Blaauwberg kroon topspeenkalfprodusente

Tydens 'n “spogveiling” vir speenkalfprodusente op Grootfontein is verskeie wenners deur Blaauwberg Auctioneers aangewys.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Blaauwberg Auctioneers se jaarlikse reeks speenkalf-veilingkompetisies het Woensdag op Grootfontein afgeskop met altesaam 1 814 stuks vee op die veiling.

Verskeie produsente het geborgde wenpryse en trofeë in verskillende kategorieë ingepalm.

Die voerkraalafdeling se wenner was mnr. Thinus Cronjé, gevolg deur mnre. Piet Nel (tweede) en Faan van der Merwe (derde).

Mnr. Visewako Katjinamunene was die wenner in die kategorie vir veldkalwers, met mnr. Dries Swart in die tweede plek en me. Maryna Ströh in die derde plek. Swart het ook die meeste kalwers op die veiling gehad.

Mnr. Fanna van Wyk het die beste verskalwers op die veiling gelewer.

Hierdie was die eerste van drie speenkalfkompetisies, wat volgende ook tydens die Blaauwberg-veilings van 5 Augustus op Otjiwarongo en daarna op 13 Augustus op Otavi aangebied sal word. Mnr. Piet Schrader, eienaar van Blaauwberg Auctioneers, het aan Republikein gesê hy is baie tevrede met die aanbod en die publiek se ondersteuning van die geleentheid. Hy het gesê die grootste kopers was vanaf Suid-Afrikaanse voerkrale.

Schrader het gesê hierdie is “dié spoggeleentheid van die jaar” vir speenkalfprodusente.



DIE GEMIDDELDE PRYSE

Tydens Woensdag se veiling op Grootfontein, was tollies die grootste groep, met 1 214 van hulle op aanbod.

Tollies ligter as 130 kg het die hoogste prys en die sterkste gemiddelde prys behaal, van onderskeidelik N$43,66 per kg en N$43,90 per kg.

Die tweede hoogste prys van N$43,15 per kg is vir tollies tussen 131 kg en 200 kg betaal. Dié gewigsklas se gemiddelde prys was N$40,86 per kg. Tollies in die gewigsklas 201 kg tot 250 kg se gemiddelde prys was N$36,97 per kg, terwyl die hoogste prys N$39,13 per kg was.

Die verse wat die hoogste gemiddelde prys behaal het (N$39,29 per kg) was in die gewigsklas van 0 tot 130 kg.

Die speenkalwers se gesamentlike gemiddelde gewig was 219,96 kg, met 'n gemiddelde prys van N$7 829 en N$35,59 per kg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer