u2018Blondiesu2019 en waterbottels
u2018Blondiesu2019 en waterbottels

‘Blondies’ en waterbottels

Tielman van Lill
Dinge kan soms skielik en onvoorsiens ongemaklik raak. Veral as jy met jou broek op jou knieë gevang word of as die ou kledingstukkie nog verder suid tot by jou enkels afsak, mag jy dalk met meer as net ’n ongemaklike rooibakkies benoud na jou ontdekker staar.

As daar ’n slang in die gras is of ’n lelike ding steek sy kop uit, kan die oomblik terstond katastrofale afmetings van epiese perporsies aanneem. Party burgers met groot monde en alte los tonge beskik oor die vermoë om telkens met die voet stewig in die gebit te beland.

Dié manne en vroue leer ook nie uit hul dure les en ondervinding nie. So vertel ’n braaipêl van my hoe hy eendag met ’n huppel in sy stap vir ’n onderhoud by ’n sekere genoteerde maatskappy en die se groot kokkedoor opgedaag het.

Met die indrafslag by die hysbak op die grondvloer hoor hy die mooiste klokhelder stem van ’n blonde goddelike wese wat na hom aangesweef kom. Met wiegende heupe en ander dele van haar volmaakte anatomie was hy meer as net ge-mesmeraais. "Verstar soos ’n springhaas in ’n jaglamp se lig", het hy verduidelik.

“Wag vir my!” kom die heuningstem na hom in ’n waas van bedwelmde newels aangesweef. Met ’n droë mond en bewende vinger druk hy die knoppie vir die tiende vloer. “Ek gaan ook na tien,” pruil sy.

Braaipêl het nie op hom laat wag nie. Tien slukke, kuggies en ’n hoesie verder draai hy sy sjarme oop om sy prooi sag te maak. Genadiglik (volgens hom) gaan die hysbak se deur toe oop.

Hy wil-wil nog met jellierige bene agter Blondie aandraf, maar die kwaai ontvangsdame vang hom net betyds. Drie drukke en ’n draai later gee die ontvangsdame vir Braaipêl die groenlig om na Meneer So-en-So se kantoor vir die finale onderhoud te gaan.

Met die instapslag vang die goddelike wese sy blik waar sy met haar lang slanke en welgevormde bene in een van die leerstoele sit.

“My tjom,” sê hy, “ek dink nie sy kan ooit sit nie. Sy het eerder daardie stoel met haar teenwoordigheid oorrompel.”

“En toe, wat toe?” wil ek nuuskierig weet.

“Jong, toe stel die man hom en sy vrou aan my voor,” sê hy, “maar daai moewiese stuk stoel waarin ek gesit het was hopeloos te klein vir my om in te verdwyn!”

Ek selwers was eendag met my broek iewers tussen my knieë en enkels gevang. En dit oor water uit die kantoor se bottel uit die yskas drink, maar dié les het ’n positiewe nadraai ten gunste van die uwe gehad.

Dit was weer een van daai snikhete dae op ’n Noordedorp waar die kwik by 38 grade Celsius huiwer, terwyl die vogtigheid selwers teen 50 persent die lewe ongemaklik maak. Ek stap die kantoor se kombuisie binne waar ek weet yskoue water op my wag.

Sonder om te dink draai ek die prop af en gooi die koue lafenis in my keel af sonder dat my lippe aan die bottel raak. Die volgende oomblik vang my oog ’n beweging by die deur.

“Drink jy met jou mond aan ons bottel?!” sny die vroutjie se stem soos ’n warm twee snydende swaard deur my wese. Ek word terstond tot persona non grata en vyand van die staat, asook enige ander internasionale moondheid in die heelal deur haar verklaar.

Ek sien al hoe ek vir my laaste oomblikke deur haar na ’n gaskamer of dalk vlymskerp valbyl gemasjeer word. Genadiglik word ek deur ’n barmhartige kollega van die tierende tante se wraakgedagtes gered.

“n Week of later stap ek weer by die kombuisie in, natuurlik vir ’n vertroostende koue watertjie wat ek in my eige glas wil skink. Ek het mos my les geleer. Maar wie loop ek voor die friedge raak? Niemand anders as my laksman met die bottel stewig teen haar pienk lippe gesmee.

Nodeloos om te sê, sy was vir die res van die week nie weer op kantoor nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!