Bloedbad op wêreldmarkte stol 'n bietjie
In die buurland het maatskappye se aandele ná weke se gesukkel weer begin verhandel soos 'n meer normale dag.
William Horne
Stimuluspakkette blyk hul werk te doen soos wêreldmarkte vir die eerste keer in weke weer hul kop bo water begin kry het.
Die JSE se indeks van alle aandele het Dinsdag 7,53% hoër gesluit op 41 149,35 punte, in pas met talle ander aandelemarkte wêreldwyd.
Dit is egter steeds byna 30% laer as die 57 335 punte van 21 Februarie voordat markte in duie begin stort het op die rug van die Covid-19-pandemie.
Maar ontleders begin nou dink meeste van die onstuimigheid is dalk agter die rug.
Bloomberg berig dat aandele in die VSA Dinsdag met 5% gemiddeld gestyg het op die nuus dat die Amerikaanse regering se ongekende US$1 000 miljard stimuluspakket na aan goedkeuring staan.
In Kanada het die S&P/TSX indeks met soveel as 7% gestyg soos ingryping deur die regering te midde van die Covid-19-uitbreking ook daar begin werk het.
Plaaslik het maatskappye se aandele na weke se gesukkel weer begin verhandel soos 'n meer normale dag.
Die grootste verlies was MultiChoice wat met 6,49% tot R83,13 gedaal het. Die meeste ander aandele wat in die toptien-verloordersgroep was vir die dag, het egter slegs tussen 1% en 3% gedaal.
Die JSE se top-40 indeks het die dag afgesluit met 'n styging van 8,23% tot 37 550,72.
Van die grootste wenners Dinsdag op die JSE was myne. Sibanye-Stillwater het die grootste styging gehad vir die dag en 21,38% hoër gesluit. Ander mynmaatskappye wat goed gevaar het was Impala Platinum en Anglo American, wat albei met meer as 15% gestyg het.
Bloomberg berig die stimuluspakkette wat regerings wêreldwyd aanbied is besig om beleggersentiment aan te spoor, veral ten opsigte van goud en silwer. Die goudprys het Dinsdagoggend met ongeveer 3% gestyg en 'n beduidende hupstoot aan mynmaatskappye internasionaal gegee.
Selfs die rand het Dinsdag sterker gesluit.
Teen 18:30 het 'n dollar R17,53 gekos, 1,4% sterker as Dinsdagoggend se R17,77.
Bianca Botes van Peregrine Treasury Solutions sê Dinsdag in 'n nota dat selfs die regering se aankondiging Maandagaand van 'n staat van inperking nie die rand werklik geroer het Dinsdag nie en markte algeheel ietwat meer stabiel begin lyk het.
Michael Arbuthnot, ontleder van Catalyst Fund Managers, skryf Dinsdag dat beleggers moet onthou markte gaan beslis herstel, indien hulle nie reeds begin nie.
“Ons het empatie met kliënte wat oornag dramatiese verminderings in hul aftreespaargeld gesien het die afgelope tyd. Maar op lang termyn besef ons egter ook dat kwaliteitbates en -maatskappye betyds sal herstel.”
Volgens Andrew Dittberner, hoof beleggingsbeampte van Old Mutual, moet beleggers nou 'n perspektief aanneem dat die “Covid-19-pandemie tydelik is”.
“Deel daarvan is om geduldig te wees en te wag dat die daling in markte stop en dan gereed wees om op te tree wanneer markte weer stabiel is.”
Nigel Barnes, hoof van besigheidsontwikkeling van Denker Capital, skryf Dinsdag in 'n nota die tekens dat die markte nou stabiliseer en die ongelooflike diskonto's waarteen aandele en effekte aangeskaf kan word, eintlik op 'n enorme geleentheid dui.
Intussen het pres. Cyril Ramaphosa ook plaaslik ondersteuning vir die mark aangekondig.
Die Werkloosheidsversekeringsfonds gaan op groot skaal ingespan word om ontwrigte bedrywe se werkers en werkgewers te ondersteun, verskeie noodfondse is beskikbaar gemaak, betaalvakansies is met banke onderhandel en 'n solidariteitsfonds is aangekondig om die Covid-19-virussiekte plaaslik in bedwang te bring deur middel van belastingafskryfbare donasies.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie