Boere, NDF glo slaags oor weiding
Boere, NDF glo slaags oor weiding

Boere, NDF glo slaags oor weiding

’n Skermutseling oor weiding het glo gister naby Karibib plaasgevind.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die bevelvoerder van die polisie in die Erongostreek het gister die spanning oor weiding wat breekpunt bereik het tussen boere van die Otjohorongo-gemeenskap naby Karibib en die Namibiese weermag (NDF) voor die deur van politici gelê.

Volgens komm. Andreas Nelumbu was die situasie kalm “tot politici die gebied besoek het”.

“Die situasie was tot nou toe kalm. Daar is baie mense wat swaarkry weens die droogte, maar hulle het vreedsaam geleef,” het Nelumbu by navraag gesê oor beweringe dat boere gister deur lede van die weermag aangerand is.

Boodskappe is op WhatsApp-groepe versprei waarin beweer is boere wat met hul vee in die padreserwes by weermaggrond naby Karibib wei, is deur lede van die NDF aangerand.

“Ten minste een boer se arm is gebreek. Ander het die berge in gevlug,” het een van die boodskappe gelui.

Mnr. McHenry Venaani, leier van die Popular Democratic Movement (PDM), het die gebied Maandag besoek om met boere oor hul weidingsnood te vergader.

Hul diere wei in die padreserwes in die Etiro-boerderygebied, maar konflik ontstaan wanneer die vee op die weermag se plaas na spreekwoordelike groener weivelde gaan soek.

Volgens videomateriaal van die saamtrek vroeër die week was die weermag in groot getalle teenwoordig. Op die video kan gesien word hoe verskeie weermagvoertuie, ’n bus en pantsertuig aangery kom.

Republikein het met Venaani gepraat toe hy gistermiddag opnuut na die gebied op pad was om te gaan bepaal hoe ernstig die skermutseling was.

“Meer as 14 boere is aangerand. Selfs die man wat vir NamWater water daarheen aanry, is aangerand. Ek is op pad soontoe, want hierdie kan ’n geval van misdade teen die mensdom wees,” was sy woorde.

Volgens Nelumbu het hy teen druktyd gisteraand steeds gewag op ’n “objektiewe verslag” van senior polisiebeamptes oor wat gebeur het.

Hy sê tot hy konkrete inligting en bewyse het, bly dit net bewerings.

Lt.kol. Petrus Shilumbu, woordvoerder van die NDF, se antwoord op die vraag oor of die aanrandings waar is, was: “Hoegenaamd nie. Praat met die polisie op die grond.”

Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Cleophas Mutjavikua, het op sy beurt ’n beroep op Namibiërs gedoen om in hierdie moeilike tyd saam te staan.

Hy het aan Republikein gesê hy is oor die voorval ingelig, maar wag ook nog vir die verslag.

“Ek het gehoor mense moes vir behandeling gaan, maar weet nie van iemand wat in die hospitaal opgeneem moes word nie,” het hy gesê.

“’n Mens sou verwag dat ons in hierdie donker tyd in ons land se geskiedenis mekaar se hande sal vat en as ’n land in die gees van harambee sal saamstaan,” was sy reaksie oor die gebeure.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!