Blitse sak terug op puntelys
Blitse sak terug op puntelys

Blitse sak terug op puntelys

Sewesrugby
George Germishuys - Engeland het weer 'n bronsmedalje voor die Blitsbokke se neuse weggeraap. Die Rose het die bronsmedalje-uitspeelstryd by die Singapoer-sewes met 26-24 gewen nadat swak dissipline en gebrekkige lakwerk die Blitsbokke duur te staan gekom het.

Die nederlaag beteken ook dat Fidji (die uiteindelik toernooiwenner) Suid-Afrika op die internasionale sewesreeks se puntelys verbysteek.

Dit was weer 'n geval van goed begin, maar later stoom verloor vir die Blitsbokke.

Muller du Plessis het die eerste drie vir die Blitsbokke gedruk ná vlugvoetige werk langs die kantlyn. Cecil Afrika het die Blitsbokke se tweede gaan druk, maar hy het die doelskop reg voor die pale verbrou.

Engeland het kort daarna toegeslaan toe Charlie Hayter deur baie effense verdediging van die Blitsbokke gesny het om die telling 10-5 te maak.

Du Plessis het van held na skurk gegaan toe hy met 'n geelkaart afgestuur is vir 'n professionele oortreding. Engeland het die voordeel vinnig uitgebuit toe Ruaridh McConnochie oorgeduik het.

Tom Mitchell het diep in die eerste helfte se beseringstyd 'n langafstand-beweging gaan afrond, ook te danke aan nog powere lakwerk deur Suid-Afrika. Engeland was teen rustyd 19-10 voor, maar Stedman Gans het toegesien dat die Blitsbokke eerste toeslaan in die tweede helfte.

Werner Kok het enkele sekondes later sy span die voortou laat neem met sy drie.

Só maklik sou 'n oorwinning egter nie vir die Blitsbokke wees nie. Engeland het swak verdediging deur Du Plessis uitgebuit en Dan Norton het onder die pale gaan druk om die telling 26-24 te maak.

Suid-Afrika het een laaste kans gehad om die toernooi in die derde plek af te sluit, maar dit het op 'n hanteerfout naby Engeland se doellyn geëindig. Die Blitsbokke het daarmee saam hul voorsprong op die internasionale sewesreeks se puntelys prysgegee.

Fidji (145 punte) neem die voortou oor by Suid-Afrika (141), gevolg deur Nieu-Seeland (120) en Australië (108). - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!