Bobby, Karlien en nog op VIA

Lloyd Zandberg
Die lang verwagte tweede seisoen van VIA (DStv-kanaal 147) se gewilde werklikheidsreeks Bobby en Karlien: In jou skoene skop uiteindelik in Mei af. Boonop begin ses splinternuwe programme propvol bekende gesigte op dié Afrikaanse leefstylkanaal.

In die eerste seisoen van Bobby en Karlien: In jou skoene wat in 2016 uitgesaai is, het die bekende broer en suster hul glansryke lewens agtergelaat om in elke episode vir 48 uur in die skoene te stap van mense wie se ervarings hemelsbreed van hul eie verskil.

“Elke episode het ons geweldig geraak,” sê Bobby van Jaarsveld.

“Mense het hul harte en lewens vir ons oopgemaak. Jy kan nie onveranderd bly nie. Dit het my oë oopgemaak vir so baie dinge.”

In die tweede seisoen, wat Woensdag reeds afgeskop het, sit Bobby en Karlien dié avontuur buite hul gemaksones voort.

“Met seisoen twee het ons mense ontmoet wat, ten spyte van die grootste terugslae in hul lewens, steeds ’n lewe leef wat ander inspireer,” sê Karlien van Jaarsveld.

“Daar is mense wat die ongelooflikste goed vermag. Gewone mense. Hulle is die ware helde onder ons. As mens kyk na wat mense in die sosiale media van mekaar sê, wonder jy soms waar mense se goedhartigheid heen is. Dis eers as jy jouself in iemand anders se skoene sit wat jy waarlik insig kry. Met die verfilming van Bobby en Karlien: In jou skoene leer ek elke keer iets wat my eie lewe vervul. Hierdie reeks is sekerlik een van die hoogtepunte van my hele loopbaan,” sê sy.

Nuwe episodes van Bobby en Karlien: In jou skoene word elke Woensdag om 20:30 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30. Die program is tegelykertyd op Showmax beskikbaar.

Bobby en Karlien is nie die enigste bekende Afrikaanse sangers wat in Mei op VIA sal wees nie.

Bok van Blerk is van vandag af ook op die Afrikaanse leefstylkanaal in Land en strand te sien. In dié program reis hy en sy vriend, die visvangmeester Mark de la Hey, na van die beste visvangbestemmings in Suider-Afrika waar hulle lyne natmaak en waterlangs ’n visgereg voorberei.

Vrydae om 17:30 met heruitsendings op Sondae om 19:30.

Die geliefde Hanna Grobler en ’n kennerspan help van Maandag af mense om oulike partytjies vir spesiale geleenthede te reël. Nuwe episodes van Makietie-makers wys Maandae om 17:30 met heruitsendings op Saterdae om 15:30. Die aktrise June van Merch hou van 16 Mei af haar lyf TV-aanbieder op ’n nuwe kompetisieprogram.

In dié program spook 10 dinamiese gryskoppe dit op ’n afgeleë Weskusstrand uit om as “Die superste senior” gekroon te word en ’n lekker prys los te slaan.

Donderdae om 19:30 met heruitsendings op Saterdae om 21:30.

In Klipwerf-kuiers nooi Nadia Beukes kykers plaas toe om vir ’n aand vol boeremusiek én boerekos met die legendariese Klipwerf-orkes. Van 17 Mei af, Vrydae om 20:00 met heruitsendings op Saterdae om 17:30.

Ná 12 seisoene van tjops en tantrums op Kom ons braai, roep ons die hulp van die fynproewer-braaimeester Kobus Botha in om die beste braaipaartjie in die land te kroon.

In dié spesiale episodes van Kom ons braai: Kampioene spook voormalige Kom ons braai-wenners dit uit om te sien wie die braaikroon verdien.

Dit begin vanaand en wys elke Vrydag om 18:00 met heruitsendings op Sondae om 18:00.

In Drama-mammas volg ons kameras vier leerlinge aan die Live Arts Little Theatre in Johannesburg terwyl hulle deur middel van ’n reeks Eisteddfods en kompetisies om ’n gesogte internskap by ’n teater in die VSA meeding.

Maar die ware sterre van dié werklikheidsprogram is die leerlinge se ma’s, wat gereeld koppe met die kinders se drama-onnie, Louw Breytenbach, stamp.

Van 15 Mei af, Woensdae om 21:30.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer