Boerboktelers, benut geleenthede in buurlande
Tydens ‘n inligtingsdag het die Boerboktelersgenootskap gesê hul diere, kennis en vaardighede is tot die regering en ontluikende boere se beskikking.
Elvira Hattingh - Plaaslike boerbokstoettelers behoort die groot vraag na boerbokke in Namibië se buurlande te benut, maar ook wag te hou oor die gehalte van die genepoel en nie hul beste diere vir aanloklike pryse aan die buiteland te verkoop nie.
Stephan Botes, president van die Namibiese Boerboktelersgenootskap het tydens ‘n inligtingsdag wat op 9 November deur die genootskap in Windhoek aangebied is, gesê Namibiese stoettelers fokus hoofsaaklik daarop om hul diere op die plaaslike mark van die hand te sit. Hy het daarop gewys daar bestaan goeie geleenthede in vier buurlande – spesifiek in Angola, Zambië, Zimbabwe en Botswana - vir boerbokke.
“Ons moet ons afvra of die plaaslike mark werklik die ideale een is?
“Tans beskik ons oor slegs twee bemarkingsroetes: Die lewende uitvoer van kommersiële diere vir ‘n prys van N$900 tot N$2 500 per kop, of die verkoop van stoetdiere aan ander plaaslike telers en boere vir tussen N$7 000 en N$50 000.”
Hy sê die bokke wat uitgevoer word, is hoofsaaklik bedoel vir die tradisionele mark in Durban. Lewende bokke is gevolglik ook duurder as plaaslik geslagte skaap, waarvoor sowat N$25/kg betaal word. Daarteenoor is die plaaslike prys vir bokvleis sowat N$34/kg.
Botes is van mening dat die stoettelers se benutting van nuwe markte, kan help om die gaping tussen N$2 500 en N$7 000 wat vir uitvoerdiere versus teeldiere betaal word, kleiner te maak.
Jacque Els, bestuurder van die Namibiese Stoettelersvereniging (NSV), het tydens die geleentheid gesê tans is daar sowat 125 geregistreerder boerboktelers met 13 554 geregistreerde teeldiere in Namibië.
Stoetuitvoere vir die afgelope jare staan op 86 en die meeste hiervan het na Zimbabwe gegaan. Terselfdertyd staan onlangse invoersyfers op 40.
Els sê volgens die Vleisraad van Namibië is 191 351 slagbokke in 2015 uitgevoer, 158 458 in 2016 en 139 275 verlede jaar. Hy sê die jaarlikse afname in getalle is deur die droogtes veroorsaak.
GELEENTHEDE IN BUURLANDE
Hy sê die feit dat Saoedi-Arabië onlangs vyf miljoen stuks kleinvee vir US$15 miljoen in Zambië aangekoop het, behoort as aanduiding te dien van die vraag na kleinvee buite die grense van Namibië.
“Hoekom kan ons nie ook van hierdie geleenthede gebruik maak nie? Ons moet hierdie markte infiltreer, want ons het boonop uitstekende genetika waarmee ons kan werk,” het hy gesê.
Botes sê hy het onlangs na Namibië se buurlande gereis om die geleenthede te ondersoek, marknavorsing te doen en met amptenare van die onderskeie lande te praat.
“Ek het tot die slotsom gekom dat groot geleenthede wag. Nieregeringsorganisasies - meestal van Europa – is ten nouste betrokke by Afrika se landboubedryf en voorsien geld vir die aanskaffing van lewendehawe. Die geld is daar en ons het die diere; as telergenoorskap is dit ons werk om hierdie geleenthede te ontgin,” het hy gesê.
Botes sê tydens sy besoek het hy besef die gehalte van bokke in die buurlande is swak. “Om sake te vererger stuur individuele ‘boktelers’ baie kleinvee van swak gehalte na dié markte toe onder die naam van ‘Namibiese stoetdiere’. Ons name ly gevolglik hieronder. Mense koop enige bokke op kommersiële veilings en stuur dit as ‘stoetdiere’ oor die grens.
“Die markte in die buurlande is tot ons beskikking. Dit is ‘n uitstekende geleentheid vir toetreevlak-diere uit ons stoeterye wat vir realistiese pryse verkoop kan word,” het Botes gesê.
BESKERM GENEPOEL
Hy sê verder tydens sy verkenningsbesoeke het hy op nóg ‘n probleem afgekom wat hom selfs méér bekommer het.
“As stoettelers moet ons onthou: Sodra ons ons beste gehalte diere verkoop, verkoop ons die gans wat goue die eiers lê. Dit beteken oor vyf jaar van nou het ons nie meer goeie gehalte diere in Namibië nie omdat ons dit aan die buiteland vir ‘n premie verkoop het.
“Dit is aanloklik dat daar in Amerikaanse dollar vir dié diere betaal word, dus systap ons ons eie mark en voer dit uit na die res van Afrika. Dit is egter ‘n groot risiko en sleg vir ons plaaslike genepoel,” het Botes gewaarsku.
Hy sê Namibiese stoettelers kan hul buurlande met genetika en vaardighede bystaan en dat die waarde van hierdie genetika oral oor – ook plaaslik – al meer na waarde geskat word.
“Dié boere in die noorde van Namibië wat met inheemse bokke boer, het besef watter goeie eienskappe boerbokke het. Hulle koop dus stoetramme vir F1-kruisings, want 70% van ‘n boerbokram se eienskappe word na die eerste geslag oorgedra,” het Botes gesê.
Volgens hom het Suid-Afrika lankal reeds hierdie geleentheid raakgesien en voer hulle hul intreevlak-stoetdiere na lande soos Botswana, Zambië en Angola uit.
“Die markte bestaan egter reeds vir bykans dertig jaar lank en Suid-Afrika het lankal van die geleetnheid begin gebruik maak. Ons sit nader aan hierdie lande, maar het dit nog nie benut nie.
“Terselfdertyd het verskeie kommunale en bestaansboere agtergekom dat ‘n dragtige ooi se uier bykans vyf liter méér melk kan bevat as dié van ‘n inheemse bok. Hulle het dus begin met kruisteling en dit is ‘n groeiende tendens –nie net ‘n neiging nie,” het Botes gesê.
Volgens hom het boerbokke die goeie eienskappe omdat hulle reeds vir honderd jaar (sedert 1918) aan ‘n formele seleksieproses onderwerp is.
“Ons moet bestuurkskomitees op die been bring om navorsing oor die projekte te doen sodat ons bemarking daar kan gaan doen,” het Botes gesê.
Hy het bygevoeg dat plaaslike telers waarskynlik nie die volumes het om potensiële markte in buurlande na behore te diens nie.
GEBRUIK ONS KENNIS
Botes is verder van mening dat telers die regering moet nader sodat hy die plaaslike stoetdiere koop en dan na ander lande uitvoer.
“Die regering het die programme en geld hiervoor omdat dit deur eksterne instansies gefinansier word. Ons as telers het weer die diere, vaardighede, mense en kennis.”
Botes sê enkele jare gelede het die regering ‘n program gehad wat kleinvee vir kommunale boere aangekoop het.
“Daar is egter nie behoorlike stoetdiere aangekoop nie, maar eerder diere van alle verkopers op kommersiële veilings. Die program is nie behoorlik bestuur nie en geen kenners se vaardighede is ingespan nie. Gevolglik was die program ‘n absolute ramp.
“Ek kan nie verstaan hoe individuele instansies en plase in Zimbabwe gewillig is om Namibiese telers te betaal om daarheen te gaan en hul mense op te lei en te leer, maar ons eie regering wil dit nie doen nie.
“Daarom het ek verteenwoordigers van die regering hierdie inligtingsessie genooi sodat ons hierdie vrae aan hulle kan stel. Daar bestaan ‘n behoefte vir opleiding in kommunale gebiede en onder ontluikende boere.”
Hy het gesê die telersvereniging is besig om ‘n model te formuleer waarvolgens plaaslike vaardighede en kennis vir opleiding ingespan kan word.
Botes het gesê dit is belangrik dat daar plaaslik ‘n “derde generasie van telers” geskep moet word en dat die regering van plaaslike kennis en vaardighede gebruik moet maak om hierdie boere op te lei.
“Ons regering moet besef ons is hier. Ons steek ons hande op en sê ons is bereid om hom te help met sy hervestigingsprogramme, asook met ‘n model om diere beskikbaar te stel. Die regering ontvang die geld, maar ons verskaf ons dienste teen 'n uurlikse tarief en ons diere het 'n prys,” het Botes verduidelik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie