Boere in die Benede-Oranje teen vloed gewaarsku
Boere in die Benede-Oranje teen vloed gewaarsku

Boere in die Benede-Oranje teen vloed gewaarsku

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Verskeie landbou-organisasies en regeringsinstellings in Suid-Afrika asook in Namibië het ­oewerboere in die Benede-Oranjeriviergebied teen vloede in die komende week gewaarsku.

Die landbou-organisasie Raisins South Africa het reeds verlede week 'n waarskuwing uitgereik, terwyl die adjunkdirekteur van hidrologie in die ministerie van landbou, water en grondhervorming, me. Paulina Mufeti, die naweek daarteen gewaarsku het.

Dit blyk uit die Suid-Afrikaanse departement van water, landbou en bosbou se data oor die stand van damme in die Oranjerivier dat die Gariepdam gister 120% was, en 'n maksimum uitvloei van 2 700 kubieke meter water per sekonde gehad het.

Die Vanderkloofdam laer af in die Oranjerivier, sal môre 114% vol wees, met 'n verwagte uitvloei van 2 400 kubieke meter water per sekonde.



BLOUPUTS

Mufeti het aan Nampa gesê die watervlak by Blouputs se hidro­logiese stasie het ­Saterdag tot 2,89 meter gestyg, ­vergeleke die 0,36 m wat dit verlede jaar dieselfde tyd was. Teen laat gister het dit met 'n verdere sowat 1,5 m tot 4,21 m gestyg. By Sendelingsdrift was die rivier se vlak gister 1,75 m.

Sy het gesê mense langs die Oranje­rivier moet op 'n hoë gereedheidsgrondslag wees. “Daar is myne en druiweplase langs die rivier, en 'n groot klomp water is op pad,” het sy gewaarsku.

Mnr. Wilco Fourie, wat by Groblershoop in die Noord-Kaap aan die Oranjerivier boer, sê die piek van die vloedgolf water sal Prieska teen môre bereik.

“Dit duur dan 'n dag en 'n half voor dit by Upington kom, en nog 'n dag 'n half later bereik dit Blouputs in Namibië,” sê Fourie. Hy het intussen 'n WhatsApp-groep begin om vloedinligting met oewerboere te deel.

Volgens hom word 2 600 – 2 800 meter water per sekonde in die Benede-Oranje­riviergebied verwag.

Na verwagting sal die groot vloedgolf boere by Noordoewer en Aussenkehr teen die naweek bereik, sê Fourie.

Mnr. Albert van der Merwe van Sonop Boerdery by Noordoewer was gister heeldag besig om voorbereidings teen die vloed te tref. Volgens 'n woordvoerder by sy kantoor is walle gemaak om water uit die landerye te hou.

Mnr. Kobus Botma van Capespan Namibia by Aussenkehr sê die tafeldruifboere moet hulle waterpompe na hoër gebiede verskuif.

“Hier is nie ­woonhuise onder die vloedvlak nie en die wingerde lê hoog. Die pompe is ons enigste probleem,” het hy gesê.

Vorige groot vloede was in 1974, 1988 en in 2011.

 [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer