Blitstoetse nie vereiste vir toegang

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Blitstoetse is nie tans ’n vereiste vir toegang tot Namibië nie. Daar is ook nie oorweging daarvoor vir die toekoms nie.
So het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, gereageer op gerugte dat toeriste vanaf 1 Desember buiten die uitslag van’n negatiewe PCR-toets ook ’n negatiewe blitstoets sal moet wys.
Deel van die gerugte is ook dat ’n tender vir blitstoetse glo reeds aan ene Babyface, die sakevennoot van die eggenoot van die uitvoerende direkteur in die ministerie, mnr. Ben Nangombe, toegeken is. Dié man ondervind na bewering tans finansiële probleme.

“Dié gedwonge toetse sal beteken die geld vloei in. Dit sal ’n dodelike hou vir die hele toerismebedryf wees wat nou net begin het om sy kop op te tel, maar hulle gee nie om nie. Skuil agter Covid om hulself te verryk en die Namibiese werkers in toerisme sal die prys betaal,” lui die boodskap wat wyd in die sosiale media versprei is.

Nangombe het dit by navraag ontken.

“Die ministerie het nié ’n tender vir so iets toegeken nie, nog is ’n tenderproses hiervoor aangekondig,” het hy gesê.

Shangula was dit ook eens die feit dat blitstoetse nie ’n vereiste is nie, “alle vrae verwant tot die kwessie beantwoord”.

Me. Gitta Paetzold, uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), het in reaksie gesê dit wil voorkom of toetse met aankoms ’n voorstel deur konsultante van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is om te verseker Namibië “voer nie gevalle in nie”.

Sy het beklemtoon dit is “tot dusver net ’n idee wat deeglike konsultasie vereis”.

Sou ’n bykomende negatiewe blitstoets ’n vereiste word, sal dit egter ’n groot struikelblok vir die land se toeristebedryf wees, het Paetzold gesê.

“Ons bedryf het die afgelope drie maande relatief goed gedoen, met ’n goeie aantal toeriste wat ingevlieg het. Ons besettingsyfers lyk ook belowend.”

Volgens haar het toeriste se besoek aan die land “geen impak” op Namibië se Covid-19-syfers gehad nie.

“Om nou nóg ’n toets bo-op die reisvoorwaardes en PCR-toets te sit, gaan ons regtig terugsit. Dit in ’n tyd waar Suid-Afrika en Zambië hul reisbeperkings verslap.”

Zambië het ’n verlaging in fooie vir toeristevisums vanaf Januarie aanstaande jaar aangekondig om die herstel van dié land se toerismesektor ’n hupstoot te gee. Visumfooie vir alle kategorieë is met 50% verlaag.

Vir toegang na buurland Suid-Afrika word sedert 22 Oktober ’n negatiewe uitslag vereis wat ’n PCR- of ’n blitstoets kan wees.

Nangombe het in Februarie vanjaar gesê net blitstoetse wat vir gebruik in Namibië geverifieer is en aan minimumvereistes voldoen, sal in die land gebruik word.

In ooreenstemming met regulasies van WHO moet die toetse gebruik word vir simptomatiese individue, sowel as asimptomatiese en hoërisikopersone wat in die laaste 14 dae in noue kontak met 'n Covid-19-pasiënt was. Hy het gemaan blitstoetse verskaf slegs 'n aanvanklike toetsuitslag en ’n negatiewe uitslag skakel nie noodwendig 'n moontlike infeksie uit nie.
Plaaslik kan blitstoetse gebruik word in dele van die land waar PCR-uitslae weens lang afstande vir die vervoer van die weefselmonsters vertraag word.

Dit kan ook gebruik word in die toetsing van pasiënte wat noodoperasies moet ondergaan of waar 'n noodbehoefte opname vir dringende sorg in 'n intensiewesorgeenheid (ICU) bestaan.

Die blitstoetse sal ook by grensposte gebruik kan word waar mense simptome toon. In Junie het die Nasionale Instituut vir Patologie (NIP) ook met antigeen-blitstoetse begin, terwyl die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) in dieselfde maand opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel het.

Die raad het gesê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s) het ’n laer sensitiwiteit in vergelyking met PCR-toetse getoon en is meer geneig om vals-negatiewe uitslae in individue met ’n lae virale lading te wys.

Alle Covid-blitstoetse, hetsy plaaslik vervaardig of ingevoer, moet verifiëring deur ’n plaaslike geakkrediteerde laboratorium ondergaan wat PCR-toetse uitvoer. Die uitslae van die verifiëring sal bepaal of goedkeuring verleen word al dan nie. Die goedkeuring van enige blitstoets kan opgehef word, sou daar nie aan die voorwaardes voldoen word waaronder dit uitgereik is nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!