Binnekort op die rak: ’n Keur van kortkuns

Lloyd Zandberg
Is daar nuwe lewe in die kortverhaal? Dié nuwe bundels – die meeste boonop debute – wat oor die volgende maande verskyn, beloof om grense te versit.

Jan Spies (1936-1996) was ’n legendariese storieverteller, skrywer, boer, koerantredakteur en televisie-aanbieder.

In Die antie met die pienk rok en ander stories wat in Maart in die winkels land, wag ’n keur van Spies se heel beste humoristiese vertellings uit sy bundels Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette.

Herontdek onvergeetlike karakters soos Maans Maanse, Orrelkosie wat ’n halfdag neem om te verduidelik hoe om ’n pil in ’n hoender se keel af te kry, Hâbakuk en sy blik kondensmelk en die leerlingverpleegstertjie wat ’n plan bedink om die oumense se valstande skoon te maak. .

Die joernalis, dramaturg en romansier Schalk Schoombie debuteer in Maart as kortverhaalskrywer met Die nag ruik na spoed. Onderaan die voorblad noem hulle dit “Vonknuut in Afrikaans: wetenskapsfiksie vir volwassenes”.

Volgens die uitgewer is die stories uiteenlopend, maar die fokus bly stewig op die karakters, en deur elkeen loop die silwer draad van fantasie en wetenskap.

Op dié spesiale spyskaart vir sci-fi-vrate wag onder meer “innovasie, spanning en die verrassingselement”, beloof die uitgewer.

Lesers wat lief is vir die Karoo en sy mense of wat hou van kontrei­stories of die geskiedenis, sal gaande wees oor Daniël Lötter se Die grootpad is ’n grondpad: ’n Koffiekuier by Karoomense, wat in Maart verskyn.

As boorling van die Bo-Karoo, waar hy van kleins af die kuns van stories vertel by meesters op dié gebied geleer het, deel hy kontreistaaltjies, moordverhale, spookstories en vertellings oor besonderse mense en gebeure uit die dorre streke van Suid-Afrika.

Luistervink: 13 Stories is die verrassende debuut van die Bloemfonteiner Madré Marais. Een van dié kortverhale, “Lafbaait”, is reeds in Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek (2019) opgeneem. Marais is goed geskool in die klassieke Afrikaanse kortverhaal, maar bring volgens kenners vernuwing wat taal en register asook karakter en perspektief betref. In die heuningkwasveeg onderaan die voorblad skryf Riana Scheepers: “Die stories laat my dink aan ’n groot boom: indrukwekkend om na te kyk, maar nog meer opwindend om onder die blaredak die fyn takelwerk van vertakkings te sien wat die boom bóóm maak.”

Brian Fredericks word geloof as ’n aangrypende nuwe stem met ’n sonderlinge insig in die feilbaarheid en broosheid van menswees. Drie van sy kortverhale is opgeneem in Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek, en in Junie debuteer hy met die bundel As die Cape Flats kon praat. Hierdie nege rou, eerlike verhale skryf ’n komplekse wêreld oop op die Kaapse Vlakte waar die grens tussen reg en verkeerd voortdurend verskuif en die karakters jou dwing om nuut te kyk na die wêreld om en ín jou.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer