Boikot onafhanklikheidsfees, su00ea PDM
Boikot onafhanklikheidsfees, su00ea PDM

Boikot onafhanklikheidsfees, sê PDM

Volgens die jeugleier van die amptelike opposisie het Namibië geen rede om partytjie te hou nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Mens vier nie jou verjaardag wanneer jy siek is nie.

Omdat Namibië tans siek is, behoort die land se 30ste herdenking van onafhanklikwording ook nie op 21 Maart 2020 gevier te word nie.

So sê die sekretaris-generaal van die jeugliga van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. Bensen Katjirijova. “Ons land is ’n gemors,” sê hy.

Me. Duminga Ndala, sy eweknie by die Landless People’s Movement (LPM), gee hom gelyk.

Volgens haar sal hulle dié dag eerder gebruik om diens te doen in die gemeenskap, byvoorbeeld om gratis sanitêre doekies te versprei.

Ndala sê 30 jaar nadat die land uit die kloue van apartheid en kolonialisme bevry is, is dit nie meer genoeg om politieke vryheid te vier nie.

In dié stadium handel die stryd oor ekonomiese bevryding, het sy Maandagaand op Talk of the nation (TON) op NBC gesê.

Dr. Alfredo Hengari, die woordvoerder van pres. Hage Geingob, het gister gesê: “’n Nasie gaan oor geskiedenis, grensgebied, regering en gedeelde aspirasies. 21 Maart 2020 is ’n mylpaal vir ons gemeenskaplike agenda – drie dekades van vryheid en demokratiese instellings.

“Uitdagings bly – hulle is gesamentlik en ons moet hulle almal saam as ’n verenigde groep pak.”

Hengari sê die dag wentel nie net om die land se demokraties verkose president nie. “Dit handel oor Namibiërs wat ons oorwinnings moet vier.”

Kort nadat hy dié boodskap in die sosiale media geplaas het, het ene Rirua Komeheke daarteen uitgevaar: “Dr. Alfredo Tjiurimo Hengari, julle ouens laat patriotisme proe soos daardie goed wat ons in die toiletpotte los. Jy kan nie vir so lank teen die wil van die mense praat nie. Die mense is moeg en julle ouens is die probleem, boet.”

Mnr. Gelson Dumeni, woordvoerder van die Swapo-jeugliga, het Maandagaand op TON gesê dit is geen geheim dat Namibië met uitdagings stoei nie.

Maar, sê hy, hy sal nie die verrigtinge wat na berig teen N$1 miljoen in die Onafhanklikheidstadion aangebied word, misloop nie omdat daar syns insiens wél rede is om fees te vier.

Mnr. Simon Taapopi, die president van die Namibiese Nasionale Studenteorganisasie (Nanso), sê onafhanklikheidsvieringe behoort nie verpolitiseer te word nie.

Volgens hom is daar genoeg ander dae om aan politiek te wy. Onafhanklikheidsdag moet gebruik word om die opofferings en oorwinnings in oënskou te neem, sê hy.

Mnr. Engel !Nawatiseb, die adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie, het verlede week gesê hy het met skok van die PDM-boikotberoep gehoor.

Hy is bekommerd oor die land se toekoms as sulke pleidooie uit die geledere van die jeug kom, het hy op ’n nuuskonferensie gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!