Bly kalm en herwin

Die Skole-herwinningskompetisie se wenners is onlangs in Windhoek beloon.
Michelline Nawatises
Evany van Wyk

Die 20ste Mei was ‘n vreugdevolle dag by die spesiale skool Môreson in Khomasdal in die hoofstad waartydens die Namibiese herwinningsorganisasie Recycle Namibia Forum (RNF) sy jaarlikse prysuitdeling gehou het.

Die RNF is in Junie 2011 as ‘n niewinsgewende organisasie gestig met die hoofdoel om projekte te koördineer wat herwinning, asook vermindering en hergebruik van afval ondersteun.

Die Skole-herwinningskompetisie, wat RNF tien jaar gelede van stapel gestuur het, brei jaarliks uit.

Aanvanklik het tien skole deelgeneem, maar dié getal staan tans op 44. Die doel van die kompetisie is om ‘n platform te skep waar skole in Namibië besoedeling kan teenwerk en meeding om die meeste herwinbare afval in te samel. Die kompetisie is nie net waardevol vir die omgewing nie; deelnemende skole kan ook ‘n inkomste daardeur skep.

Die spesiale skool Môreson het vanjaar met die groot prys weggestap. Elke leerling van dié skool het sowat 219 kg afval ingesamel wat herwin kan word. Hulle het N$10 000 kontant van Namibia Breweries ontvang vir hul uitmuntende poging om die aarde skoon te hou. Me. Anita Kreft, die skoolhoof, het die borge verseker hul belegging is die moeite werd. “Dit gaan nie oor ‘n maand of jaar of watter tydperk ook al wys nie, want julle belê in ‘n kind se lewe,” het Kreft gesê.

‘n Môreson-leerlinge, Lise Sawas, het aan The Zone gesê sy is ongelooflik trots op haar skool.

Die Dagbreek-skool was in die tweede plek, met 212 kg afval wat elke leerling ingesamel het. Die skoolhoof, mnr. Paul du Plessis, het aan The Zone gesê hy wil meer skole aanmoedig om aan die kompetisie deel te neem. “Dit kan net goeie dinge beteken.”

Dagbreek het N$5 000 ontvang wat deur Collect-a-Can geskenk is. In die derde plek was All Nations Christian-skool wat 92 kg afval per leerling ingesamel het. Hulle het N$2 500 van Plastic Packaging ontvang. Wat die prestasies nog meer beduidend maak, is dat al drie die skole betreklik klein is, met ongeveer 120 tot 150 leerlinge. Combretum Trust en Pro-Ed Akademie was in die vierde en vyfde plek en het N$1 000 en N$2 000 onderskeidelik van Rent-A-Drum ontvang.

Die RNF het ook ‘n prys uitgedeel vir die skool wat die meeste verbeter het met hul herwinning. Weer eens het Môreson die prys opgeraap. Die afval wat hulle ingesamel het, het met 20 ton toegeneem en het vir hulle ‘n reis na NaDEET gewen. NaDEET is ‘n omgewingsopvoeding-organisasie wat in die woestyn geleë is.

Die Hoërskool Dawid Bezuidenhout was in die tweede plek. Hulle het binne ses maande 8 ton afval ingesamel. ‘n Reis na B2 Gold se omgewingsopvoeding-sentrum was hul prys. Die hoofseun, Ariclene de Sousa, en hoofmeisie, Hertha David, het in hul bedankingstoespraak gesê: “Ons ontvang hierdie prys met uiterste dankbaarheid namens die Omgewingsklub by ons skool, asook dankbaarheid vir ons onderwysers se eindelose ondersteuning.”

Me. Anitta Witt, die RNF se koördineerder, het gesê: “Dit is regtig ongelooflik hoe hierdie program kinders wat met gestremdhede leef, kan help in terme van werksgeleenthede.” Volgens haar “gee herwinning aan hierdie kinders lof en toekenning wat hulle nooit anders sou kon kry nie”.

Die RNF het ook aangekondig die kompetisie gaan deur die loop van die jaar Oranjemund en Rundu insluit. “Ons is vol vertroue dat die jeug in albei dorpe gretig sal wees om deel te neem en hul verbintenis tot ‘n skoner en groener Namibië te wys,” het me. Gloudi de Beer, die voorsitter van die RNF, gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!