Boerdery se wins onder druk, sê landbouleiers
Alle oë op NLU-, LPO-kongres
Ronelle Rademeyer
“Daar is tans talle uitdagings in die landbousektor wat druk op die winsgewendheid van produksie plaas.
“As gevolg van die ondergemiddelde reën sedert 2013 is produksie-omstandighede tans swak tot kritiek. Rentekoerse en inflasie styg en plaas druk op voedselpryse terwyl insetkoste bly klim.
“Behalwe dat grondbelasting gaan styg, is nuwe omgewingsbelasting ook geïmplementeer. Elektrisiteitstariewe het met 16% verhoog en hoewel vleispryse wêreldwyd gestyg het, bly ons pryse onder druk.
“Verder gaan uitvoerregulasies vir vee na Suid Afrika ’n negatiewe impak op vleispryse hê.”
Só sê die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, in sy presidentsoorsig wat aanstaande Dinsdag by dié unie se jaarkongres in Windhoek sal dien.
Die produksiekoste-indeks vir die eerste kwartaal van 2016 wys steeds ’n afname in die werklike produsentepryse wat lei tot ’n meer merkbare kosteknyptang in beide die bees- en skaapbedryf in Namibië, sê mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in sy voorsittersverslag. Die LPO se kongres, waar hy ’n oorsig oor die uitdagings van die afgelope jaar gaan gee, vind plaas op Woensdag 5 Oktober.
Schneider sê die grootveebedryf het veral die afgelope tien jaar ’n harde tyd beleef, met die voortgesette droogte wat die effek vererger het. Die kleinveebedryf aan die ander kant het, selfs met ’n afname in werklike produsentepryse, ’n baie bestendiger dekade as die beesboere beleef.
Gemeet vanaf die basisjaar van 2006 (1ste kwartaal 2006 = 100), het grootvee-inkomste verhoog tot 171,29 basispunte in die eerste kwartaal van 2016, terwyl die totale uitgawes tot 254,35 basispunte in dieselfde tydperk verhoog het.
Skaapinkomste het, hoewel dit effens verswak het sedert die vierde kwartaal van 2015, steeds geeïndig met ’n meer aanvaarbare 223,37 basispunte, sê Schneider.
“Skaapinkomste het daarom verhoog met 123,37% oor die afgelope 10 jaar, terwyl beesinkomste slegs met 71,29% in dieselfde tydperk gestyg het. Die verhoging in beesinkomste bestaan uit ’n geweegde verhoging van 95,60% in die gemiddelde slagprys, sowel as ’n 57,52% verhoging in die speenkalfprys.”
Die hoë afwyking van inset- en uitsetpryse in die grootveebedryf oor dié tydperk het gelei tot ’n gemiddelde jaarlikse kosteknyptang van 7,79% vanaf die eerste kwartaal van 2006 tot die eerste kwartaal van 2016, sê hy.
Die skaapbedryf het ’n meer hanteerbare 2,69% in dieselfde tydperk getoon.
Die tema van vanjaar se kongresse, asook van die Agri Vooruitskouingskonferensie wat op 6 Oktober plaasvind, is “Ontsluit geleenthede vir die landbousektor”. (Sien die landboudagboek op bl. 6 vir meer inligting oor dié konferensie.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie