Bodemlose sitkamerpret

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Bottomless Coffee Band is ’n instrumentele, alternatiewe duo wat bestaan uit die getroude paartjie Lourens en Esté Rabé van Kaapstad, Suid-Afrika.

Dié twee is op pad Namibië toe vir die bekendstelling van hul album Anthelia en hul session-sitkamermusiek, ‘n konsep wat in die loop van twee jaar in hul sitkamer ontwikkel het.

Hulle sing ook bekende liedjies van ander kunstenaars wat hulle inspireer.

Die groep is gestig toe Lourens en Esté studente aan die Universiteit Stellenbosch was.

Hulle het nie net musiek in gemeen gehad nie, maar uiteindelik ook ‘n liefdesverhaal wat vandag steeds voortknetter.

“Voor ons mekaar geken het, het ons as kinders afsonderlik daarvan gedroom om eendag ‘n standvastige loopbaan in die musiekbedryf te kan hê,” sê Esté.

’n Passie vir musiek is iets wat by geboorte gebeur, glo hulle.

“Sodra jy kan, trek jy jouself op ‘n klavierstoel,” sê sy.

“Of speel dromme op jou ma se kosbare Tupperware,” voeg Lourens by.

Nie lank ná hul ontmoeting nie het die duo se klanke Stellenbosch se strate gevul.

Bottomless Coffee Band het ‘n sensasie geword.

Lourens is ’n stadsjapie uit Kaapstad se noordelike voorstede en Esté ’n eksdramastudent en Karoo-meisie van Graaff-Reinet.

Die twee het tydens ’n koorrepetisie op universiteit ontmoet.

Nie een van die twee het enige formele musiekopleiding nie.

“Alles wat ons is en het, het ons vir onself geleer.”

Hulle het gou besef hulle wou nie net musiek maak nie, maar dit ook as platform gebruik om ’n opheffende boodskap te versprei.

Die twee het in 2010 saam begin optree, onder meer by groot kunsefeeste en verskeie teaters oraloor Suid-Afrika.

Na afloop van hul studies het albei voltydse korporatiewe loopbane gevolg: Lourens was ’n beleggingsontleder in die batebestuursbedryf, en Esté het ’n teatermaatskappy op die been gebring.

Die duo het hul musiek deeltyds voortgesit.

Uiteindelik het hulle al hoe meer dikwels nuwe liedjies geskryf en meer en meer instrumente by die produksie gevoeg.

Teen 2014 het hulle tot vyftien shows ’n maand begin doen, en dit het gou duidelik geword hulle kan aan die diepkant inspring en van musiek ’n loopbaan maak.

Ná die vrystelling van hul selfvervaardigde debuutalbum Room With a View in 2014 het hulle ’n nasionale toer deur die hele Suid-Afrika onderneem.

Vertonings was uitverkoop en Bottomless Coffee Band het gunstelinge begin word.

Kort voor lank het hulle hul eerste besoek aan Namibië afgelê, en dit bly jaar ná jaar ‘n hoogtepunt, sê hulle.

“Namibië. Namibiërs. Alles is so besonders vir ons,” sê Esté.

“Die eerste keer toe ons Namibië besoek het, het die berge, die woestyn en die groen dele ons so geïnspireer.”

Beide sê die woestyn lê hulle na aan die hart.

“Waar die see en woestyn bymekaar kom, is eenvoudig iets besonders,” sê Lourens.

Volgens Esté is Namibiërs se respek vir die natuur magies.

Tydens hul besoeke aan Namibië probeer hulle altyd een of ander avontuur aanpak.

“Dit het altyd iets met die duine of die woestyn te doen,” sê hulle.

Spoedig het Bottomless Coffee Band ‘n gemiddeld van 150 shows per jaar begin doen.

In 2017 het hul paaie dié van die legendariese vervaardiger Theo Crous gekruis, wat die vervaardiging van hul tweede en eerste kommersiële album, Anthelia, behartig het.

Alle instrumentasie op dié album is deur die duo self gespeel.

Hulle beskryf die skryf- en vervaardigingsproses as volg:

“Dis ‘n proses wat voortdurend verander omdat die bedryf so baie verander. As ons ‘n lied klaar gekryf het, en die musiek is reg vir ‘n verhoog, sluit ons dit by ‘n konsert in,” sê Esté.

“Ons gebruik die gehoor se reaksie en energie om te sien of dit ‘n suksevolle liedjie sal wees,” sê Lourens.

Hulle put inspirasie uit kunstenaars soos Paul Simon, Mumford and Sons, Johnny Clegg, Jimmy Hendrix en The Lumineers.

Die twee is baie opgewonde oor hul voorgenome Namibiese toer.

“Ons konserte raak elke jaar makliker omdat ons gewoond aan die mense, die ruimtes en die reisomstandighede raak. Ons gaan ons sitkamer sessions, wat onlangs op ’n album vasgelê is, in Namibië kom speel.”

“Die sitkamersessies is liedjies wat deur middel van video’s in ons sitkamer opgeneem is van ander kunstenaars se musiek wat ons geinspreer het.”

Hul suskes skryf hulle toe aan die feit dat hulle daagliks die voorreg het om hul musiek met mense te kan deel.

“Dit bly ‘n voorreg om mense se harte te diens. Dis eintlik magies.”

Toerdatums:

Windhoek

Donderdag 18 Julie se show by die Warehouse-teater is by tafels (14 tafels van 10). Kaartjies is N$ 400 per persoon (N$4 000 per tafel). Die kaartjie sluit ‘n heerlike buffet-ete in.

19 en 20 Julie, cinema-styl konsert. Kaartjies kos N$190 per sitplek in die middelblok en N$150 per sitplek aan die kante.

Alle kaartjies vir die Warehouse-teater is by Webtickets of by enige Pick n Pay se Webtickets-toonbank beskikbaar, of Deon Blaauw by 081 128 5050.

Tsumeb

24 Julie, 19:00 , Gimnasium-sportgronde

Dié show is ten bate van die Glück Auf-kindergarten.

Kaartjies is by die Etosha-apteek, De Main Coffee Shop en Travel North Guest House beskikbaar.

Dit kos N$160 per volwassene en hoërskoolleerlinge, en N$80 per laerskoolkind. Bring jou eie kombers en piekniekmandjie. Kontak Nicolene Colesky 081 122 8538 vir meer inligting.

Swakopmund

26 en 27 Julie, Hotel and Entertainment Centre

Kaartjies kos N$120 per persoon en is beskikbaar by Two Beards Coffee, Slowtown Coffee, Cornerstone (Walvisbaai) en Levani’s (Walvisbaai)

Vir navrae, kontak Deon Blaauw by 081 128 5050.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!