Blomme
Blomme

Blomme

Minette Brink
As daar een ding op hierdie aarde is, buiten gewig verloor, waarmee ek regtig sukkel, is dit die koop van ’n geskenk.
Ek kry dit net nie reg nie. Ek glo nie in ’n "voucher" nie. As ek nie van iemand hou nie, dan sê ek dit. Ek hou daarvan om iets te koop wat by elke individu se menswees pas.
Dit help nie jy koop ’n ding wat die volgende dag in ’n kas, onder die bed of in ’n laai gaan opeindig nie. Maar ek sukkel. As ek wel iets gekry het wat ek dink "nice" is, het iemand anders dit reeds gekoop of dit pas nie. Ek is klaar gesukkel. Ek het genoeg gehad. Ek gaan nie my slaap verminder oor ’n persent nie.
Deur al die jare van sukkel het ek ’n stelsel uitgewerk, ’n tipe formule. En nog nie een keer het dit my in die steek gelaat nie. Vrouens kry blomme, "handwash", kerse, ’n serp of ’n dagboek waarin daar gewoonlik "nice poems" of "quotes" is. Mans kry biltong, sokkies, ’n CD of ’n lekker olyfolie. Die dae van rondry, vir ure voor rakke staan, pryse vergelyk, sielkundige ontledings doen, of probeer onthou hoe groot iemand se middel is, is finaal verby. My lewe is hopeloos te kort daarvoor.
Dis my tannie se verjaardag en sy geniet blomme.
Ek werk op ’n "budget". Ek soek nie die hele roosplaas nie. 16:30 sak ek af dorp toe, blommewinkel toe. Dit gaan nie baie lank vat nie. Dit is ’n kwessie van gryp, betaal en klaar. Ek sal betyds kan wees voor hulle toemaak. Ek is klaar gebad, gaan sommer direk daarna na die familie-ete.
Aan die onderpunt van die hoofstraat, langs die kunsgalery, is die bloemiste. Ek stop voor die winkel en loop die affêre binne. Dis onderbelig, klam, vaal en geel. Dit voel of ek in ’n groot wortelslaai staan.
Die dekor is definitief behartig deur ’n persoon wat kuns gedop het of besig is met ’n egskeiding. Op een van die enigste twee rakke in die winkel staan ‘n blou emmer met twee rose in en op die ander ’n sonneblom wat meer verlep is as ek ná ’n bottel rooiwyn. Die winkel is eensaam, lelik en gaan binne ’n week toemaak as dít die hele voorraad is.
Daar is ook niemand in sig wat die situasie voor my kan verduidelik nie. Nou staan ek maar rond en kyk na die twee rose en die sonneblom. Op die deurmekaar toonbank staan ’n groot klok, wat eens om ’n koei se nek gehang het. Langs die klok is daar ’n nota teen die kasregister opgeplak. “Soek jy hulp? Lui die klok!” Ek lui haar. Niks gebeur nie. Ek wag ’n paar minute. Maar niks.
Ek gryp my gemoed en ons loop deur toe. Nes ek buite is, hoor ek ’n vrou se stem en dit klink asof iemand haar lewend slag. Ek draai terug en probeer weer.
Agter ’n "burnt orange", chiffon-gordyn verskyn ’n vrou met ’n verskriklike vierkantige lyf. Jy sal haar met ’n waterpas kan "level". Haar tande lyk soos halfgesuigde Rennies en haar voorkop is groot genoeg om ’n 5 000-stuk legkaart op te bou. Haar "make-up" is twee weke oud en enige "turtleneck", al dra die "Queen" hom, gil: “Ek is keelvol!” Ek is bang, maar ek staan nader.
Die vrou hang soos ’n nat handhoek oor die toonbank en sê:
“Wil jy ook trou? Jongmans koop net blomme as hulle seks soek of wil trou. Dis mos nou die nuutste gier onder julle jongklomp. Trou jonk, maak ‘babies’ en gaan bly oorsee.”
“Ek het darem matriek,” sê ek. “My tannie verjaar. Ek wil net vir haar blomme koop. En die meeste van my vriende is nog almal ongetroud. Ons oefen net om ‘babies’ te maak. Het jy blomme daar agter iewers, of is dit jou hele verhaal?” vra ek.
“Hier’s niks. Kry eers môreoggend ‘stock’. Dit wat jy kan sien, kan jy koop,” sê sy. En loop weer agtertoe.
“En die rosies?” wys ek na die blou emmer agter my.
“Dis al wat oorgebly het. Die mense dink mos hoe meer blomme op die kis en by die kerk is, hoe liewer het hulle die persoon gehad.
"Ek kla nie. Ek wil in Maart by my dogter in Londen gaan kuier. Sy is swanger met ’n Engelsman se kind. As daar nog so agt dood en so vier trou, dan is my kop deur. Die kaartjies is op ‘special’. Ek sal moet roer. Jy kan daai twee rose verniet kry. Hulle sal in elk geval môre verlep wees,” sê sy van "backstage" af.
Ek kan nie besluit of ek die twee rose moet vat of nie.
Wat gaan my tannie dink? Terwyl ek staan en wonder, vang my oog die mooiste houtkis wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Donker hout met die perfekste "ingravings". Dit lyk of dit eens voor ‘n prinses se bed gestaan het. My tipe ding. Ek kan mos koop wat ek sien. Daai kis kom vandag saam met my huis toe.
“Ek wil die kis koop!” gil ek na agter.
“Gaan maak grappe op ’n ander plek. My kop pyn en ek het nie tyd om te mors nie.”
“Ek ook nie. En as jy nie gaan sê hoeveel nie, gaan ons nog baie lank hier staan. Toe nou. Sê!”
Sy verskyn van agter die gordyn. Loop soos ’n gekweste kamelperd, effe te vinnig. Sy lyk glad nie lus vir my, die kis of die winkel nie. Ek sement my op die vloer en wag vir haar prys. Sy loop om die toonbank, verby die klok, tot voor my. Ek gee ’n tree terug en skep asem.
Sy het haar handsak oor haar skouer en sleutels in haar hand.
“Gaan jy nou ’n prys maak?” vra ek. “Ek moet my oom laat weet sodat hy sy bakkie kan bring. Die ding sal nie agter in my kar pas nie. En ek gaan laat wees vir die ‘party’. Ek het nie verniet geskeer nie.”
“Dis toemaaktyd,” sê sy. “Ek tjaila nou. Jy kan met liefde hier bly staan.” Met dit loop sy voordeur toe en op pad uit maak sy die vensters toe en skakel die ligte af.
“Jy kan my nie hier binne los nie. Ek het ‘ge-RSVP’ en my mense gaan my kom soek. Netnou dink iemand ek is ’n boef!” gil ek.
“Ek kom môre vroeg in. Hulle lewer so 5:00 die vars blomme af. Jy kan vir jou daar agter ’n bed maak. Ek loop nou.”
Die volgende oomblik is sy by die deur uit.
Ek wou nog iets doen, toe is dit te laat. Die vrou verdwyn soos sigaretrook in die wind. Ek kyk op my horlosie en besef ek gaan nog baie lank in hierdie slaai wees.
Ek gee so ‘n paar klein gilletjies, soos ’n hen wat sukkel om ’n eier te druk. Dis toe dat die son water trek en ek vir my slaapplek moet soek. Ek haal die chiffon-­gordyn af sodat ek my met iets kan toemaak. Agter, op die grond, lê ’n hoop koerante waarmee ek vir my ’n kussing kan bou. Teen seweuur het ek my lê tussen die twee rose, die sonneblom en die kis gekry. Die aand kon nie stadiger verby gaan nie. Vir ure rol ek rond. Ek begin dink aan al die "snacks" by die partytjie en die yskoue witwyn.
Vroegoggend, toe mynbusse my wakker maak, hang ek die gordyn terug en sit die koerante weer op ‘n hoop. Dit was nie lank nie, toe staan die vierkant voor die deur.
“Maak oop,” sê sy hard genoeg sodat ek dit deur die venster kan hoor.
“Ek kan nie. Jy het die sleutel.”
“Die sleutels lê langs die klok. Ek was te laat om nog te sluit. My man het verjaar en ek het geen idee gehad wat om vir hom te koop nie. Ek was bang die winkels maak toe,” sê sy.
“Jy kan nooit met ’n ‘voucher’ verkeerd gaan nie,” sê ek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!