Biskop uit eie bodem
Biskop uit eie bodem

Biskop uit eie bodem

Talle plaaslike en gelowiges van die buiteland het die naweek op Keetmanshoop byeengekom vir die wyding van biskop Willem Christiaans.
Boet Matthews op Keetmanshoop - Katolieke en ander gelowiges het Saterdag behoorlik die strate oorgeneem met die wyding van die eerste Namibies-gebore biskop in die Keetmanshoop-bisdom.

Hulle het uit verskillende dele van die land gereis om die geskiedkundige gebeurtenis by te woon en hul ondersteuning van die nuwe biskop, Willem Christiaans, te toon.

Die pouslike verteenwoordiger (nuncio) Peter Brian Wells uit Suid-Afrika, aartsbiskop Liborius Nasenda van die Windhoek-bisdom, aartsbiskoppe en priesters uit Angola, Amerika, Rome en Namibië was saam met diakens, broeders, nonne, familielede en vriende in die Keetmanshoop-stadion teenwoordig.

Saterdag 5 Mei is daar op Keetmanshoop geskiedenis gemaak toe Willem Christiaans, die seun van die Namibiese aarde sy posisie as biskop ingeneem het in die stampvol stadion.

Hy vervang die afgetrede Philipp Pöllitzer – oorspronklik van Oostenryk en wat vir meer as 40 jaar in Namibië werksaam was. Die afgelope tien jaar het hy as biskop van die Keetmanshoop-bisdom die wa deur die drif getrek.



Van die gemeentelede het tydens die verrigtinge aan die verslaggewer gesê: “Jy kan maar skryf, ou maat, dat ons hierdie dag nooit, maar nooit sal vergeet nie. Ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal hiervan weet en hulle sal dit weer aan hulle nageslag vertel. Ons het jare op hierdie dag gewag, en nou is dit hande vat en saamwerk om al die pad vorentoe te beweeg.”

’n Ander feesganger het bygevoeg: “Biskop Willem Christiaans het die leisels geneem en dit moet as voorbeeld dien vir andere wat in sy voetspore wil volg. Alle Katolieke asook diegene van ander kerke word gevra om gereeld te bid dat die Here vir Willem Christaans gesondheid en wysheid gee sodat hy as biskop en geestelike leier van die Keetmanshoop-bisdom verder sal groei.”

Die mense het ook benadruk: “Baie belangrik is dat ons gelowiges op ons knieë bly sodat hy in nederigheid en waardigheid sy posisie sal dra. Biskop Christiaans is ’n man wat die bul by die horings pak en verkies om die ding op sy naam te noem. Sy geloof en vertroue om ander te dien en sy God bo alles te kies, sal hom deurdra.”

Biskop Christiaans kom uit ’n gesin van 11 kinders – ses broers en vyf susters. Sy pa, Dawid, is in 2009 oorlede, en sy ma, Magriet, bly nog op Karasburg.

Sy het by navraag gesê: “Dit was vir ons ’n verrassing, maar ons dank die Hemelse Vader vir so ’n voorreg en ’n kind wat as biskop gewy word. Dawid sou vandag baie trots gewees het op Willem se uitstekende prestasie. Maar ek glo hy is in die wolke oor sy seun se welslae.”

Die Christiaans-familie is ‘n gelowige klomp en spog ook met twee skoonseuns, Aubrey Paulse en Petrus Afrikaner, wat albei diakens in die Keetmanshoop-bisdom is. Twee van sy ander susters is getroud met hoofouderlinge van onderskeidelik die Evangeliese Lutherse Kerk en African Methodist Evangelical Church.

'Beskore vir groot dinge'

Die verslaggewer het vir Paulse gevra wat hy dink van sy swaer se posisie as biskop.

“Dit het heeltemal vir sommige as verrassing gekom, maar ek sou sê dat ek nie onkant betrap is nie. Uit die aard van sy ervaring as priester en drie termyne as provinsiale owerste en sy werksaamhede daarna op nasionale en internasionale vlak, het dit my oortuig dat Willem Christiaans beskore is vir groot dinge. In hierdie stadium wil ek net noem hy is nie net die eerste plaaslike lokale biskop van die bisdom nie, maar was destyds ook die eerste provinsiale owerste van sy kloostergemeenskap. Dit was voor die vereniging met hul eweknie van Suid-Afrika. Hy is ’n gerekende en gerespekteerde leier in die breë gemeenskap en gewild by almal met wie hy in aanraking kom. Sy boodskap op Sondae, of wanneer ook al, maak hom een van die voorste predikers van die Katoliekegemeente.”

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer