Boerekos op die spyskaart
Dolla Bruce, 'n gebore Namibiër, woon al vir meer as 20 jaar in Mui Wo op die suidelike deel van Lantau-eiland in Hongkong, waar sy 'n nismark vir boerekos gevind het.
Estelle de Bruyn
Dr. Jan Spies was haar fonetiekdosent aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en sy ken Republikein goed.
Dolla Bruce, 'n gebore Windhoeker, se pa was 'n staatsamptenaar in die ou Suidwes-Afrika se administrasie. Gevolglik het die gesin baie rondgetrek en Dolla het haar eerste skooljare op Walvisbaai deurgebring. Van hier af is die gesin Gobabis toe, en toe is haar pa Rundu toe verplaas. In dié tyd het Dolla op Grootfontein skoolgegaan en in die koshuis gebly.
In 1971 is sy terug Gobabis toe waar sy matriek voltooi het. Haar universiteitsloopbaan het aan RAU afgeskop, maar tydens haar eerste universiteitsvakansie was sy in 'n ernstige motorongeluk en haar skedelbeen is gekraak.
Ná haar herstel is Dolla nie dadelik terug universiteit toe nie. Sy het eers vir Enok op Rundu en daarna vir Taeuber & Corssen in Windhoek en later vir Imkor Sink op Rosh Pinah gewerk. Op die ouderdom van 27 is sy terug universiteit toe waar sy 'n graad met sielkunde en bedryfsielkunde as hoofvakke verwerf het. Sy het ook 'n nagraadse kwalifikasie in bedryfsosiologie voltooi.
Dolla was destyds die enigste student wat militêre sosiologie as vak op nagraadse vlak geneem het. Sy was ná voltooiing van haar studies die eerste vrou wat deur Sasol op Secunda in bestuursontwikkeling aangestel is.
Hierna het sy by Trustbank in Johannesburg gaan werk.
Hier het 'n konsultant, wat haar in rasionele denkprosesse opgelei het, haar gekontak en gevra om saam met hom 'n konsultasie-onderneming te begin, waartoe sy ingestem het.
Op 40 is Dolla vir die tweede keer getroud. Die keer met 'n Britse man wat as bourekenaar Hongkong toe verplaas is om aan die nuwe lughaweprojek te werk. In April 1994 verhuis sy na Hongkong met drie honde en een kat en vestig haar op Lantau-eiland.
Nuwe begin
“Vir die eerste twee weke het ek gedink dit was fantasies. Ons het in 'n klein huisie op die strandfront ingetrek ná ek gewoond was aan 'n landgoed van 10 ha in Honeydew, Johannesburg.
“Ná twee weke het ek uit verveling al die meubels uit die huis gesleep en die plafonne gewas. Ek was nie gewoond aan niksdoen nie. Iemand vertel my toe 'n kroeg by Tong Fuk is te koop. Dit was 'n regte 'dump'. Dit was op die straat en mense het gevra wat ek daarmee wil doen. Ek het 'n multibraai van Pretoria af ingebring en in die hoek gesit en naweke begin braai. Ek het my eie wors begin maak. Die soektog na derms was nogal interessant, veral om dit aan die Chinese te probeer verduidelik.
“Binne drie maande was die plek gepak. Ek het bedags om 12:00 die braai aangesteek en teen 20:00 het ek nog nie eers kans gehad om 'n draai te loop nie. Die plek se naam, as dit regstreeks uit Chinees vertaal word, was The Plentiful Banqueting Gallery en kortweg The Gallery. Ek het die naam behou, want ek het die bestaande lisensie oorgeneem.
“Vervoer van die hoofeiland af na Lantau was destyds net per veerboot en bus, maar mense het oor naweke van Hongkong-eiland af gekom om te kom eet. Ek het 'n leweransier gekry wat tussen 12 en 16 heel sirloins op 'n slag uit Australië en Nieu-Seeland ingevoer het. Alles moes met die veerboot kom en ek het 'n ou stasiewa gehad wat as die Flintstone Mobile bekend gestaan het. Benewens die bokse vleis het ek ook bier laat aflewer, wat ek self van die boot af tot in die stasiewa moes kry.
“Deesdae is dinge darem baie makliker en die leweransiers lewer die bestellings by die restaurant af.
laaste Britse goewerneur
“Chris Patten was die laaste Britse goewerneur van Hongkong. Op 'n dag kry ek 'n oproep van Government House af. Hy en sy vrou en die sekretaris, asook hul veiligheidspersoneel kom die naweek Lantau toe vir 'n staptog en wil tafels by The Gallery bespreek. Ek het die personeel streng opdrag gegee om dit nie wyd en syd bekend te maak nie en die mense hul privaatheid te gun.
Ná die tyd het iemand van Government House gebel en gesê Patten sê die brood wat ek bedien het (en self gebak het) was nie net die lekkerste brood in Hongkong nie, maar die beste brood wat hy al ooit geëet het. Die sjef by Government House wou graag die resep hê. Ek het gesê dis onmoontlik, want ek gooi 'n hand vol dit en 'n hand vol dat in en die sjef moet maar liefs na die restaurant kom en kom kyk hoe ek die brood bak.
Government House laat weet toe ek moet liewer daarheen kom vir die demonstrasie. Ek het al die bestanddele en my Kenwood-menger ingepak. By Government House was daar 'n stuk of ses sjefs wat moes leer en mev. Lavender Patten wou self ook die demonstrasie bywoon. Ná die tyd het hulle my op 'n toer deur die hele woning geneem.
“Dit was tye van verandering. Suidwes-Afrika het in 1990 Namibië geword, Suid-Afrika is in 1994 gedemokratiseer en in 1997 het die Britte Hongkong terug aan China besorg. In Hongkong het ek egter nie groot veranderinge ervaar nie.
“Ná vier jaar by The Gallery, waar ons troues en groot funksies gehou het, het ek 'n oproep van die eiendomsagent gekry dat die perseel verkoop is. Daar was egter 'n ander plek by Wing Tim Cay, wat aan 'n man van China behoort het. Hy wou hê 'n Westerling moet die restaurant daar oorneem. Dit was maar 'n karige plek met sementvloere en harde musiek en die restaurateur se kinders het sloef-sloef die kos bedien. Dit was egter op 'n fantastiese plek geleë.
The Stoep
Ek het die uitdaging aanvaar en The Stoep begin. Ek kon dit nie “Die” Stoep noem nie, omdat dit in Engels “dood” sou beteken. Ek het die plek binne en buite laat teël, ontslae geraak van die 44 gallon-oliewoks en drie maande later die deure geopen.
Oor die jare het dit baie bekend geword en werklik 'n ikoniese eetplek in Hongkong geword.
“Aan die einde van 2005 het ek begin dink dit is tyd dat ek huis toe gaan. 'n Vrou wat ek op die eerste dag met my aankoms in 1994 ontmoet het, Mei, het oor die jare by The Gallery en The Stoep betrokke geraak en met my besluit om na my eie geweste terug te keer, het sy in 2005 die leisels van die restaurant oorgeneem.
“In die agt-en-'n-half jaar wat ek weg was, het ek onder meer in Suid-Afrika en ook by Camp Kwando en by die Ichingo Cjobe River Lodge op Impalila-eiland gewerk.
“In my afwesigheid uit Hongkong het Mei die High Tide-restaurant, net langs The Stoep, oorgeneem. Dis was 'n Thaise restaurant. Met al die verpligtinge het die aandag en fokus by The Stoep verskuif en baie van die werk is aan die personeel oorgelaat. Die gevolg is dat die standaarde verswak het. Die dae toe The Stoep altyd onder die toptien buitelugrestaurante in Hongkong was, 'n foto van een van ons nageregte selfs op die voorblad van die tydskrif van 'n plaaslike Sondagkoerant gepryk het, en toe ons in goeie weer tot 150 mense onderdak en nóg 50 op die strand bedien het, was verby.
“Ek was vir agt jaar uit Hongkong weg toe Mei my skakel en vra of ek nie wil terugkom nie, want hulle kom nie die mas op nie.
“My hond is in daardie tyd dood en niks het in my pad gestaan nie. Drie maande later, in 2013, was ek terug in Hongkong.
“Ek het probeer om The Stoep weer reg te ruk, die dekor is verander en die personeel is gedissiplineer. Aan die einde van die jaar wou die eienaar egter nie ons kontrak hernu nie. Dit was hartseer, want in 1998 toe ons begin het, wou niemand 'n restaurant daar oopmaak nie. Ons het die weg gebaan en daarvan 'n gewilde restaurant-bestemming gemaak wat die weg vir ander restaurante in die omgewing gebaan het,” vertel Dolla.
Teen dié tyd is paaie en verbindings met die ander eilande verbeter en baie personeel van die Hongkongse lugredery Cathay Pacific het hulle op die eiland kom vestig omdat dit na aan die lughawe was.
'n Ander restaurant het in die plek van The Stoep geopen en binne twee-en-'n-half jaar was daar reeds drie huurders.
“In 2014 het ek The Stoep op die strand oopgemaak.”
Mei se huur van die perseel waar High Tide gehuisves is, is later dieselfde jaar ook nie hernu nie. Die twee vriendinne en voormalige sakevennote se restaurante was nou ver van mekaar geleë en die wedersydse ondersteuningsnetwerk was net nie daar nie. Dolla moes oor die jare, benewens die rolle van sjef, restauranteienaar en -bestuurder, alles self hanteer en moes haar lyf ook loodgieter, elektrisiën, skrynwerker, verwer en nutsman hou.
Stoep at High Tide
Vroeër vanjaar het Mei en Dolla koppe bymekaargesit en besluit om die restaurantbedryf weer saam aan te pak.
Op 7 Julie vanjaar is Stoep at High Tide op die River Walk in Mui Wo op Lantau-eiland geopen. Dolla het die perseel self uitgeverf, die tafels afgeskuur en met vernis geverf, die dekor verander en die nuwe spyskaart beplan.
Die enigste oorblyfsels van Stoep se voorgangers is die oorspronklike naambord, wat nou binne die restaurant pryk, en twee metaalgekko's teen die mure wat 'n tikkie herinnering aan haar heimat verteenwoordig.
Dolla vertel tot dusver is die reaksie op die nuwe spyskaart in die nuwe restaurant uitstekend. Dit bevat Asiatiese fusion-kos, Thai-kos en ook boerekos, wat op 'n unieke manier 'n plek op die spyskaart tussen al die eksotiese Oosterse geregte gekry het.
“Wanneer mens 'n spyskaart beplan, kan jy nie net kyk na wat vir jou gemaklik is om voor te berei nie. Jy moet ook die bestellingspatroon in ag neem, wat nou heel anders is as in die vorige restaurante.”
Van die disse op Stoep se spyskaart waarna kos-foendi's kan uitsien, is biltongslaai en boerewors wat Dolla self maak.
Sy gebruik nie vooraf gemengde speserye nie, ook nie preserveermiddels nie. Sy maak elke week wors, genoeg om in die restaurant te gebruik. Sy skroei die koljander self, voeg bietjie naeltjies, neutmuskaat en baie rooiwyn by vir 'n unieke Dolla-boereworsresep. Afgesien hiervan is die bobotie, bedien met Mrs. Ball's se blatjang, en tamatiebredie baie gewild. En vir 'n soetigheidjie om die ete mee af te sluit en die heimwee na boerekos minder te maak, is daar 'n Peppermint Crisp-tert, tipsietert en malvapoeding uit die boonste rakke.
Die gewildste bier op die spyskaart is Tafel Lager. Hoe dan nou anders?
“Ek sal altyd vir Namibië lief bly en as ek op Facebook foto's sien wat my pelle van besoeke aan Etosha plaas, is die verlange groot,” erken Dolla.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie