Boere vlug met droogtevee na hoofweë
Des Erasmus
In ’n stryd op oorlewing in die Erongostreek is meer as 100 droogtebeeste op ’n enkele dorpserf saamgebondel.
In die gebied tussen Omaruru en Kalkfeld, asook tussen Omaruru en die private wildtuin Erindi en die gasteplaas Mount Etjo moes die polisie reeds tussenbeide tree waar met troppe van tot 200 beeste rivier- en padlangs met die hoop op uitkoms getrek word.
Die kommunale gebied om die Omatjete-nedersetting noordwes van Omaruru word die ergste deur ’n droogte geteister soos wat huidige geslagte nog nie ervaar het nie. Van die Omatjete-boere is so raadop dat Okakarara hul verre bestemming op hul trekpad is. Die troppe is uitgeteer, ontwater en vrektes kom daagliks voor. Ook die roetes waarop beweeg word, is verskroeide aarde sonder reën en weiding.
Die voorvalle beklemtoon die katastrofe wat hom nou in die gedoemde gebiede afspeel.
Die man van Karibib op wie se dorpserf 116 beeste beland het, is mnr. Alfons Haukambe, ’n werker van die Navachab-goudmyn net buite die dorp. Terwyl hy nie herwaarts of derwaarts met die uitgehongerde diere geweet het nie, is ’n boete van N$12 300 hom ook opgelê vir die grootvee wat hy op ’n munisipale erf aangehou het. Ná sy belewenis van Vrydag is die beeste wel teruggejaag na die regeringsplaas Okongava, sowat 12 km buite Karibib.
Okongava is nou staatsgrond nadat die regering dit van ’n kommersiële boer gekoop het. Terwyl daar op die oordrag van die grond gewag word, voer ’n man aan dat die grond aan hom toegeken gaan word. Haukambe het op sy beurt nie herwaarts of derwaarts geweet met sy trop van 170 beeste wat in die kommunale gebied by Omatjete noord van Omaruru aangehou was nie. Terwyl met die oordrag van Okongava gewag is, het hy daar tydelike uitkoms vir sy kudde gekry wat toe op 170 beeste gestel is. Die beeste wat op sy dorpserf saamgebondel was, was net 116.
’n Vermoede is dat die aspirantboer van Okongava opdrag gegee het dat die beeste van die plaas verwyder moet word. Toe is sonder Haukambe se medewete met die trop na die dorpserf van Haukambe getrek. Die werfhek is toe op hulle toegetrek en met stringe dik draad vasgebind. In die kudde was heelwat jong beeste, maar ook kalwers waarvoor die uitgeteerde koeie nie melk het nie.
Nadat die beeste tydelik na Okongava teruggebring is, is noodmaatreëls wel getref om vir die kalwers ’n bietjie melk te kry.
Terwyl Haukambe kennis geneem het van die boete van N$12 300 wat hom opgelê is, was aanduidinge gister dat dit ook gaan dien in ’n hofsaak wat gaan kom, met Haukambe wat besig is om regsmening in te win.
Op Omaruru is verlede week ’n trop van tot 180 beeste uit die Omatjete-geweste net suid van Omaruru op die teerpad na Karibib in die bedding van die Omarururivier gejaag. Die rivierbedding was toe reeds kaalgestroop deur vorige troppe van Omatjete waarvoor hier uitkoms gesoek is. Die beskikbaarheid van water vir suiping is in die rivierbeddings ’n selfs groter probleem vir wagters met die swerfkuddes. Met dié beeste is in die rivier ooswaarts getrek met ’n bewering dat gister reeds by Erindi verby is en daar nou in die rigting van Mount Etjo getrek word.
Toe die wagters en eienaars deur die polisie gekonfronteer is, was hul bewering dat hulle met die beeste op pad is na Okakarara nadat hulle verneem het daar het ’n bietjie reën geval. Die roete van Omatjete, oor Omaruru, Erindi en Mount Etjo na Okakarara is ’n lang omweg terwyl ’n baie korter roete van Omaruru oor Kalkfeld en dan in die rigting van Otjiwarongo sou wees.
Van die wetstoepassers wat die trekkers gekonfronteer het, beweer hulle is deur arrogante wagters begroet. Die trekboere het blykbaar wel gehoor gegee aan ’n opdrag dat daar minstens 8 km per dag getrek moet word.
Net oos van Omaruru is Saterdag op ’n trop van ’n geskatte 200 beeste tussen die dorp en die Omaruru Game Lodge in die padgorrel afgekom. In die padstrook is nie water nie en die bietjie veld wat daar was, is reeds deur vorige troppe afgevreet.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie