Bloedige naweek eis 25
Augetto Graig
Minstens 25 mense is die afgelope langnaweek op Namibiese paaie dood.
Die feesseisoen het op ‘n grusame noot begin toe drie voertuie Vrydag omstreeks 04:00 sowat 14 km noord van Okahandja op pad na Otjiwarongo in ‘n ongeluk betrokke was. Een van twee minibustaxi’s wat in die ongeluk betrokke was, het aan die brand geslaan asook ‘n sedanvoertuig.
Accidents in Namibia en die Marshall Rangers het aanvanklik vanaf die toneel berig dat 13 mense in die ongeluk omgekom het. Later het die Namibiese polisie (Nampol) bevestig 15 mense is dood, en is onherkenbaar verbrand; 14 van die Quantum-bus, en een persoon van die sedanvoertuig.
Die sedanvoertuig wat in Okahandja se rigting op pad was, het na bewering die ongeluk veroorsaak nadat hy ’n erdvark getref het. Dié voertuig het glo die aankomende minibus se sleepwa raakgery en ’n aankomende bussie kop teen kop getref.
Volgens die polisiewoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, moet die oorskot van die slagoffers deur ’n forensiese proses gaan om geïdentifiseer te word en dit kan nog ’n rukkie neem. Net twee mense in die taxi het oorleef. Volgens die polisie was die minibus se passasiers glo op pad na ’n begrafnis terwyl die ander vir die langnaweek weggegaan het.
Drie mense het vroeër dieselfde dag suid van Okahandja omgekom toe ‘n bakkie kop teen kop met ‘n sedanvoertuig gebots het. Volgens die polisie is mee. Engenesia Tjipitua (51), Petorua Tjipitua (25) en Uvanga (3) in die ongeluk dood wat omstreeks 20:50 plaasgevind het. Die bestuurder van hul voertuig het kopbeserings opgedoen, en die ander voertuig se bestuurder is nie ernstig beseer nie.
Donderdag omstreeks 22:00 het mnr. Petrus Tulonga Inkono (31) beheer oor sy voertuig op die Ondangwa/Omuthiya-hoofpad tussen Oniimbwele en Iihwali verloor, en teen ’n vragmotor gebots. Inkono en sy passasier, mnr. Nehale Gebhard, het in die ongeluk omgekom.
Vrydagoggend is nog ’n persoon dood toe ’n minibus se band omstreeks 04:44 op die Otjinene-pad in die Omahekestreek gebars het. Die bus het gerol en een passasier is dood terwyl 11 matig tot ernstig beseer is.
Dieselfde dag sowat 5 km buite Outjo op die Okaukweyo-pad is mnr. Victor Gaeseb (30) op slag dood ná hy beheer oor sy voertuig verloor en dit gerol het.
’n Kop-teen-kop-botsing het Vrydag omstreeks 20:30 oorkant die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel se kantoor op Katima Mulilo plaasgevind. Mnr. Nuyoma Theodore (27) is in die ongeluk dood.
Saterdag omstreeks 23:00 op Ariamsvlei sowat 20 km op die grondpad na Komsberg is mnr. Gayno Jass (28) – die bestuurder – in ’n kop-teen-kop-botsing dood. Altesaam agt passasiers is ernstig in die ongeluk beseer, en hulle is saam met een lig beseerde persoon na die Karasburg-staatshospitaal vir behandeling geneem.
Die 10-jarige Nikodemus Kotokeni Nefungo is naby Okatope by die Oyovu-nedersetting in Omuntele dood ná sy donkiekar ’n hekpaal getref en omgeval het. Hy is op slag dood. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie