Boere en ekonome veg terug teen onteiening
Boere en ekonome veg terug teen onteiening

Boere en ekonome veg terug teen onteiening

Jacob Rooi - Boere en regskenners werk aan ’n plan om boerderye as maatskappye te registreer in lande soos Mauritius om hul eiendom te verskans teen onteiening sonder vergoeding.

Ingevolge handelsverdrae wat Suid-Afrika met talle van sy bure in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het, mag die ondertekenaars nie mekaar se beleggings sonder vergoeding onteien nie.

Daarmee saam het Santam reeds ’n polis ontwikkel wat grondeienaars kan uitneem vir regskoste sodat hulle in die geval van onteiening ’n groepsgeding teen die staat kan instel.

Dié planne is Dinsdag by die Castle De Wildt-sentrum buite Modimolle (Nylstroom) aan boere van die omgewing verduidelik.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het Woensdag ’n verslag oor onteiening sonder vergoeding in Amerika uitgereik. Die IRV sê die beleid is ’n aanslag op eiendomsreg en die vrye mark in Suid-Afrika.

“Die ondermyning van eiendomsreg in Suid-Afrika hou ernstige implikasies in vir Amerikaanse beleggers in Suid-Afrika en vir die strategiese belange van die Verenigde State,” sê die IRV.

Oor die terugvegplan sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sake-organisasie AfriSake, die idee is om ’n korporatiewe belang te verkry in ’n land wat handelsverdragbeskerming met Suid-Afrika geniet en só te verhoed dat bates sonder vergoeding onteien word.

Suid-Afrika het handelsverdrae met verskeie lande in die SAOG. Dit sluit die Seychelle, Mauritius, Botswana, Angola, Namibië en Zambië in.

Volgens Jacques Classen, regskenner van Jacques Classen Prokureurs en Vennote van Pretoria, geld die plan vir enige grondeienaar, “insluitende die Zoeloe-koning wat deur die Ingonyama-trust ’n eienaar is”.

Classen sê ’n SAOG-tribunaal dwing die verdrae tussen die lande af. “Die tribunaal neem besluite oor onder meer menseregtevergrype en alle SAOG-lande neem daaraan deel.”

Zimbabwiese boere het in 2008 ’n soortgelyke saak by die SAOG-tribunaal gevoer en die tribunaal het toe pres. Robert Mugabe se grondgrypprogram onwettig verklaar.

Classen sê die Suid-Afrikaanse appèlhof het gesê die verdrae en die tribunaal word erken. “Die tribunaal se besluite is dus afdwingbaar in ’n Suid-Afrikaanse hof.

“Ons sê as jy kwalifiseer as ’n regsentiteit in ’n ander SAOG-land omdat jy ’n maatskappy daar het, kan die regering nie handelsverdrae misken en dit verbreek nie.”

Classen sê handelsverdrae val in die sfeer van die internasionale reg, word kontraktueel gereguleer en kan nie eensydig by wyse van ’n grondwetlike wysiging aangepas word nie.

Hy sê die plan kan ook as grondslag dien om op ’n meer regverdige voet met die regering te onderhandel. Hulle wil ook probeer om die regering te oortuig om boere wat vrywillig hul boerderye transformeer te beloon met byvoorbeeld toegang tot Landbank-krediet.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het in sy voorlegging gesê die funksie van die staat is “om na jou en jou goed om te sien”.

Hy het verwys na die verswakkende ekonomiese situasie in die land, en hoe regerings se skuldvlakke wêreldwyd styg.

Die bevolkingsgroei is 2,2%, maar ons ekonomiese groei is “myle daarvan weg”. Om die vereiste indiensnemingsvlakke te handhaaf, moet die ekonomie teen 3% groei. Maar bykans 10 miljoen mense is werkloos, “so eintlik moet ons vir jare teen so 5% groei”.

“Daarom moet ons ophou met dreigemente om mense se grond te steel. Dit gaan nie net oor grond nie, dit gaan oor enige eiendom. Dit skrik mense af, en dit veroorsaak onsekerheid.”

Le Roux sê saam met die plan kom ’n versekeringskomponent. Daar is reeds ’n korttermynversekeringsproduk van Santam op die tafel.

“As daar dus regstappe kom, geniet jy regsbeskerming. ’n Groepsgeding kan ontstaan en die versekeringsproduk gaan dit finansier. As jy dit alleen doen, is dit baie duur,” sê Le Roux. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!