Biltong in die kies
Biltong in die kies

Biltong in die kies

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Vanjaar se Standard Bank Biltongfees is onlangs tydens ‘n geleentheid in die hoofstad bekend gestel.

Me. Cecelia Hagen-Cloete, Standard Bank Namibia se batefinansierings- en besigheidsbestuurder, het lede van die media en ander rolspelers by die geleentheid toegespreek.

“Baie van julle is bekend met die Biltongfees - ‘n hoogtepunt op menige Namibiër se kalender en vir jare reeds ‘n groot trekpleister. Wat hierdie fees so spesiaal maak, is dat ons al vir 25 jaar aan die gang is en jaarliks ongeveer 20 000 feesgangers lok. Wat aanvanklik net ’n idee was, is nou ‘n huishoudelike naam.”

Vanjaar wil die Biltongfees nóg hoër hoogtes bereik.

‘n Nuwe naam en aanslag word vir vanjaar se fees beplan.

“Voortaan sal ons bekendstaan as die Standard Bank Biltongfees en Motorskou en dit sal op 3 en 4 Augustus by Trustco se sportgronde plaasvind,” het Hagen-Cloete gesê.

Motovac, African Marketing, Kickstart Namibia, Arrebusch Travel Lodge, Radio Kosmos en Rent-a-Drum borg die fees.

Topgehalte vermaak sal ook aangebied word.

Wêreldkampioen- freestyle-motorfietsryers gaan die skare asem laat ophou, terwyl Lollos die kleinspan sal laat skater.

Theuns Jordaan, ADAM, Bobby van Jaarsveld en Leah sal op die verhoog te sien wees.

Kos, voorberei deur die Nederduits Hervormde Kerk, drinkgoed en van die beste biltong in die land sal beskikbaar wees.

African Marketing bring vanjaar 13 Suid-Afrikaanse landgoedwyne teen afslagpryse na die fees.

Moet ook nie die Mej. Biltongfees 2018-kompetisie misloop nie.

“Hierdie jaar sal groter en beter as ooit wees. Met die bekendstelling van nuwe motors en Standard Bank se spesiale huurkoop-aanbiedings, kan jy dalk met jou droommotor of twee wegry,” het Hagen-Cloete gesê.

Kaartjies vir die Standard Bank Biltongfees en Motorskou is by Webtickets teen N$80 vir volwassenes en N$40 vir kinders beskikbaar.

’n Gesinspakket is teen N$200 beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer