Bloedige warm naweek op pad
Geen verligting van snikhete temperature word binnekort verwag nie, en kenners sê dié weerstoestande herinner aan wintertye.
Elvira Hattingh
Die weerkantoor waarsku Namibiërs moet hulself vir 'n bloedige warm naweek staal, met min kans op verligting binne die volgende dae.
Tog word enkele donderbuie ook van vandag af oor die Otjozondjupa-, Khomas- en Omahekestreek verwag.
Die Namibiese weerkantoor het Woensdag bevestig Namibië is amptelik in die greep van 'n hittegolf vasgevang, en bygevoeg dié greep gaan nie vandag oor die Namibiese binneland verslap nie.
Mnr. Odillo Kgobetsi, hoofweervoorspeller by die Namibiese weerkantoor, sê omdat maksimum temperature oor die afgelope vier tot vyf dae reeds op die meeste plekke in die land tussen 37 °C en 40 °C is, kwalifiseer dit as 'n hittegolf.
Hy sê dít is met die uitsondering van hoogliggende sentrale gebiede soos Windhoek, waar maksimum temperature tot dusver nie 36 °C oorskry het nie.
Sentrale kusgedeeltes sal na verwagting ook vandag gedeeltelik bewolkte, maar báie warm weer ervaar, terwyl die res van die kus aanvanklik mistigheid kan ervaar, wat later vervang kan word met bewolkte en koel tot warm weer.
“'n Bietjie goeie nuus is die voginhoud in mid-atmosferiese vlakke verhoog tans. Vandaar die reën wat op plekke vir vandag voorspel word,” het Kgobetsi gesê.
Mnr. Mike Berridge, 'n weerkundige, het intussen ook op Weather Today – Southern Africa geskryf afgesien van die bloedige temperature is die huidige weerpatroon soortgelyk aan wintertoestande, wanneer 'n oorhoofse hoëdrukstelsel homself stewig oor die suidelike vasteland vestig en kalm, sonnige toestande meebring, behalwe in die Suid-Kaap.
“Hierdie stelsel is die hoofoorsaak van die warm, droë, wolklose dae, met die windstelsel wat die inbeweeg van vog en kouefronte blokkeer. Ons sien dit nou in die somer. Dit keer dat enige vog kan inbeweeg. Boonop vang dit lug daarin vas, wat deur die bloedige somerson verhit word – slegs vyf weke voor die middel van die somer,” het hy gesê.
VERWAGTE TEMPERATURE
Vandag sal Ondangwa die heel warmste plek in Namibië wees met 'n verwagte maksimum van 41 °C.
Kort op dié dorp se hakke is Buitepos, Eenhana, Katima Mulilo, Khorixas, Mariental, Omaruru, Omuthiya, Opuwo en Oshakati met 'n verwagte maksimum temperatuur van 39 °C.
Kusdorpe uitgesluit, word daar vir geen Namibiese dorp 'n maksimum temperatuur onder 36 °C voorspel nie.
'n Maksimum temperatuur van 38 °C word op onder meer Aroab, Aranos, Gobabis, Grootfontein, Karasburg, Keetmanshoop, Maltahöhe, Nkurenkuru, Okahao, Okaukuejo, Okongo, Otjinene, Otjiwarongo, Outapi, Sesfontein en Tsumkwe verwag. Windhoek se voorspelde minimum en maksimum temperature vir vandag is 22 °C en 36 °C.
Op die Facebook-groep “Reën in Namibia” het Namibiërs Dinsdag van oraloor die land laat weet die kwik styg hóóg. Me. Sarah Roos het gesê op die Brandberg White Lady Lodge meet hulle al vier dae lank 'n maksimum temperatuur van 42,7 °C.
Mee. Jaenette Hough Meyer en Lien Kostens het laat weet op Usakos en Omaruru is dit ook 42 °C.
'n Temperatuur van 39 °C is op Keetmanshoop en Mariental gemeet, met ander wat sê die kwik het op 40 °C op plekke soos Ondangwa en Stampriet gedraai.
Daarteenoor was Rehoboth en Windhoek se maksimum temperatuur 'n “koel” 34 °C. Kusgedeeltes was ook heelwat koeler en me. Remona van Litzenborgh het laat weet op Hentiesbaai het die temperatuur op 22 °C gestaan.
TREF VOORSORG
Mayo Clinic, 'n reuse- niewinsgewende akademiese mediese sentrum in Rochester, Minnesota, meen baie jong of ou mense, mense met harttoestande, diabetes en asma moet op hitte-uitputting en sonsteek bedag wees.
“Dit kan met krampe begin en vinnig in hitte-uitputting en sonsteek ontaard, wat beteken jou liggaam verloor die vermoë om sy temperatuur te reguleer en af te koel,” sê Mayo Clinic se dr. David Claypool.
Hitte-uitputting kan lewensgevaarlik wees.
Simptome sluit in koors bo 40 °C, verwarring, 'n sleeptong, warm en droë vel, óf kwaai sweet, braking en hiperventilasie.
Ouer mense kan flou raak. In so 'n geval moet die persoon onmiddellik so goed as moontlik mediese sorg ontvang. Namibiërs moet onthou om gereeld genoeg vloeistowwe in te neem en nie te veel fisieke oefening of veeleisende werk te doen nie.
Voorsorg moet vir troeteldiere getref word en hulle moet nie in voertuie gelos word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie