Boekwurms is dalk bleeksiele, maar. . .
Boekwurms is dalk bleeksiele, maar. . .

Boekwurms is dalk bleeksiele, maar. . .

Francoise Steynberg
'n Biokinetikus sê onlangs vir my in die ou dae het joernaliste gedrink om van hul frustrasies ontslae te raak, maar deesdae is hulle op pille.

In die goeie ou dae was ek ook een van die joernaliste wat maklik my partytjieskoene aangetrek het, maar nou kan my liggaam geensins meer deurnagpartytjies en 'n kloppende hoofpyn hanteer nie. Pille sluk was nog nooit vir my nie, want ek verstik in die goed.

Enige mens moet van sy frustrasies ontslae raak. Almal ervaar stres en soms trauma. Ons joernaliste wat vir dagblaaie werk, het nie tyd om berading by sielkundiges te kry nie. Ons het nie eens tyd om dokter toe te gaan nie. (Oktober is verby en ek het vir die soveelste agtereenvolgende jaar nie vir 'n mammogram gegaan nie.)

Ons het elke liewe dag met erge kwessies te doen en meestal werk ons met die skuim van die aarde – moordenaars, verkragters, vroueslaners, kinder- en dieremishandelaars, wildstropers en allerhande booswigte. Moenie van die korrupte politici vergeet nie!

Verlede week het 'n vermeende kinder- en reeksverkragter reg voor my gestaan voor hy ná sy hofsaak teruggeneem is selle toe. Ek het so gebewe van woede teenoor hom, dat ek skaars my selfoon kon vashou toe ek 'n video moes neem. Wat ek eintlik wou doen, behels geweld, maar geweld is nie die antwoord nie. Gelukkig is my kamera my skerm, my skans en my grenslyn om nie tot geweld oor te gaan nie.

Die aand kon ek nie slaap nie en ek wonder hoe hy dit oor sy hart kon kry om 'n negejarige meisie se geslagsdele te sny en haar dan te verkrag. En ek wonder hoe hy net so nonchalant voor my kon staan en vra om sy suster en pa te bel.

Toe word Lindie Prinsloo Vrydag wreed vermoor en haar sesjarige dogtertjie kom op die gru-toneel af. Die naweek kan ek nie slaap nie, selfs nadat ek Sondag die woede effe uit my gestel kry toe ek die storie skryf.

Elke mens moet 'n uitlaatklep, 'n afpakplek of 'n stokperdjie hê wat jou gedagtes laat afdwaal om van die nare dinge in ons wrede wêreld te vergeet. Ek drink nie juis nie, dwelms is 'n doodsvonnis en ek oefen nie.

Woorde is my doepa. Ek skryf en lees. Boeke is my drank en dwelms. Boeke laat my na verre lande reis waar ek nog nie was nie. Net in boeke is mans ware helde wat nie voete van klei het nie.

Toe lees ek op Netwerk24 van 'n Rus wat sy kollega op 'n Suidpool-ekspedisie met 'n kombuismes in die bors gesteek het toe dié weer die einde van 'n boek uitgelap het wat hy besig was om te lees.



Sergei Savitski (55), 'n elektriese ingenieur, is onder huisarres in Rusland geplaas en van poging tot moord aangekla.

Hy en die sweiser Oleg Belogoezof (52) was al sowat ses maande lank saam met 12 ander op 'n afgeleë stasie op St. George-eiland, sowat 120 km van die Antarktiese kus af, gestasioneer.

Hulle het hul vrye tyd verwyl deur boeke te lees. Savitski kon dit blykbaar nie meer hanteer dat Belogoezof elke keer vir hom sê hoe die boek waarmee hy besig was, gaan eindig nie.

Toe Belogoezof dit weer doen, het Savitski 'n kombuismes in die kantien gegryp en Belogoezof daarmee in die bors gesteek.

Wees gewaarsku, boekwurms kan ook gevaarlik wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!