Boererate neem wapen op teen skimvegters van die winter
Elke dag giet ta' Malie van Namakwaland twee knertsies, een net voor slapenstyd en een met die opstaanslag. Dis om die bobbejaan agter die bult te hou, sê sy.
Daardie kees se kind is die teisteringe wat hier in die wintermaande kom wanneer die koue winde oor die Koringberge waai en die ligte reënvlae van die winter bring. Gewone boereverkoues, griep, inflammasie van die longe, mangelontsteking en al daai.
Dis hul eie plaas se doppie wat sy skink uit twee brousels wat hulle self gestook het uit die bietjie wingerd wat oorgebly het voordat die Boland se druif sy stryd teen die Knersvlaktes verloor het. Voorsorg en Nátroos noem sy die snapse wat hulle berei en met die einste etikette beplak. Hulle noem dit brandewyn, maar die kleur is 'n amperse lig soos die Bosveldse mampoer.
Waar sy voordag haar houtstoof stook en 'n lastige krulsliert onder haar brilgase wegvee, vertel Malie sawends is dit 'n snapsie Nátroos vir die dag wat siektevry verby is. Die Voorsorgie sluk sy voordag om as wagter te dien teen die bose pok wat die sukkelsonnetjie kan bring. Vir haar is elke winter siektevry.
Daar is baie boererate ter voorkoming van die wintersiektes. 'n Staatmaker is om altyd warm te gaan slaap. Onder twee lappieskomberse is beter as net een. Daar kan liefs 'n bietjie in die kooi gesweet word as om bedags van die koors te beef.
'n Ou resep teen 'n virus wat sy vat kom kry het, is 'n glasie warm Nagmaalwyn saam met twee Disprins net voor slapenstyd. Gebruik net een glasie, anders staan 'n ander leeu straks in jou op.
Vir die kleinspan had baanbrekers ander rate met Vicks wat een van die belangrikste hulpmiddels is. Vicks word slapenstyd in 'n taamlike dik laag oor die kabouters en -sters se voetsole gesmeer. Nog Vicks vir die borsies en die kuiltjies. Is die kiem se huursoldate koorsblare, help dit om die plekkies met tandepasta in te vryf.
Dok Spies het vertel hoe die kleinding van 'n plaaswerker eens deurgehaal is. Die buksie het al na sy asem gesoek toe sy ma by die opstal geklop het. Puma-balsem. Dit het Dok onthou. 'n Bietjie water en 'n skeppie Puma om die boom van 'n potjie toe te maak, 'n vlammetjie van onder, dan die gesiggie oor die houer sodat die stoom ingehaal kan word. Maak die kop toe om elke teug in te kry.
Sommer met 'n handdoek. Maar hoe? Al hitte wat die ma kon kry, was die vlam van 'n primusstofie. Al potjie was die nagpotjie. So is die stofie gepomp, die balsem gesmelt, het die wasem ontstaan en is die kleinding later met sy gesiggie na die kontrepsie gehou. Al knielend het Dok die stofie gepomp.
Sommer die volgende oggend het die knaap gekerm om buite op die grasperk in die krakende ryp te speel.
Op die noordoewer van die Gariep het boere en boerinne gekla van winterpyne wat kom wanneer 'n mislaag voordag oor die waters van die Oranje hang. 'n Geleerde Kaapse George wat hier Jors kom word het, het gekla van sciatica (heupjig) wat hy hier kom kry het.
'n Ander geleerde het gevolg en van lumbago (lendepyn) gekla. 'n Boerebuurman het weer van sy volstruisknieë gekla, hulle knak vorentoe en agtertoe. Al raat wat die manlike lyers aan die verwante rumatiese pyne gehad het, was die dra van klein aartappeltjies in hul broeksakke, een in elke sak. Miskien was dit die ontdekking van die helende krag van die Afrika-aartappel.
Alles om soos ta' Malie die bobbejaan agter die bult te hou. “Hou hom daar. So nie kan dit nodig word om die bult agter die bobbejaan te gaan haal. "Dis erg, baie erg," sê sy.
Toe ek laas van Malie gehoor het, was sy 92.
Perdfris en gesond.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie