Bok Herschel bring hulde aan Chester
Bok Herschel bring hulde aan Chester

Bok Herschel bring hulde aan Chester

Rugby
Stephen Nell - Herschel Jantjies, die Stormers se Springbok-skrumskakel, het Woensdagaand op die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se prysuitdeling hulde gebring aan die rol wat die ontslape Bok-vleuel Chester Williams in sy dramatiese opgang vanjaar gespeel het.

“Die oorsprong van alles was seker by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). As dit nie vir die UWK en coach Chester Williams was nie, sou ek seker nie hier gewees het nie. Hy het aan my die geleentheid gegee om aan die UWK te studeer en speelkans te kry,” het Jantjies gesê.

Jantjies, wat sy deurbraak in 2017 onder Williams se afrigting by die UWK gemaak het, het die skoknuus van die voormalige Bok-ikoon se afsterwe in September ontvang toe hy saam met die Springbokke in Japan vir die Wêreldbekertoernooi was.

“Ek was nog veronderstel om die vorige naweek saam met hom by die bekendstelling van sy bier te wees. Hy was ’n puik man en sal vir ewig in my hart bly. Hy het aan my ’n lewensboei gegee om my rugby te lig,” het Jantjies gesê.

Die 23-jarige Jantjies is Woensdagaand as die WPRU se Agterspeler van die Jaar en die Spelers se Speler van die Jaar aangewys. Dít kom nadat hy vir die Stormers in die Superreeks uitgeblink en ook in ’n Bok-trui geskitter het.

“Dis lekker om individuele pryse te kry, maar rugby bly ’n spansport. Ek sou dit nie kon gedoen het as dit nie vir my spanmaats en afrigters was nie,” het hy gesê.

Jantjies het sy rugbyjaar op die Bokke se plaasvervangersbank in die Wêreldbekereindstryd afgesluit en was onder die benoemdes vir Wêreldrugby se Deurbraakspeler van die Jaar. Die Franse losskakel Romain Ntamack het die prys ontvang.

“Ek het nou nog nie ’n antwoord as mense my vra hoe dit voel om die Wêreldbeker te wen nie. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Van hier af moet ek net harder werk. Hopelik kan ons die momentum na die Superreeks oordra en die trofee in die Kaap staanplek gee.”

“Ek dink die spelers sal met baie emosie speel, veral die ouer manne. Ek kan nie wag vir die eerste wedstryd en om weer in ’n Stormers-trui op te draf nie,” het Jantjies gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer