Boere gemaan om uit te kyk vir peste, plae
Ronelle Rademeyer
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming maan boere dat berigte reeds ontvang is oor plantpeste en -siekte – 'n situasie wat aan die goeie reënval en warm toestande toegeskryf word.
Namibië het die afgelope vier jaar tydens die droogte nuwe indringerspesies waargeneem. Die verwagting is dat oorgrenspeste en -siektes soos koringkrieke, Afrika-kommandowurms en herfskommandowurms, tamatieblaarmyners, vrugtevlieë en die Afrika-treksprinkaan mag voorkom in die streke waar gewasse verbou word. Buiten die noordelike kommunale streke, sluit dit ook Otjozondjupa en Omaheke in.
In laasgenoemde twee streke geskied akkerbou veral in die mieliedriehoek asook by Hochfeld, Summerdown en Gobabis. In die Hardapstreek is die Hardapskema buite Mariental en Stampriet spensgebiede van akkerbou.
Mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur in dié ministerie, sê akkerbou is toenemend onder druk vanweë die aanslag van peste en siektes. Hy sê dit is waarom doeltreffende plaag- en siektebeheer so noodsaaklik is.
Misika moedig boere aan om gereeld hul landerye te besoek sodat sulke oesbedreigings betyds opgemerk word.
Uitbrekings moet dadelik by die naaste landbouvoorligters aangemeld word. Hulle sal boere oor die regte plaagbeheermiddels en -metodes inlig en seker maak goeie gewasbestuur word toegepas, sê Misika.
Hy het boere in die tien akkerbouproduserende streke aangemoedig om gebruik te maak van die ministerie se gewasproduksieprogram wat insette teen gesubsidieerde pryse aan produsente beskikbaar stel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie