Bok-amok by WP gesaai
Bok-amok by WP gesaai

Bok-amok by WP gesaai

Rugby
Stephen Nell - Die mat is gister onder die Westelike Provinsie se voete uitgepluk met sy voorbereiding vir Vrydag se kritieke Curriebeker-rugbywedstryd teen Griekwas, toe vier van sy voorste spelers Springbok-kamp toe ontbied is.

John Dobson, die WP se afrigter, het nooit verwag om die Bok-kaptein, Siya Kolisi, vandeesweek be­skikbaar te hê nie, maar die Bokke het boonop op die heelagter/vleuel Dillyn Leyds, die haker Scarra Ntubeni en die vaskopstut Wilco Louw beslag gelê.

Of Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, beplan om enige van laasgenoemde terug te stuur, moet nog gesien word, maar dit kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Sonder Leyds sal 'n fikse SP Marais weer in die agterste driehoek in­skakel, terwyl Chad Solomon vir Ntubeni behoort te vervang.

Op vaskopstut kan óf Carlu Sadie óf Neethling Fouché in Louw se plek speel. Om vir Louw en Ntubeni saam te verloor, is 'n enorme slag vir die Kapenaars, omdat hulle baie op skrumkrag staatmaak om wedstryde te beheer.

Solomon word meer aan sy beweeglikheid geken as sy spel in die vaste fasette en die Streeptruie gaan waarskynlik nie met 'n gevestigde voorry-kombinasie opdraf nie.

Dít teen 'n span wat uiters gedug op sy tuisveld is.

Marais kan danksy sy skopstewel wel vir die WP 'n troefkaart wees.

“SP se linkervoet is 'n puik wapen en sy vermoë om van lang afstande af pale toe te skop, bied ook vir ons 'n baie goeie opsie,” sê Dawie Snyman, die WP se agterlynafrigter.

“Hy moes hom aan ons wedstryd teen die Goue Leeus onttrek, maar was eintlik al gereed vir die afgelope naweek se wedstryd teen die Pumas.

“Ons het egter op kontinuïteit besluit omdat Dillyn, Sergeal Petersen en Seabelo Senatla uitgeblink het. SP lyk egter goed.”

Snyman het bevestig dat Damian Willemse van sy besering gaan terugkeer en die enigste vraag is of hy in die beginspan of op die plaasvervangersbank gaan wees – waarskynlik as 'n losskakel.

“Damian gaan in 'n stadium moeg raak. Hy sal waarskynlik vir 'n helfte speel, dalk minder.

“Die probleem om 'n speler wat van 'n besering terugkeer op die plaasvervangersbank te kies, is dat hy dalk 'n besering kan opdoen. Dán kan jy nie die wedstryd beheer nie,” sê Snyman.

Terwyl die WP beïndruk het teen die Pumas die afgelope naweek sê Snyman daar was waardevolle lesse om uit die wedstryd te neem.

Die WP was rustyd met 31-7 voor, maar het die tweede helfte net met 14-7 gewen vir die eindtelling van 45-14.

“Ons het in die tweede helfte buite ons stelsels beweeg en gespeel in gebiede waar ons nie moes nie. Die Pumas het ons onder druk geplaas en ons kon nie uit ons helfte kom nie. Dit het hulle toegelaat om balbesit te kaap. Al die veranderings wat ons deur ons reserwebank gemaak het, het ook die ritme beïnvloed,” sê Snyman. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!