Bloedige boedeltwis oor miljoene stu voort
Bloedige boedeltwis oor miljoene stu voort

Bloedige boedeltwis oor miljoene stu voort

’n Bekende Rehoboth-dokter se weduwee en kinders sê mekaar opnuut die stryd aan.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die bloedige erftwis, waarin ’n bekende Rehobothse arts, wyle dr. Franz Stellmacher, se weduwee en kinders gewikkel is, is Vrydag weer eens op die spits gedryf.

In die jongste kinkel in dié kabel vra me. Ute Stellmacher en haar ma, Fawzia, die hof om die boedel se eksekuteur te dwing om toegang tot ’n plaas en besit van ’n aantal beeste, wat daarop wei, aan haar te herstel.

Dr. Golda Stellmacher, ’n bekende Windhoekse uroloog en een van Ute se vier sibbe, is die eksekuteur.

Dié drie Stellmacher-vroue en die jongste spruit, Zia, is die trustees van die Stellmacher-trust.

In hofstukke sê Ute oorlede Franz het in sy jongste testament al sy kontant, kontantbeleggings, huisraad, voertuie, juweliersware en meubels aan sy vrou bemaak.

Franz se wens was dat die oorblywende gedeelte van sy boedel, wat roerende en onroerende bates insluit, in die Stellmacher-trust gestort word.

Ute sê voorts die manier waarop Golda die bestorwe boedel bestuur, en haar voortgesette rol as eksekuteur wek kommer.

Sy en haar ma wil daardie verantwoordelikheid teenstaan.

“Daarom, en om die minste te sê, is daar tans ’n redelike hoeveelheid ontevredenheid en onderlinge vetes tussen die partye.”

Dít het daartoe gelei dat die verhouding tussen hulle ten volle verbrokkel het, sê Ute.

Reeds in 1991 het hul bekende pa ’n plaas, Brakkom, in die Rehoboth-distrik op haar naam oorgedra, sê Ute, ’n rekenmeester by ’n bekende Namibiese winkelgroep.

Dié plaas grens aan Groendoorn, die spilpunt van die huidige debakel.

Franz het egter tot met sy dood voortgegaan om op Brakkom en Groendoorn te boer, sê sy.

Ten tyde van Stellmacher se dood in 2016 was daar ’n paar honderd beeste, perde, muile en bokke op dié plase.

Die dokter het eweneens plase aan Golda en Zia geskenk terwyl hy nog geleef het, al het hy ook op dié stukke grond aanhou boer.

Op grond van die egpaar se huwelik buite gemeenskap van goedere het Fawzia haar eie rykdom opgebou, sê Ute.

Sy besit byvoorbeeld self “in haar eie reg” verskeie plase en lewende hawe.

Op haar beurt betwis Golda dat hul oorlede pa in 2012 ’n ooreenkoms met hul ma gesluit het ingevolge waarvan alle verskalwers van Franz se koeie Fawzia s’n sou word.

Om haar punt te staaf, het sy ’n beëdigde verklaring van ’n ander sussie, Rosa, aan haar stukke geheg.

Rosa, wat in daardie stadium die plaasbestuurder was, sê sy dra geen kennis van sodanige ooreenkoms nie.

Twee maande nadat Franz dood is, het die partye vergader om onder meer die bestuur en instandhouding van die trustbates en verskeie plaaseenhede onder die loep te neem.

Omdat die knellende droogte toe reeds sy tol op die tersaaklike plaaseenhede geëis het, het hulle ooreengekom 135 beeste moet na een van Fawzia se plase verskuif word.

Dié grond, Hamis, het toe darem ’n bietjie reën ontvang.

Die grootvee sou daar wei tot hul toestand verbeter het, waarná hulle van die hand gesit sou word.

Hulle het voorts besluit 121 beeste moes dadelik op ’n veiling verkoop word.

’n Verdere 50 beeste van die Angus-stoet is elders gehuisves.

Ute sê ’n onbekende aantal beeste was egter só wild dat hulle nie gevang kon word nie en het aanhou wei op Brakkom.

Sy moes toe op eie onkoste na die welstand van dié onbekende aantal wilde diere omsien.

Daar het glo dadels gekom van ’n versoek van Golda in Februarie verlede jaar, waartydens hulle sou ontmoet om die beeste te tel.

“Met dit in gedagte het ek voortgegaan om op my eie onkoste na die beeste om te sien en hulle toegelaat om op my plaas te wei,” sê Ute.

Sy moes ook pa staan vir alle uitgawes rondom die beeste se versorging, sê Ute.

Daarvoor soek sy N$150 per bees per dag van 1 Maart 2017 tot 19 September 2018 ten opsigte van nagenoeg 93 beeste.

Republikein se berekeninge bring dié som op N$7,9 miljoen te staan.

Teen Oktober verlede jaar is die weiding op Brakkom sodanig uitgeput dat die beeste met ’n groot gesukkel Groendoorn toe oorgejaag moes word.

Haar plaaswerkers het sedertdien seker gemaak die diere het genoeg water om te drink en het die kampdrade herstel, voer Ute aan.

Op 5 Januarie vanjaar moes sy en haar man hulle na die kamp haas nadat ’n plaaswerker haar oor die teenwoordigheid van ’n onbekende trok ingelig het, sê Ute. Hulle was aanvanklik bang veediefstalsindikate was daar doenig.

Later het hulle uitgevind die trok het op Golda se bevel lek vir die beeste en plaaswerkers afgelaai om na die beeste om te sien.

Op pad plaas toe het hulle vir Golda teëgekom en tydens ’n rusie tussen die twee sussies het Ute gehoor Golda het die hek tussen Brakkom en Groendoorn gesluit en haar toegang tot laasgenoemde en die beeste verbied.

Golda lag die meeste van die beweringe in haar eedsverklarings af.

Ajdunk-regter-president Hosea Angula het onderneem om op 15 Februarie uitsluitsel oor die saak te gee.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!