Biles se stryd kan verandering meebring
Olimpiese Spele
Eers was dit Naomi Osaka, nou weke later ’n betraande Simone Biles.
Twee van die grootste name in vrouesport het in die openbaar onthul dat hulle met hul geestesgesondheid sukkel – en daar is diegene wat dink Biles en Osaka kan die katalisators vir verandering wees.
Biles se verdere deelname aan die Olimpiese Spele hang aan ’n dun draadjie nadat dié stergimnas haar aan die spankompetisie en die individuele veelsydige kompetisie onttrek het.
Sy het Dinsdag ’n teleurstellende vertoning in die spronge gelewer en die Amerikaners moes met die silwermedalje tevrede wees.
“Ná die vertoning wat ek gelewer het, wou ek net nie aangaan nie,” het die 24-jarige Biles oor haar onttrekking gesê.
“Ek moet na my geestelike welstand omsien. Ons moet ons siel en liggaam beskerm en nie net doen wat die wêreld wil hê ons moet doen nie.”
Sy het reeds in die aanloop tot die sportskouspel in Tokio op Instagram geskryf dit voel asof die hele wêreld op haar skouers rus.
Biles het binne ure ’n stortvloed boodskappe van ondersteuning ontvang, selfs van buite die sportwêreld.
Henrietta H. Fore, uitvoerende direkteur van Unicef, het Biles op Twitter bedank dat sy ’n rolmodel is “wat die wêreld wys dat dit piekfyn is om jou geestesgesondheid te prioritiseer”.
• Osaka, wat die Olimpiese vlam by die openingseremonie aangesteek het, het ook Dinsdag in die tennistoernooi ’n skoknederlaag gely.
Die 23-jarige Japanner het erken “daar is baie druk” om die gesig op elke plakkaat van die gasheerland se aanslag by die Spele te wees.
Sy het pas teruggekeer ná twee maande langs die kantlyn weens depressie.
Julie-Ann Tullberg, kenner in sportsielkunde en sportjoernalistiek aan die Monash Universiteit in Australië, glo die impak van bioborrels op sportlui die afgelope jaar het ’n groot invloed op hul ingesteldheid.
Sy sê ook geestesgesondheid is vir te lank onder die mat gevee as ’n rede wat tot onderprestasie by groot sportgeleenthede soos die Spele bydra.
“Maar sportlui deesdae is al hoe meer gewillig om in die openbaar oor hul struwelinge te praat,” sê sy.
Katy Kamkar, kliniese sielkundige by die Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid in Toronto, sê Biles se openbaring “sal die gesprek help normaliseer”.
Aly Raisman, wenner van drie Olimpiese goue medaljes en ’n voormalige spanmaat van Biles, sê Biles het maande voor die begin van die Spele al onder geweldige druk begin verkeer weens die groot verwagtinge wat mense van haar koester.
“Daar is net soveel wat ’n mens kan hanteer; sy is maar net ’n mens,” sê Raisman.
– Reuters, Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie