Binnelandse sake maan studente
Probleme wat die afgelope jare deur Namibiese studente in die buiteland ondervind is en probleme wat meegebring is deur buitelandse studente in die land, is deur die woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie uitgelig.
Estelle de Bruyn
'n Beroep is op Namibiese studente gedoen wat van voorneme is om in die buiteland te gaan studeer, om die wette van die lande waarheen hulle gaan streng na te kom en hulle van gebruike in dié lande te vergewis.
Die amptelike woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, me. Salome Kambala, het Woensdag op 'n mediakonferensie gemaan dat studente moet seker maak dat hul Namibiese paspoorte nog geldig is teen die tyd dat hulle hul studies voltooi.
Sy sê verskeie klagtes is vanjaar en in 2015 ontvang oor Namibiese studente in die buiteland, wat paspoorte wat verval het in hul besit gehad het.
Sy sê studente moet op die vervaldatum van hul paspoorte let. Sy het hulle aangeraai om minstens ses maande voordat 'n paspoort verval, na die naaste Namibiese ambassade of hoëkommissariaat te gaan en die paspoorte daar in te handig. Dit sal met die diplomatieke possak na binnelandse sake in Windhoek gestuur word, waar dit hernu sal word en weer aan die studente terugbesorg word.
Nog 'n probleem wat vanjaar ondervind is, is dat studente se geld opgeraak het. Kambala vra dat diegene wat studente borg om in die buiteland te studeer, hetsy dit private maatskappye of die ouers van studente is, seker moet maak dat die studente oor voldoende geld beskik om vir hul verblyf, studies en selfversorging te betaal.
Sy het ook op die verantwoordelikheid van ouers gewys, wat ondanks die feit dat hul kinders met beurse van die staat of private maatskappye of op uitnodiging van buitelandse instansies studeer, ook verantwoordelik is om toe te sien dat die studente oor voldoende lewensmiddele beskik.
Volgens Kambala het die aantal Namibiërs wat in die buiteland studeer, tussen 2014 en 2016 met 20 persent toegeneem en staan nou op ongeveer 42 000 studente.
Wat buitelandse studente betref wat in Namibië studeer, sê sy die meeste studente kom uit Angola, gevolg deur Zimbabwe en Zambië. Veral Angolese studente skryf eers vir 'n een jaar lange kursus in om Engels onder die knie te kry voordat hulle hul studies in ander rigtings voortsit.
Kambala het hierdie studente gemaan om vooraf seker te maak van die vereistes wat Namibië vir die uitreiking van 'n studievisum stel. Hierdie besonderhede is volgens haar op die webtuiste van die ministerie beskikbaar. Dit behels onder meer 'n brief van aanvaarding deur die instansie waar 'n student wil studeer; 'n gesondheidsertifikaat; veiligheidsklaring van die polisie; 'n geldige paspoort en bewyse dat 'n student geldelik vir die duur van die kursus selfversorgend sal wees.
Kambala het ook 'n waarskuwing aan buitelandse studente gerig wat na afloop van hul studies in Namibië aanbly sonder dat hulle oor die nodige visums of permitte beskik. Sy het beklemtoon dat 'n studentevisum nie voldoende is om 'n werk in Namibië te aanvaar of 'n sakeonderneming hier te begin nie.
“Hulle moet na afloop van hul studies terugkeer na hul lande van oorsprong en dan die regte prosedures volg indien hulle om werkpermitte, besigheidspermitte of verblyfpermitte wil aansoek doen,” het Kambala gesê.
Sy het ook 'n beroep op Namibiërs gedoen wat bewus is van buitelandse studente wat hul studies voltooi het, maar aangebly het en dus onwettig in die land is, om dit by die polisie of die ministerie van binnelandse sake en immigrasie aan te meld.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie