Bloem-stadsaal word tot sy volle glorie herstel
Manguang se burgemeester sê die gebou is vir R200 miljoen verseker, maar dit is nie die bedrag wat die herstelwerk uiteindelik gaan kos nie.
Marietjie Gericke
Die historiese Bloemfonteinse stadsaal sal teen die einde van volgende jaar tot sy volle eertydse glorie herstel wees nadat dit in Junie verlede jaar in ’n betoging van werkers van die vakbond Samwu afgebrand is.
Olly Mlamleli, Mangaung se burgemeester, sê as sy na die afgebrande stadsaal kyk, raak sy so emosioneel dit voel vir haar asof sy na die lyk van ’n naasbestaande kyk.
Sy sê egter mense moenie bekommerd wees nie. Daar is reeds met die proses begin om die pragtige sandsteen-juweel ten volle te herstel.
Sy het Woensdag saam met haar senior bestuurslede, asook Anton Roodt van Roodt Argitekte en sy bekwame span, die media op ’n besigtigingstoer in die gebou geneem.
Mlamleli sê mense moenie dink dat daar nog niks gebeur het nie. “Die gebou is binne skoongemaak en die argitek en sy professionele span het fyn navorsing in elke vertrek gedoen om te sien wat alles gedoen moet word en watter materiaal nodig gaan wees.”
’n Hele boek is saamgestel van al die materiaal en hoeveel daarvan nodig gaan wees.
“’n Professionele plan moes in die fynste besonderhede opgestel word om vir die kontrakteurs te kan gee. Die professionele werk wat hier gedoen moet word, neem tyd, want dit is ’n erfenisgebou.”
Mlamleli sê die gebou is vir R200 miljoen verseker, maar dit is nie die bedrag wat die herstelwerk uiteindelik gaan kos nie. “Die projek is in die hande van die versekeraars en voorkeuraankopeprosesse sal gevolg word om die regte materiaal te bekom.”
Roodt sê in dié stadium lyk dit asof al die materiaal in Suid-Afrika bekom sal kan word, behalwe die dakteëls wat dalk van Italië af ingevoer sal moet word.
HISTORIES
Hy sê lede van die Britse koningshuis sal, soos met hul besoek in 1947 aan Bloemfontein, weer teen laat volgende jaar in die historiese Bloemfonteinse stadsaal kan kom dans wanneer dit ten volle tot sy eertydse glorie herstel sal wees.
“Met daardie koninklike besoek aan Bloemfontein het sommige mense pienk linte en ander groen linte gedra sodat hulle beurtelings kon dans, omdat die reusedansvloer te klein was vir almal om terselfdertyd te dans.”
Hout wat in die stadsaal gebruik is, moes weggestuur word om ontleed te word. “Die dansvloer was van Karri-hout vervaardig en die vensterrame van Birmaanse kiaathout, sê Roodt.
“Daar moes ook na die lugversorgers gekyk word en kundiges se hulp moes hiervoor ingeroep word. Asbes is in van die vertrekke gevind wat op die korrekte wyse verwyder moes word sodat dit nie ’n gesondheidsrisiko inhou nie.”
Roodt sê daar moes na die fynere besonderhede van duisende klein afwerkings gekyk word, soos die deurhandvatsels, sodat alles presies in die oorspronklike vorm herstel kan word.
Hy sê ’n kosteberaming behoort op 18 Julie beskikbaar te wees.
“Omdat dit te duur sal wees om eers ’n tydelike dak op te sit, gaan dit nie gedoen word nie. Maar die opsit van die dak gaan voorkeur kry. Die plafon, wat nou heeltemal weg is, sal ook vervang moet word met presies dieselfde ligte wat daar gehang het.
“Ons wil die erfenisgebou so na as moontlik aan die ware Jakob herstel,” sê Roodt. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie