Bio-naaf beplan vir verwerking van indringerbos
‘n Eerste bio-naaf vir Namibië, waaraan boere hul indringerbos op groot skaal sal lewer, word naby Tsumeb beplan.
t face="Verdana" >
Elvira Hattingh - Die proses is reeds halfpad om ‘n eerste biomassa-naaf, die Namibia Biomass Hub (NBH), in die land te bou.
Dit sal indringerbos in verskeie bruikbare produkte kan omskep en kan gebruik word om hitte-energie en elektrisiteit op te wek.
Namibiese belangegroepe het op 8 April saam met verskeie Europese sakelui ‘n biomassa-konferensie in Windhoek gehou om beleggingsgeleenthede vir die bou van biomassa-nywerheidsparke in Namibië te ondersoek.
Dr. Peter Heck van die Institute for Applied Material Flow management (IfaS) in Duitsland het besoekers tydens die geleentheid bekend gestel aan die bou van biomassa-nywerheidsparke, wat as ‘n waardevolle afsetpunt van Namibiese indringerbos kan dien.
Volgens hom ondersoek die Duitse dorp Hamburg die moontlikheid om houtskerwe van Namibië as hernubare bron te gebruik om die stad se elektrisiteit en hitte op te wek. Die dorp wil teen 2030 nie meer van enige steenkool vir dié doeleindes gebruik maak nie.
Tydens die geleentheid in Windhoek is ook op nasionale en internasionale bemarkingsgeleenthede vir die produkte gefokus. Daar is ook gekyk na watter vooruitsigte bestaan vir die kommersiële gebruik van Nambiese biomassa-produkte, naamlik indringerbos.
Volgens Heck, wat saam met die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) werk, is hulle tans in die tweede van vier fases wat die ontwerp van so ‘n naaf voorafgaan. In die fase word belangegroepe soos plaaslike en buitelandse maatskappye, owerhede en instansies vir die projek geïdentifiseer.
“In die volgende fase moet ‘n projekontwikkelingsmaatskappy teen Junie vanjaar gestig, ‘n besigheidsplan opgetrek en geld bekom word. Die laaste fase behels die bou en inwerkingstelling van die naaf,” het Heck gesê.
BIRKENFELD-KAMPUS AS VOORBEELD
Heck sê 20 jaar gelede was Duitsland in dieselfde situasie toe hulle met ‘n enorme hoeveelheid afvalhout en huishoudelike afval gesit het.
Daar is besluit om ‘n biomassa-nywerheidspark te bou, waar dié afvalprodukte gebruik kan word om ‘n universiteit van biogas, hitte en elektrisiteit te voorsien, asook om kunsmis vir plaaslike wynboere te maak.
Hy sê die Birkenfeld-kampus is ‘n zero-emissie-kampus wat selfs elektrisiteit terug in die nasionale stelsel voer. Die elektrisiteit, hitte en koue wat dit opwek, is 100% hernubaar.
Dit behels dat die universiteit afvalhoutprodukte uit hul omgewing gebruik, asook organiese afval uit kombuise, wat deur ‘n aerobiese verteringsaanleg in kunsmis en biogas omgeskakel word. Die biogas word in nog ‘n aanleg gebruik om hitte en elektrisiteit op te wek.
“Intussen het ander maatskappye hul persele naby die universiteit kom oprig om ook van hierdie goedkoper energie gebruik te maak.
“Dit is 20 jare gelede gedoen en dit werk vandag nog steeds. Ons betaal ook nie meer vir energie as konvensionele universiteite nie.”
“Twintig jaar gelede het mense ons vertel dit is onmoontlik en dat niemand anders dit nog gedoen het nie. Vandag volg hulle ons voorbeeld,” het hy gesê.
Heck het gesê benewens dat die projek werk skep - omdat plaaslike maatskappye jaarliks instandhoudingswerk moet verrig - is ‘n bykomende 35 werksgeleenthede geskep, sowat 40 miljoen Euro is in die streek belê en dit genereer belasting. “Boonop los dit probleme met afvalprodukte op, sonder dat dit sekondêre besoedeling veroorsaak.
Heck sê dit is ‘n voorbeeld van wat met biomassa-produkte gedoen kan word. “Julle kan jul bosindringingsprobleme deur so iets oplos,” het hy gesê.
BIO-NAAF IN NOORDE
Volgens Heck word beoog om ‘n bio-naaf naby die Ohorongo-sementfabriek te bou – ‘n baie gepaste ligging omdat dit naby die treinspoor en paaie geleë sal wees en ook naby genoeg aan produsente is, wat dit van indringerbos moet voorsien.
“Hier kan so ‘n naaf ook met NamPower verbind word en is daar genoeg ruimte vir die stoor van biomassa-produkte,” het hy gesê.
Heck het verduidelik so ‘n bio-naaf sal as ‘n gesentraliseerde diensfasiliteit vir die bedryf dien, wat insluit dat dit onder meer die nodige geld moet insamel, potensiële internasionale vennote moet kry en mense sal moet oplei om die werk te kan doen, buiten dat dit ru-materiaal moet verwerk.
“Daar is meer aan biomassa as om dit slegs te verbrand of aan vee te voer,” het hy gesê. “Dit hou baie potensiaal in, want dit bestaan uit ‘n mengsel van voedingstowwe, kleure en vesels,” het hy gesê.
Hy sê bio-nawe kan ru-materiaal verwerk deur byvoorbeeld hout te verbrand of saam te pers, of veevoer te skep.
HOE WERK DIT?
Heck het gesê dat ‘n naaf gebiede verskillende groottes kan wees, van tussen 'n 25 en 100 km radius.
Hy het gesê die naaf sal sy omliggende gebied binne 20 jaar op ‘n volhoubare wyse van indringerbos “skoonmaak”.
“Dit beteken dat ons baie nawe in Namibië gaan benodig. Dit is ‘n geleentheid, want elke naaf skep gedesentraliseerde winkels, onderrig en energie.
Hy het verduidelik dat so ‘n naaf uit vier dele bestaan, die eerste is die deel waar die vervaardiging en dienslewering plaasvind, die tweede ‘n woongebied (veral as dit op ‘n afgeleë plek is), derdens ‘n akademiese afdeling en laastens ‘n deel waar energie, water en afvalwater bestuur word.
Hy sê tussen 50 en 100 ha grond is nodig vir die uitleg van so ‘n naaf, afhangende watter tegnologie gebruik gaan moet word en hoeveel stoorplek dit moet hê.
Benewens die opwekking van hitte en elektrisiteit, oftewel energie, kan die naaf verskeie produkte vervaardig.
Gras kan daarin in proteïen vir veevoer, asook papier en papierprodukte omgeskakel word. Dit kan ook tesame met bosvoer, wat van klein takkies en blare gemaak word, in pilvorm gepers word om as veevoer te dien. Ureum en molasse kan ook by die veevoer gevoeg word.
Heck sê veral die Namibiese suiwelvereniging stel baie belang in die bio-nawe se potensiaal om bykomende voer te vervaardig.
Houtskool, brikette, saamgeperste vuurmaakhout en biochar kan op groot skaal op ‘n omgewingsvriendelike wyse in die bio-naaf geproduseer word, terwyl so ‘n naaf ook houtskerwe kan produseer. Biobrandstof kan ook geproduseer word.
Hy sê geleenthede bestaan ook om die hout in verskillende vorme vir ander markte aan te bied. Volgens hom is een hiervan waar hout as ‘n plaasvervanger in plastiek gebruik word. Dit behels dat dit sowat 50% van die plastiek in plastiekprodukte vervang.
Hy sê in die naaf kan afvalwater opgevang en hergebruik word, sodat elke druppel water optimaal benut word.
NYWERHEIDSIMBIOSE
“As ‘n mens al hierdie dinge op een plek doen, kan al die produksieprosesse bymekaar inskakel en saamwerk; dit word nywerheidsimbiose genoem.
“Oorskothitte wat deur die een proses opgewek word, word weer produktief in ‘n ander proses gebruik.
“Al hierdie aktiwiteite behels dat water, afvalwater, energie en oorskot-energie geproduseer en hergebruik word. As jy net een produk vervaardig, word baie van die biomassa en potensiële bronne van inkomste vermors. Ons kyk na wat ons alles kan vervaardig en verkoop,” het Heck gesê.
Hy sê die voordele van ‘n bio-naaf sluit in dat dit kan werk skep, as ‘n finansiële inspuiting vir verskeie landelike streke dien en, waar nodig, sy eie elektrisiteit genereer. Hy sê een van die nadele is dat so ‘n naaf ‘n groot finansiële belegging vereis.
“Een van ons grootste huidige take is om die gepaste liggings vir die nawe te vind en ‘n eerste op die been te bring. Die eerste hiervan sal beslis nie die laaste wees nie,” het hy gesê.
HAMBURG-KRAGOPWEKKING
Heck het gesê nog ‘n moontlike afset van Namibiese indringerbos kan moontlik binnekort ter sprake kom.
Hamburg, ‘n stad in Duitsland, wil hul kragopwekking met steenkool staak en eerder van Namibiese indringerbos gebruik maak omdat dit ‘n hernubare, volhoubare bron is.
“Die stad sal egter sowat 9,8 miljoen ton houtskerwe per jaar benodig om drie kragopwekkingsaanlegte aan die gang te hou met ‘n gesamentlike kapasiteit van 2,2 gigawat. Beleidsmakers is reeds besig om te bereken wat dit sal kos om die houtskerwe tot by die Hamburg-hawe te kry,” het Heck gesê.
Hul berekeninge dui daarop dat hierdie bron vir veel minder uitlaatgasse sal sorg.
Heck het gesê Hamburg wil die gebruik van steenkool vir die opwekking van elektrisiteit en hitte teen heeltemal 2030 opskort. “Reeds teen 2025 wil hulle ‘n alternatiewe bron vir die opwekking van hitte gebruik,” het Heck verduidelik.
“Aanvanklik was Hamburg se besluitnemers huiwerig om van biomassaprodukte uit Afrika gebruik te maak, want die persepsie bestaan dat die verkryging van hout van Afrika af beteken hulpbronne word nie volhoubaar gebruik nie.
“Ons moes verduidelik dat Namibië se situasie uniek is en dat hierdie biomassaproduk gebruik moet word - en ook baie daarvan. Ons kon hulle dus oor hierdie hekkie help.
“Hulle het toe aanvaar dat die verbruik van hierdie bron ekologies en maatskaplik geregverdig is. Tans word daar oor koste gesels en hoeveel dit gaan kos om hierdie skerwe by die Hamburg-hawe te kry.”
Heck sê Hamburg se drie bestaande aanlegte – Wedel, Tiefstack en Moorburg - sal dus na die gebruik van houtskerwe moet oorskakel.
“Die enigste probleem is dat hierdie oorskakeling binne die volgende drie tot vier jaar moet plaasvind. Besluite hieroor word vanjaar gemaak, dus moet ons ons idees, bestuursvernuf en vaardighede vanjaar na die beleidsmakingsproses laat deursypel,” het hy gesê.
Heck het verduidelik dat die gebruik van houtskerwe uiteindelik goedkoper vir kragstasies as steenkool sal wees, veral as belasting op CO²-uitlaatgasse ingestel word.
“Die gebruik van houtskerwe maak dus nie net sin wat die omgewing betref nie, maar dit maak ook sin vir besighede,” het hy gesê.
TE GROOT OM TE IGNOREER
Heck sê Namibië se probleem met indringerbos raak al groter en lei tot die verlies van produktiewe landbougrond, veeproduksie en water.
“Ons is geneig om probleme te ignoreer wat ons as oorweldigend beskou. Dit is egter ‘n té groot probleem om te ignoreer.
“Daar is baie energie- en groot waarde in jul biomassaprodukte opgesluit. Julle hoef ook nie van voor af te begin om dit te benut nie, Namibiërs het reeds stappe gedoen om die probleem aan te spreek.
“Veel meer moet egter gedoen word.”
Heck sê die grootte van die land en die uitdagings verbonde aan die oes van indringerbos beteken Namibiërs moet professioneel te werk gaan en “op groot skaal” dink. “Bou ‘n ekonomie van skaal,” het hy gesê.
Volgens Heck beskik Namibië oor 330 miljoen ton indringerbos, wat reeds tussen 26 en 30 miljoen ha landbougrond in beslag geneem het. Dit kan vergelyk word met 28 miljoen sokkervelde.
Indien dit ontgin sou kon word, kan dit tot 6,9 gigawat elektrisiteit opwek, 45 000 werksgeleenthede skep en Namibië help om op nasionale vlak 7 ha landbougrond per kop terug te wen.
“Landbougrond se drakrag het oor die algemeen met 70% verlaag en gemiddeld is die geraakte gebiede se drakrag nou 17 ha per bees, terwyl dit, ná bosuitdunning, 10 ha per bees kan wees. Die verlies aan drakrag kos die land tyssen N$ 1,4 en 1,6 miljard per jaar.
“Terselfdertyd is dié indringerbos dórs en veroorsaak dit enorme evapotranspirasie,” het hy gesê. Heck meen al die water wat só verlore gaan, sou 13 140 Hardapdamme kon vul.
“Bestaande waardekettings vir indringerbos in Namibië sluit in die afkap en sortering van hout, die produksie van houtskool en saamgepersde houtblokke, asook om bosvoer te maak.
“Julle voeg egter nie genoeg waarde tot die produkte by nie en werk nie op ‘n ekonomie van skaal nie,” het hy gesê.
Heck sê op internasionale vlak, soos in Duitsland, bestaan ‘n groot geleentheid vir biomassaprodukte wat Namibië met hul indringerbos kan betree, indien dit ‘n ekonomie van skaal kan hê. Dit sluit in ‘n mark vir houtskerwe, biobrandstof, saamgepersde brandhout, dierevoer, houtskool en biochar.
Hy het gesê dieselfde vraag na biomassaprodukte bestaan onder die Chinese en die Engelse, maar dat niemand tot dusver in die vraag kon voorsien nie.
“Duitsland het ‘n behoefte aan onder meer sowat 300 000 ton houtskerwe per kaar, 20 000 ton houtskool, 12 000 ton brikette en 3 000 ton biochar.
“Veral die vraag na biochar groei omdat dit potensieel in veevoer gebruik kan word, asook om die vrugbaarheid en toestand van grond te verbeter,” het Heck gesê.
Hy sê die vraag na die produkte bestaan, alhoewel die ontwikkeling van die mark afhang of verskaffers soos Namibië die mas sal opkom om dit op groot skaal te kan verskaf.
Heck sê in Europa, en spesifiek Duitsland, sal regerings hul beleide so opstel dat dit klimaatsverhitting voorkom. “Die heffing van belasting op CO²-uitlaatgasse word ernstig oorweeg, wat beteken brandstowwe wat van fossiele gemaak word, sal in die toekoms duurder as Namibiese houtskerwe wees.”
Hy sê boonop kyk verskeie nywerhede daarna om eerder van hernubare energiebronne soos biomassa gebruik te maak en ontslae te raak van fossielbrandstowwe.
“As jy na die wêreldmark vir biomassa kyk, het Namibië ‘n unieke potensiaal. Dis uniek, want julle mag daarvan gebruik maak. Om die waarheid te sê, julle móét daarvan gebruik maak, terwyl ander se hulpbronne baie sensitief is.”
Hy het gesê dit is noodsaaklik dat Namibië sy biomassa op so ‘n wyse oes dat geen skade aan die omgewing aangerig word nie, anders sal dit die einde van dié uitvoere beteken.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie