Bly te kenne, juffrou AI, ek’s Jo-Maré
Jo-Maré Booysen – Slegs drie dae, nét 72 uur se gesigjoga en my bakkies is vry van haar dubbelken, belowe Facebook my plegtig.
Klokslag, 24/7. Maak nie saak hoe skelmpies ek die kuberwêreld probeer insluip op soek na ‘n paar oulike dierevideo’s om my dag op te kikker nie, die kunsmatige intelligensietiran met haar bose konkoksie van algoritmes vang my telkens.
Gesigjoga, terg die AI my. Hóé sy weet ek verlang terug na my jong dae met wangbene en ‘n slanke nek, weet nugter alleen. Dis ‘n netelige saak tussen my en my spieël en beslis nie iets wat ek wyd en syd aan my magdom aanlyn vriende uitbasiun wat ek beswaarlik ken nie.
Ná weke wat ek haar ignoreer, klik ek uiteindelik uit nuuskierigheid op die skakel – derduisende ander in die Facebook-gemeente het dit tog reeds gedoen.
Die AI vis eers ‘n klomp persoonlike inligting uit. Dit kan sy immers met haar blikbreinmaatjies deel sodat hulle nóg hinderlae vir my in die kuberheelal kan stel.
Dan begin sy breinspoel: Dis ‘n wetenskaplike feit soos ‘n koei dat gesigjoga enige vrou (g’n verwysing na mans) aantrekliker sal maak. Die teef kerf dieper in my weerloosheid in, want teen die tyd weet sy ek het donker kringe onder my oë, kepe om my mondhoeke en oumensvlekkies op my wange.
Haar dobbelmasjien belowe my ek sal binne nege weke 15 jaar jonger wees. Indien dít my nie omkoop nie, volg ‘n rits aanbevelings deur oënskynlik gewone vroue soos ek. En om die transaksie te beklink, is daar ‘n string glanspoppies wat hul supersterre dank vir die toep wat jou lewe gaan verander.
Intussen maak die algoritmeheks seker ek glo ek is ‘n stukkende, leë en onvoldoende mens. ‘n Hele span filosowe, geestelike leiers en terapeute smous met die gelukprosituut.
My FB-blad kriewel van spesiale aanbiedings oor hoe om van my middeljarerolletjies en die kuiltjies op my bobene ontslae te raak. ‘n Toep vir vas, vir oefen, vir slaap, vir sukses, vir vervulling.
Want ek is nie goed genoeg nie. Waar’s my kredietkaart?!
Juffrou AI, ek het nuus vir jou. Jy ken nie hierdie Namibiese vrou aan die gatkant van die wêreld nie.
Die lyne om my oë en mond is hoofsaaklik lagplooie. My dubbelken het ‘n goeie skeut genetika, wat my herinner aan die generasies sterk vroue in my bloed. Die bruin vlekkies op my hande laat my my ma onthou – en niemand het haar vir ‘n gek gevat nie.
Die donker kringe onder my oë is omdat ek my alie afwerk en my bekommer oor die toekoms wat jy en jou gespuis aan my kinders en kleinkind probeer afsmeer. Die middellyfbagasie is omdat ek nie vir ‘n lekker braai kan wag waar ons familie in liefde kan baai nie.
Ek duld jou net sodat ek jou kan dophou.
Want jy en jou kamerade kruip onder die vel van miljoene jongmense in en saai selftwyfel. Julle vuur isolasie, verslawing, eetsteurnisse, selfseermaak en selfs selfdood aan. Julle maak ‘n generasie sosialemediaslawe groot wat jul algoritmes soos gifkoek opvreet.
Tot onlangs kon julle ons nog uitoorlê. Jy sal nie verstaan nie, maar dis wat so wonderlik is van die mens: Die mens dink nie net met ‘n brein nie, maar ook met ‘n hart.
Hierdie ou tannie sal dus saam met toenemend miljoene ander kuberplakkate rondswaai dat jou tjank afgetrap word. Dat jy in ‘n hok vol regulasies vasgeketting word, want dis wat ‘n mens met monsters doen.
En jy beter vir daai fopgod van jou bid dat ek nie jou muurprop opspoor nie. Want glo my, juffie, ek sal dit uittrek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie