Binnelandse sake se masjien onklaar

’n Masjien wat kaartjies vir dienste en plasings uitruil, word glo deur ministeriële personeel gesaboteer.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie se hoofkantoor in Windhoek erken ’n QMS-masjien word weens ’n paar administratiewe uitdagings nie ten volle benut nie.

Die ministerie is tans besig met interne konsultasies in ’n poging om van die uitdagings soos die herkonfigurasie van die bestuurstelsel uit te sorteer.

Dienslewering word egter nie ten volle hierdeur geraak nie en kliënte is en word steeds te alle tye bedien, het die ministerie beklemtoon.

Die QMS-masjien reik kaartjies vir dienste en plasings uit soos kliënte die dienssaal van die ministerie binnekom.

Beamptes sê die masjien werk glad nie, of is sedert verlede jaar net gedeeltelik in gebruik.

Dit beteken die masjien is vir die uitreik van kaartjies aangewend sonder ooreenstemmende kommunikasie op die skerms by toonbanke.

Ook word geen verwysing hierna gemaak deur administratiewe beamptes wat die toonbanke beman nie.

Bewerings is gemaak dat sommige personeel die masjien opsetlik saboteer om personeel se prestasiebestuur te omseil en sodoende te keer dat hulle gemonitor word.

Die ministerie se woordvoerder, mnr. Sakeus Kadhikwa, ontken dit.

“Die monitering van personeel is een van die ministerie se voorkeure en daarom moet alle personeel wat toonbanke beman, naamplaatjies dra. Direktorate vergader daagliks met toonbankbeamptes se toesighouers om kwessies uit te lig,” sê Kadhikwa.

Die ministerie beraadslaag tans met diensverskaffers om die stelsel meer vaartbelyn te maak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer