Bio-hoop vir wurmplaag
Tydens die onlangse Meesterakkerbouerdag op Hochfeld het dr. Tiarien Ferreira besonderhede van deurbrake in haar jongste navorsing oor insekbeheer met behulp van entomopatogeniese nematodes (EPNS) met boere en belangstellendes gedeel.
Mariana Balt
Tydens die onlangse Meesterakkerbouerdag op Hochfeld het dr. Tiarien Ferreira van Nema Bio in Pretoria, besonderhede van deurbrake in haar jongste navorsing oor insekbeheer met behulp van entomopatogeniese nematodes (EPNS) met boere en belangstellendes gedeel.
Die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda) is ’n uitheemse wurm wat van Suid-Amerika af kom en wyd verspreid in beide kommunale en kommersiële akkerbougebiede voorkom. Dit het die afgelope maande amok gemaak onder oeste en uit die reaksie van boere wat die geleentheid bygewoon het, was dit gou duidelik dat enige manier om daarvan ontslae te raak, verwelkom sou word.
Ferreira se navorsing oor bio-pesbeheer het dus in almal se kraal geval.
Met sy lewensiklus van 24 tot 40 dae en vermoë om tot 2 000 eiers in sy leeftyd te lê, kan die herfskommandowurm heelwat skade aan gasheerplante berokken – waarvan mielies sy voorkeur is.
Dit val egter ook groente soos kool en die rissie-groep aan, sowel as sojabone, sorghum, sonneblom, droë bone, koring en gars, grondbone, weiveld en grasse.
Ferreira het entomopatogeniese nematodes (EPNS) aan die gehoor voorgestel: Dit is ’n ronde aalwurmspesie, ongesegmenteerd en patogenies vir die meeste insekte maar veilig vir mense en diere. Dit maak ook nie duisendpote dood nie.
Hoewel daar van die spesifieke groep ook as aalwurms gepraat word, is dit nie dieselfde as dié wat op plantwortels in die grond voed nie. Hierdie werk kom wel natuurlik in die grond voor en die eienskap wat dit vir bio-pesbeheer geskik maak, is die feit dat dit simbioties saam met ’n bakterie werk: Die EPNS dring ’n inseklarwe deur sy mond of anus binne, skei die simbiotiese bakterie af en veroorsaak die larwe se dood binne 24 tot 48 uur. Daarbenewens vermeerder die EPNS ook binne-in die inseklarwe en kort voor lank verlaat duisende nuwe EPNS die larwe op soek na ’n nuwe gasheer.
Verskeie soorte EPNS het deel van Ferreira se navorsing uitgemaak: Steinernema yirgalemense; Heterorhabditis bacteriophora en Heterorhabditis zealandica.
Sy het bevind dat veral die inseklarwes baie vatbaar vir die uitwerking van die EPNS en bakterieë is, terwyl dit maar ’n sowat 20% mortaliteit by papies veroorsaak.
Sekere ander plaagbeheermiddels word tans wel teen die herfskommandowurm gebruik: Indoxacarb is getoets en het teen die wurms gewerk; Lufenuron Chlorantraniliprool is ook baie doeltreffend, maar aangesien dit ’n diamied is, kan dit maklik tot die ontwikkeling van weerstandigheid lei. Die risiko van weerstand-ontwikkeling bestaan ook wanneer Benfurakarb gebruik word.
Piretroïed werk glad nie teen kommandowurm nie en dit is baie weerstandig teen Karbamate.
Dit wil dus voorkom of die aanwending van EPNS in kombinasie met só ’n plaagdoder waarskynlik die beste resultate behoort te lewer.
Hoe word EPNS in kombinasie met plaagdoders gebruik?
Die geheim van hierdie kombinasie lê daarin dat EPNS op plekke kan inbeweeg waar plaagdoders nie noodwendig kan bykom nie. Chemiese plaagdoders moet verkieslik toegedien word wanneer mielieplante jonk is aangesien die larwes diep in ouer mielieplante se blare indring waar plaagdoders dit nie kan bereik nie.
Sy noem dat dit interessant is dat ander insekte ook nie dooie larwes wat deur EPNS vernietig is, aanval nie.
Waar ouer larwes minder vatbaar vir plaagdoders is, werk EPNS steeds goed teen al die stadiums daarvan, ongeag of die larwes oud of jonk is. Plaagdoders wat reeds getoets is of dit saam met EPNS toegedien kan word, is chlorpyrifos (organofosfaat) en cypermethrin (piretroïed). Dit is reeds saam met die EPNS spesies S. yirgalemense en H. zealandica getoets.
Dit is dus belangrik om plaagdoders wat gereeld teen herfskommandowurm gebruik word, saam met EPNS toe te dien en te toets hoe doeltreffend hulle kan saamwerk. Die EPNS het vogtigheid nodig om te kan oorlewe, daarom moet die grond te alle tye nat gehou word. Hoewel hulle nie “swem” nie, kan hulle nie oorleef of beweeg in ’n heeltemal droë medium nie. Hulle het ’n temperatuur van laer as 35°C nodig om te floreer.
EPNS word nog nie plaaslik op kommersiële skaal geproduseer nie. Terwyl dit geruime tyd reeds in die VSA gebruik word, is toetse tans by die WNNR in Suid-Afrika aan die gang om te kyk of dit op groot skaal in fermenteertenks gedoen kan word en of dit hoegenaamd ekonomies die moeite werd en veral bekostigbaar sal wees.
Op vrae van boere teenwoordig het Ferreira genoem dat hulle nog nie seker is of die spesifieke EPNS inheems aan Namibië is nie, maar dat hulle glo die voorkoms sal dieselfde as in Suid-Afrika wees. “Indien dit nie inheems is nie, sal ons dit nie hierheen inbring en dalk daarmee ’n toekomstige plaag skep nie,” het sy onderneem.
Die navorsing waarby sy betrokke is, is baie duur en na 13 jaar is hulle nou eers op die punt dat hulle die moontlikheid om EPNS kommersieel te gebruik, kan begin oorweeg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie