• Tuisblad
  • Sake
  • Bitcoin haal vir die eerste keer meer as US$4 000
Bitcoin haal vir die eerste keer meer as US$4 000
Bitcoin haal vir die eerste keer meer as US$4 000

Bitcoin haal vir die eerste keer meer as US$4 000

Hanlie Stadler - Die prys van ’n bitcoin het Maandag vir die eerste keer tot meer as US$4 000 gestyg.

Spekulasie in dié virtuele geldeenheid het die prys sedert Vrydag met 15% tot US$4 126,17 per dollar laat spring. Dit beteken die geldeenheid se waarde het vanjaar al met meer as 300% gestyg.

Dit kom nadat ’n plan om vinniger bitcoin-transaksies moontlik te maak, verlede week in werking gestel is. Die hoop is dat dit die gewildheid van die kriptogeldeenheid sal laat toeneem.

Die oplossing – bekend as SegWit2x – behels dat van die blokkettingdata na ’n ander netwerk verskuif word.

Die stap was so omstrede dat ’n groep bitcoin-myners weggebreek het en op 1 Augustus ’n heeltemal nuwe kriptogeldeenheid bekend as Bitcoin Cash begin het.

Arthur Hayes, stigter van die bitcoin-verhandelingsplatform BitMEX in Hongkong, sê aan Bloomberg teoreties kan bitcoin-transaksies nou baie vinniger verwerk word, “so baie mense voel tans baie optimisties oor die bitcoin”.

Omdat daar ’n perk was op die hoeveelheid data wat bitcoin se blokketting kon verwerk, het transaksies mettertyd stadiger geword soos wat bitcoin gewilder geword het.

Fortune berig die perk van 1 MB per tien minute is in 2010 deel gemaak van die bitcoin-kode om te keer dat kuberkrakers die netwerk met derduisende transaksies in duie laat stort.

Die natuurlike styging in die vraag na bitcoins het egter meegebring dat die koste van transaksies verhoog is soos wat mededinging toegeneem het om transaksies te doen.

Ontwikkelaars het verdeel tussen mense wat die SegWit2x-oplossing ondersteun het, en ander wat wou hê die grootte van die blokketting moet selfs vergroot word. Laasgenoemde groep het nou Bitcoin Cash begin.

Bitcoin-transaksies word geverifieer in bondels wat “blokke” genoem word. Die blokke word in stringe saamgevoeg om ’n blokketting te vorm.

Bitcoin-myners kan steeds net 1 MB per tien minute data verifieer weens ’n ingeboude perk in die bitcoin-kode. Dit beteken dit duur tot ses uur om een bitcoin-transaksie te bekragtig.

Bitcoin Cash laat 8 MB per tien minute toe.

Die bitcoin-perk gaan moontlik in November tot 2 MB verhoog word, wat na verwagting wéér groot onenigheid gaan veroorsaak omdat dit selfs kragtiger rekenaars gaan verg om die blokkettings te kan verifieer. Dit gaan meebring dat minder ondernemings dit sal kan doen, wat hulle meer mag sal gee – juis die soort sentralisering waarteen bitcoin-ondersteuners filosofies gekant is.

Slegs 21 miljoen bitcoins kan geskep (oftewel gemyn) word. Teen Saterdag was daar reeds 16,5 miljoen.

Ronnie Moas, ’n navorsingsontleder, het aan Bloomberg gesê dit is juis bitcoin se skaarsheid wat die prys kan opdruk tot selfs US$5 000 in 2018 en tot US$50 000 oor die volgende dekade.

Benewens die sykettings van bitcoin, soos Bitcoin Cash, wat op die been gebring word, is daar tientalle ander kriptogeldeenhede (monero, ethereum, litecoin en ripple, om maar enkeles te noem).

Al hoe meer regerings begin die beheer van virtuele geld ondersoek, onder meer om te keer dat mense hul bates daarin wegsteek van die belastinggaarder en onwettige bedrywighede daarmee finansier.

Die beleggingsbank Morgan Stanley het vroeër vanjaar gesê regulering is juis nodig om aanvaarding van die bitcoin te versnel, waarsonder die waarde nie sal kan aanhou styg nie, berig MarketWatch.

Die ander groot risiko vir kriptogeldeenhede bly kuberkrakers. - Netwerk24/Bloomberg/Fortune/MarketWatch

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!