Bobaas-speurreeks maak my senuwees gedaan
Bobaas-speurreeks maak my senuwees gedaan

Bobaas-speurreeks maak my senuwees gedaan

[email protected]
Sanet de Waal
Die Byl – vir diegene wat dalk nie kykNET of Showmax het nie – is 'n reeks wat handel oor 'n fiktiewe reeksmoord-eenheid van die Suid-Afrikaanse polisiediens se afdeling vir geweldsmisdaad.

Die reeks, volgens Netwerk24, se hoofkarakter (Byl) is geïnspireer deur die legendariese baasspeurder Piet Byleveld, wat in sy loopbaan by die ondersoek van verskeie opspraakwekkende moorde en reeksmoorde betrokke was. Hy het in 2017 sy stryd teen kanker verloor.

Piet Byleveld het in sy loopbaan berugte misdadigers soos Cedric Maake, die Wemmerpan-moordenaar wat 27 moorde gepleeg het, en Donovan Moodley, die moordenaar van Leigh Matthews, vasgetrek.

Ek het onlangs 'n onderhoud (Rapport, 21 Mei 2017) gelees waar Hanlie Retief met Byleveld kort voor sy dood gesels het. Dit was baie hartseer.

Hy het gesê: “Ja, dis toe hierdie kriminele in my lyf wat my 'n doodsvonnis kom gee het. Kanker het nou wragtig die grootste dossier van my lewe geword. Hulle sit vir my ore aan.”

Vanaf die eerste reeks van Die Byl was ek vasgenael voor die televisie. Ek kon nie vir Sondagaande wag nie.

Elke episode het gehandel oor 'n nuwe moordenaar en saak wat ­opgelos moes word.

Die tweede reeks het 'n deurlopende storie gehad. Ja, dit is waar Smiley, die reeksmoordenaar, sy verskyning gemaak het.

Kyk, ek leef myself gewoonlik nie in 'n storie in nie, maar hierdie man het my senuwees gedaan gemaak. Hy het onder my vel ingekruip. Net soos Adriaan Klopper, Smiley se ­protégé, in die derde reeks nou my siel versondig. Hy het die vermoë om die speurders voortdurend te ontwyk.

Hierdie is 'n senutergende speurreeks. As jy dalk die kans kry om dit van die begin af te kyk, gryp gerus die kans aan.

Volgens Netwerk24 word die vierde reeks reeds verfilm. Dus is die einde nog nie in sig nie.

Ek het my vriend Google gepols oor reeksmoordenaars of meestermani­puleerders, soos sommige berigte hulle noem.

Google het my vertel van ­Moses Sithole (Suid-Afrika), wat die sogenaamde ABC-moorde gepleeg het. Dit is so genoem omdat hulle in Atteridgeville begin en daarna na Boksburg en Cleveland uitgebrei het. Hy het 38 moorde gepleeg.

In Amerika word Samuel Little (79) as die ergste reeksmoordenaar in hul geskiedenis beskou. Little se bekentenis dat hy 93 mense tussen 1970 en 2005 vermoor het, word deur die Amerikaanse speurdiens (FBI) as geloofwaardig beskou.

Een van Amerika se berugste reeksmoordenaars en psigopaat Ted Bundy het gesê: “I don't feel guilty for anything. I feel sorry for people who feel guilt.” Sjoe, dit is darem 'n kil stelling om te maak.

Ek kon nie enige inligting oor vroulike reeksmoordenaars kry nie, maar toe noem my kollega wat van Charlize Theron in Monster.

Die fliek handel oor die reeksmoordenaar Aileen Wuornos, 'n voorma­lige straatprostituut wat tussen 1989 en 1990 sewe van haar manlike kliënte vermoor en in 2002 in Florida tereggestel is.

Daar moet nog ander wees, miskien is hulle nog net nie gevang nie.

Ek het nog altyd gedink ek sou 'n goeie speurder uitmaak, maar nadat ek al die gruwelstories gelees het, dink ek nie meer so nie.

Dit is veiliger agter my rekenaar.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!