Blou ligakampioen vereer sy individue
Blou ligakampioen vereer sy individue

Blou ligakampioen vereer sy individue

United het vanjaar met ’n klein, maar lojale spelersgroep die gunstelinge op hul neuse laat kyk.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Niël van Vuuren is as sportman van die jaar vereer toe Trustco United as die 2019-kampioenspan van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga laas naweek sy jaareindfunksie gehou het.

Die 28-jarige Van Vuuren is in Junie vanjaar in twee toetse vir Namibië as haker op die veld gestuur tydens die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in Uruguay, naamlik die dramatiese wentoets teeen die gasheerland (30-28), asook die nederlaag teen Rusland ses dae later (0-20).

Die sportman van die jaar word gebruiklik toegeken aan die speler wat United die beste op die internasionale verhoog verteenwoordig het as een van die kriteria en Van Vuuren, nou met agt toetse, was die enigste wat op die hoogste vlak deurgebreek het.

Van Vuuren, soms ook as flank of stut, was ’n sleutelspeler vir United wat teen die verwagtinge in vanjaar die premierliga verower het. Die Filistyne het eers die semifinaal teen die titelhouer FNB Wanderers met 35-27 beklink om hul plek in die finaal teen FNB Unam in te neem.

Die studentespan het met hul laaste drie en ’n voorsprong van 42-25 gereken die hardnekkige bloues is nou eindelik verslaan – voor United se dramatiese eindpoging om met 44-42 te wen.

United se prys vir die beste drie van die jaar is oorhandig aan die flank Thomas Kali vir sy twee vyfpunters in die eindstryd, insluitend die wendrie van ’n lynstaan waar Unam bo-oor die springer gegooi het.

Die losskakel Hanreco van Zyl se deurlopende goeie spel en bydrae tot die span se sukses is met die trofee as speler van die jaar vereer. Hy was ook die senior speler wat die beste vordering getoon het.

Winmar Rust se verbintenis en sy besteding van tyd en moeite agter die skerms het hom die toekenning as klubman van die jaar besorg. Rust het ná 160 wedstryde vir United oor die afgelope twaalf jaar sy uittrede as speler aangekondig.

Hy was kaptein van die premierliga-wenspanne in 2014 en 2019, laasgenoemde keer met ’n deurslaggewende bydrae van 24 skoppunte in die eindstryd, maar sal steeds op bestuursvlak bydra waar hy reeds as voorsitter van die rugbyklub dien.

Nog twee spelers is vereer wat in die afgelope seisoen hul 100ste wedstryd in die klub se kleure bereik het, naamlik die vleuel Stefan Louw en senter Henry Kandjou. Louw het die meeste drieë vir die jaar gedruk en Kandjou se tweede toekenning was as die beste verdediger.

Die haker Gerhard Thirion en heelagter Daryll Vries het die prys vir die mees toegewyde speler gedeel. Ander pryswenners was Venoumba (Sticks) Kanguatjivi (die tweede span se beste voorspeler en mees waardevolle speler), Felix Humphries (beste agterspeler in die tweede span), Carlton Stevens (beste vordering deur ’n junior speler) en Winmar Rust en Greyling Koopman (deel die klubman van die jaar).

Robbie Dickson, ná sy eerste seisoen as hoofafrigter van die klub, het die spelers bedank vir hul begrip gedurende tye wanneer hy moeilike besluite moes neem.

“Ek gaan name noem – ek het vir Martin Cronjé, Naudé Neethling, Greyling Koopman en Shaun van Rooi (36) omgepraat om weer te speel nadat hulle die vorige seisoen hul stewels opgehang het. Morné (Tos) Blaauw het ook al opgehou, maar het weer begin en het van Keetmanshoop af gery om die klub uit te help.

“Sulke toewyding en harde werk is wat meegebring het dat hierdie twee trofeë vanaand hier staan [United het ook die Neels Dodds-trofee in die derby teen Wanderers gewen] en julle as spelers verdien al die krediet wat na jul kant toe kom.

HOOFKLUB

In ’n afsonderlike funksie het Trustco United-sportklub (waarby hokkie, netbal en krieket ook ingereken is) enkele oorhoofse toekennings oorhandig:

Winmar Rust (rugby): klubman van die jaar.

Brenda Liman (hokkie): klubvrou van die jaar.

“Shaper” van die jaar (wat van nêrens af deurgebreek het): Brendan Britten (krieket en lid van die klub se komitee wat geleenthede reël).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!