Boere bly skepties, het nie geld om te plant

Emmerson Mnangagwa wil glo met wit boere te praat oor ’n regrukplan vir Zimbabwe, maar hulle is skepties.
Die euforie van die afgelope week se “staatsgreep” in Zimbabwe en die gepaardgaande winde van verandering het hoop gebring, maar dit is nie ’n kitsoplossing vir die land se boere nie.

Dit is planttyd, maar daar is nie geld vir kunsmis en saad nie.

“Verlede jaar het die boere nog toegang gehad tot die bietjie dollars wat in die land beskikbaar was, maar nou is daar niks,” sê Wynand Hart van die Zimbabwe Farmers’ Forum.

Stories doen al maande lank die ronde dat Emmerson Mnangagwa, die uitgesette voormalige visepresident wat dié week die kern gevorm het van die verset teen pres. Robert Mugabe, besig is om met wit boere te praat oor ’n regrukplan vir Zimbabwe.

Maar hieroor is Hart skepties.

Mnangagwa se bondgenoot, Chris Mutsvangwa, leier van die militêre veterane, het twee weke gelede uit die bloute in Johannesburg ’n mediakonferensie gehou waarop hy gesê het ’n nuwe oorgangsregering met die MDC-opposisieleier, Morgan Tsvangirai, en die wit boere as sleuteldeelnemers moet gevorm word om die land se ekonomie weer aan die gang te kry en beleggers terug te lok.

Voordat die militêre veterane in 2000 nagenoeg 4 000 plase beset en minstens 12 boere vermoor het, het landbou 40% van die land se uitvoer verteenwoordig.

Net ’n dekade later was dit 3%. En met die huidige vooruitsigte gaan daar vanjaar waarskynlik niks wees nie.

“Die grondwet is die boere se grootste probleem. As daar nie die politieke wil is om artikel 72 in dié wet te skrap nie, gaan daar eenvoudig geen gelyke regte vir almal wees nie,” sê Hart. Dié artikel bepaal dat boere nie hul eie grond mag besit nie en dat buitelandse beleggers ook nie in beheer van hul eie ondernemings in Zimbabwe mag wees nie. Die grond behoort aan die staat en die staat het die reg om enigiemand van sy grond af te sit.

Mnangagwa het self voordeel getrek uit die afsetting van boere van hul plase. Hy het Sherwood Farm, ’n kommersiële plaas van 1 600 ha in die Kwekwe-distrik suidwes van Harare, oorgeneem.

Volgens Ben Freeth, wie se familieplaas, Mount Carmel, in die Chegutu-distrik in Mashonaland-Wes in 2009 deur veterane beset en afgebrand is, word Sherwood Farm met die hulp van wit boere in die omgewing bedryf.

“Mnangagwa is geen boer nie. Hy is nooit langer as ’n uur of twee op sy plaas nie,” sê Freeth. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer