
Ek geniet dit as oud-Namibiër gate uit om my eie stunt driving te doen en my aanbieding is goed genoeg dat ek die aanbieder van 'n aanlyn kursus voor die kameras was.
In Desember het ek my eerste onderwateradvertensie geskiet. Ek besit my eie tuiste in Suid-Afrika waar ek elke jaar uitsien om my ouers te besoek en oorsese vriende om 'n vuurtjie met braaibroodjies te onthaal.
Met twee Porsche-advertensies verlede jaar en een vir Asco Car Hire se Toyota Hilux-bakkie wat ons in Namibië verfilm het, mik ek na 12 produksies hierdie jaar. Ek spog nie, ek is so ontsettend dankbaar vir al hierdie gunste.
Kort ná my 30ste verjaarsdag het ek myself regtig eers leer ken. Ek moes myself vergewe, myself liefhê en in myself glo.
Ek sou bitter graag weer in Namibië wou kom advertensies skiet, want 'n meer verruklike landskap is daar sekerlik nie. My hart is steeds en sal altyd in daai duine, stofpaaie en blou ooptes lê.
* Gaan loer gerus by Bijon de Kock se webtuiste in by www.bijondekock.com.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie