Blink toekoms wink vir jong sokkerster

Annouscka op pad na VSA
Tanja Bause
Tanja Bause - “Ek wil hard studeer en sokker speel sodat ek vir my ma en suster die lewe kan gee wat hulle verdien.”
So vertel die 19-jarige me. Annouscka­ Kordom wat vanaand na Amerika vertrek waar sy as deel van ’n volle sokkerbeurs vir die volgende vier jaar aan die Corban-­universiteit in die deelstaat Oregon gaan studeer en ook sokker speel.
In die stad Salem begin ’n nuwe hoofstuk in Annouscka se lewe wanneer sy Woensdag met klasse begin en Donderdag vir haar eerste sokkerwedstryd in die VSA vir haar span, die Corban Warriors, teen die Pacific Universiteit uitdraf.
Kordom is in Windhoek gebore en het verlede jaar haar skoolloopbaan aan die Sekondêre Skool Eldorado voltooi.
“Dit is ’n volle beurs en ek kan by die universiteit enigiets van my keuse studeer. Ek gaan gesondheidweten­skap studeer en sokker speel,” het sy glimlaggend vertel.
“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid, maar ook baie bang. Ek gaan my familie baie mis, maar ek gaan om my doel te bereik. Dit is om my ma en my suster die lewe te gee wat hulle verdien; ek wil en sal vir hulle ’n beter toekoms gee.”
Volgens haar ma, Ingrid, is dit ’n groot voorreg om as ’n enkelouer ’n kind soos Annouscka te hê.
“My kind is gekies uit al die kinders in die land en sy is ’n kans gegee om vir haarself ’n beter toekoms te kan skep. Ek en my suster het haar van 2012 aangemoedig, want ons het gesien dat haar toekoms in sokker is. Terselfdertyd het ons haar ook baie gedruk sodat haar akademiese prestasies nie daaronder ly nie. Sy het die balans tussen sport en opvoeding gevind,” het Ingrid gesê.
“Jy moet nooit dat jou omstandig­hede jou definieer nie. Jy moet 100% gee in alles wat jy doen. Kyk na my, ek het nou hierdie wonderlike geleentheid gekry om my en my familie se lewe te kan verander. Ek, soos talle ander kinders in Namibië, kom uit ’n enkelouer-huis. Hoewel my ma vir ons alles in haar vermoë gedoen het, het ons baie swaar en arm groot­geword,” het Annouscka gesê.
Volgens haar het sy baie vriendskappe eenkant geskuif om aandag aan haar sport en opvoeding te gee.
“Ek het tussen seuns grootgeword. Wanneer hulle sokker gaan speel het, het ek saamgegaan en saamgespeel. Dit is waar my liefde vir die sport baie jare gelede begin het.”
In 2009 het ’n onderwyseres haar belangstelling in die sport gesien en haar by die Galz and Goals-program ingeskryf. Die program word deur die Namibiese Sokkervereniging (NFA) gedryf. Meisies onder die ouderdom van 17 uit die hele land neem in ’n liga teen mekaar deel.
In 2010 het Annouscka op die ouderdom van 13 jaar as lid van die nasionale onder 16-vrouesokkerspan in Suid-Afrika aan die Hesequa-toernooi deelgeneem. Namibië het dié ­toernooi gewen. Twee jaar later het sy vir die onder 17-span teen Suid-Afrika­ uitgedraf en ook haar buiging in die onder 20-span teen Ghana gemaak.
“Die volgende jaar het baie goed vir my begin toe ek op 16-jarige ouderdom vir die senior nasionale span gekies is. Ek het Namibië in Lesotho verteenwoordig en ’n vriendskaplike wedstryd in Windhoek teen die Westphalia-klub uit Duitsland uit gespeel,” het Annouscka vertel.
Sy het Namibië drie keer in ­Duitsland verteenwoordig en ook teen talle Duitse vrouesokkerklubs gespeel.
Sy het ook in Spanje aan ’n toernooi deelgeneem waar Namibië vierde uit die ses deelnemende spanne geëindig het.
“Die beste wat nog met my gebeur het, was toe ek vir die span gekies is wat aan die Afrika Vroue-kampioen­skappe in Namibië deelgeneem het. Ek het my debuut teen Nigerië in dié toernooi gemaak en dit was baie opwindend.”
In 2016 het sy haar land in twee wedstryde teen Zambië verteenwoordig, totdat sy in Mei deur die NFA gekontak is oor die studiebeurs in Amerika.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!