BMW se i-reeks nie i-deaal
BMW se i-reeks nie i-deaal

BMW se i-reeks nie i-deaal

Knormoer aan die woord
Knormoer hoor by sy onbetroubare bronne in Beiere dat BMW stil-stil sy i-handelsnaam na die buitebaan geskuif het.

Toe die gier van geëlektrifiseerde motors die wêreld so vyf jaar gelede getref het, was die Beierse groep vooraan deur 'n aparte handelsnaam net vir dié soort karre onder sy vaandel te ­registreer.

Daar het sommer dadelik ook twee motors te voorskyn gekom, die i3 en die i8. Met nog 'n rits wat op pad sou wees. Die i3, as jy kan onthou, is die klein stadsmotortjie terwyl die i8 'n plat, futuristiese sportmotor is. Albei ten duurste gebou met 'n unieke, nuwe bakwerk wat uit koolstofvesel bestaan. Dun wiele vir 'n lae rolweerstand. Optimale lugvloei en litium­ioonbatterye. Vreeslik, man.

Maar hoe baie i3's en i8's sien jy op die pad? Presies, en dis waarmee BMW ook kopkrap. Die nuwe plan nou is glo om eerder sy gewone modelreekse, soos die 3-, 5- en 7-reeks, asook al die X-modelle van 'n batterygedrewe model te voorsien.

Die eerste op die horison is 'n elektriese 3-reeks in 2020, kort op die hakke van die nuwe Drie se bekendstelling. Daarna sal 'n elektriese X3 volg. 'n Elektriese Mini kom ook oor twee jaar al. Maar wat nou met die ongewenste baba, die i-motors?

Die groep wil dit glo voortaan eerder benut vir selfrymotors, waarvan sy iNext in 2021 'n eerste proesel sal bied.

Knormoer wil nou nie slim klink nie. Maar hierdie pampoen het hy lankal al gesien vlieg dakwaaier toe.



Die wilde Britte

Laat Knormoer nou maar eerlik wees. Nooit het hy gedink die land wat vir misbaksels soos daardie eend op wiele, die ­E-Type, verantwoordelik was, sal met hierdie moderne Jaguars vorendag kon kom nie.

Neem nou maar hul jongste vuurwa, die XE SV Project 8. Daardie SV staan vir Special ­Vehicles, die vervaardiger se afdeling ingenieurs wat vrye teuels aan hul verbeelding kan gee.

Die warm XE, 'n Merc C63 AMG- en BMW M4-mededinger, het 'n hele paar truuks. Daar's 'n 5.0-liter-V8 wat lyk soos Eben ­Etzebeth op 'n springtou as hy net luier.

Spesiale bakpanele van koolstofvesel en selfs titanium hou die gewig in toom. Al vier die wiele trap vas. En die ratkas skakel nou vinniger oor as wat jou vrou kan onthou jy't haar verjaardag vergeet.

Slegs 300 gaan glo gebou word. Wat beteken, sou jy belang gestel het in enetjie, sou jy óf iemand in Coventry moes ken óf in Justin Bieber se geskeurde denim moes pas.

Knormoer is 'n ondersteuner (van die Jag, nie die Bieber nie). Enige kar met die naam Ek-sê verdien 'n skouer­klop.



Raak ons paaie te vol?

Ons kan binne 'n jaar of drie die magiese 100 miljoen-kerf bereik van motorverkope per jaar, wêreldwyd.

Tans word sowat 91 miljoen nuwe karre per jaar verkoop. Maar dinge klim. In Amerika het verkope verlede jaar met 4% gegroei, en in Europa was dit 6%.

Die Asiatiese streek het gespring met 9%, terwyl China verlede jaar 'n ongelooflike 15% meer karre verkoop het.

Die trajek beteken dat teen hierdie koers ons volgende jaar (2018) die 100 miljoen-kerf kan bereik.

In Suid-Afrika, nes Suid-Amerika, val verkope egter skerp. Maar in China en Indië is private mobiliteit nog 'n gesogtheid.

Die keersy is natuurlik dat meer karre slegte nuus vir die omgewing beteken. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!