Boer met sambok, vuiste geslaan
Rowers het Sondag op 'n plaas op die hoofpad tussen Kamanjab en Korixas in die Outjo-distrik toegeslaan.
Tanja Bause
Twee van die verdagtes wat Sondag omstreeks 16:30 vir mnr. Lourens du Plessis (79) op sy plaas Paderborn aangerand en beroof het, is in hegtenis geneem.
Die plaas is op die hoofpad tussen Kamanjab en Khorixas in die Outjo-distrik geleë.
Volgens sy seun, mnr. Jan du Plessis, was sy pa by hom op die buurplaas Sebra en is hy omstreeks 16:30 huis toe.
“Hy het by die huis aangekom en gesien die voordeur staan oop. My pa het egter gedink hy het dalk vergeet om die deur te sluit. Hy het ook 'n beweging binne gesien en gedink hy verbeel homself. Toe hy die huis binnegaan, is hy deur drie mans oorrompel,” het hy gesê.
Die mans het hom herhaaldelik oor sy lyf met 'n sambok geslaan. Hulle het hom met hul vuiste en die agterkant van 'n wapen in die gesig geslaan en aanhoudend vir geld gevra.
“Hulle het my pa aan die bed vasgebind en die kluis oopgemaak. Die mans het met drie jaggewere en een handwapen in sy bakkie op die vlug geslaan nadat hulle die hele huis omgekeer het. Die huis lyk asof dit deur 'n orkaan getref is.”
'n Plaaswerker wat ook vasgebind was kon daarin slaag om homself te bevry en het toe vir Du Plessis losgemaak wat na sy seun gery het vir hulp.
“Die plaaswerker het op die mans afgekom en hulle het hom buite die huis vasgebind en ook vir geld gevra. Hulle het hom toe in die huis ingebring en daar laat lê. Hy het my pa losgemaak en omdat hulle sy selfoon stukkend gegooi het moes hy na my toe ry.”
Du Plessis het dadelik die polisie op Kamanjab en Khorixas, asook die reserviste en buurtwag gekontak, wat onmiddellik na die verdagtes begin soek het.
“Die manne was in rep en roer en het baie vinnig opgetree. My pa se bakkie is by Braunfels gevind waar die verdagtes hom gelos het en verder te voet is.”
“My pa is erg geskok en deurmekaar, maar dit gaan vandag (Maandag) al beter met hom. Hy het 'n blou oog en is op baie plekke nerfaf waar hy met die sambok geslaan is. Gelukkig is die beserings meer uitwendig.”
Volgens die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, is Du Plessis deur vyf mans aangeval en het hulle met sy beursie met N$210 kontant, wapens en sy bakkie op die vlug geslaan.
“Die bakkie is in die Braunfels-omgewing sowat 20 kilometer buite Khorixas op die hoofpad tussen Khorixas en Outjo verlate langs die pad gevind. Twee mans (van onderskeidelik 23 en 30) is in hegtenis geneem. Een van die gewere en ammunisie is teruggevind. Die ander drie mans is nog soek,” het Shikwambi gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie