Bloedneus vir opdrag oor lughawe-tender
Ronelle Rademeyer en Jessica Botes - Die Chinese maatskappy wat die regering hof toe gesleep het vir die kansellering van die tender van nagenoeg N$8 miljard vir die opknapping en uitbreiding van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, het ’n oorwinning in die hoërhof behaal.
Regter Shafimana Ueitele het Vrydag in die guns van Anhui Foreign Economic Construction Cooperation (AFECC) beslis en gelas dat die regering se besluit ter syde gestel geword.
Die dringende aansoek oor die tender van miljarde Namibiese dollar vir die omstrede opgraderings aan dié lughawe wat verlede jaar deur die regering gekanselleer is, het in Februarie in die hoërhof gedien.
Kort nadat die tender van U$477, 9 miljoen (nagenoeg N$8 miljard) op 3 Desember 2015 aan dié maatskappy toegeken is, het pres. Hage Geingob op 22 Desember 2015 ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy vir mnr. Alpheus !Naruseb, die minister van werke en vervoer, aangesê het om die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) opdrag te gee om “al sy aktiwiteite” rakende die opgradering van die lughawe te staak.
Ueitele het bevind dié opdrag was onwettig en gevolglik ongeldig en moet daarom ter syde gestel word.
Die opdrag is verlede jaar gegee nadat klagtes oor die tender ingedien is en die kabinetskomitee vir handel en ekonomiese ontwikkeling deur Geingob aangesê is om ondersoek in te stel.
Die komitee het bevind dat verskeie maatskappye wat op die NAC se tenderuitnodiging gereageer het, benadeel kon gewees het.
Geingob het gesê die proses moet van voor af onder die toesig van dié ministerie en kragtens die Wet op Staatsbesteding aangepak word. Sodoende sal dit volgens hom as ’n regeringsprojek deur die korrekte, voldoende en deursigtige tenderprosedures gaan.
Luidens die beëdigde verklaring deur mnr. Yu Xiaofeng wat as die maatskappy se verteenwoordiger in Namibië aangewys is, het Geingob die AFECC se regte ondermyn en nie aan die oppergesag van die reg voldoen nie. “Die president se opdrag aan !Naruseb moet ook onwettig verklaar word, omdat hy nie onder die gemenereg of enige ander wet gemagtig is om in die sake van die NAC betrokke te raak nie. Dít val slegs binne die bestek van die minister wat namens die regering optree, om dit te doen,” lui Yu se verklaring.
Geingob was betrokke
Boonop het Yu beweer dat !Naruseb Geingob in sy destydse hoedanigheid as eerste minister, asook voormalige president Hifikepunye Pohamba, te alle tye by die tenderproses betrokke was. Hulle het ook toesig gehad oor die uiteindelike besluit om met die projek voort te gaan.
Die regering se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het destyds betoog dat Yu kragtens die nuwe reëls van die hoërhof nie wetlik gemagtig is om AFECC, wat geen teenwoordigheid in Namibië het nie, te verteenwoordig nie.
Namandje het betoog dat AFECC ook versuim het om ’n prima facie-saak te maak vir die tweede deel van sy aansoek dat die besluit om die tender te kanselleer, hersien en ter syde gestel moet word.
Adv. Nazeer Cassim, wat AFECC verteenwoordig het, het betoog die aansoek moet slaag op grond daarvan dat die president wederregtelik met die toekenning van die NAC se tender ingemeng het. Volgens hom is die tenderooreenkoms tussen AFECC en die NAC onderteken en het die regering en die president dus geen reg gehad om dit te kanselleer nie.
Hy het betoog die regering sou net geregtig wees om met die tender in te meng indien nasionale veiligheid betrokke is of om ’n internasionale verpligting van die staat na te kom. Dit was volgens hom nie met dié tender die geval nie.
Ueitele het verder gelas dat die minister en die president, as die eerste en tweede respondent, die aansoeker se koste moet betaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie