Bokke bly tot 2025 in Rugbykampioenskap
Bokke bly tot 2025 in Rugbykampioenskap

Bokke bly tot 2025 in Rugbykampioenskap

Rugby
Andrew Poolman
Suid-Afrika sal minstens tot 2025 nog in die Rugbykampioenskap speel, maar kyk terselfdertyd of die Springbokke daarna in groener weivelde in die Noordelike Halfrond sal kan wei.

Hierdie onthulling is gister gemaak deur base van Sanzaar, die beheerliggaam van die Rugbykampioenskap.

Dit bring vir eers ’n einde aan bespiegeling dat Suid-Afrika die Rugbykampioenskap – waar hy teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië speel – binnekort kan groet. Die logiese roete vir Suid-Afrika, veral gegewe dat sy franchise-spanne nou in die Noordelike Halfrond speel, is om by die Sesnasies-reeks in te skakel. Soos sake nou staan met die Bokke wat in die Rugbykampioenskap speel, is Suid-Afrika se seisoen ongebalanseerd. Dit beteken dat die Bokke ’n afseisoen moet hê terwyl die franchise-spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.

Brendan Morris, uitvoerende hoof van Sanzaar, het aan die Sydney Morning Herald gesê dat Suid-Afrika se toekoms ná 2025 onseker is.

“Suid-Afrika het ons voor Kersfees reeds in kennis gestel dat hulle ander opsies ondersoek,” sê hy.

Marcelo Rodriguez, voorsitter van Sanzaar, is nietemin bly oor die sekerheid wat daar vir die afsienbare toekoms is.

“Daar was bespiegelinge oor die toekoms, maar dis puik dat al die lidlande hulle nou tot minstens 2025 tot die Rugbykampioenskap verbind het. Dít beteken dat ons daarop kan konsentreer om seker te maak dat die Rugbykampioenskap een van die beste reekse in wêreldrugby bly,” sê Rodriguez.

“Die Covid-19-pandemie het die afgelope twee jaar ’n baie ongewone sportomgewing geskep met wedstryde wat dikwels in die gedrang was en kommersiële aspekte wat ook negatief geraak is.

“Lidlande het gedurende Covid-19 baie hard gewerk om rugby aan die lewe te hou en dit was by tye moeilik.”

Ofskoon die invloed van die Covid-19-pandemie beteken het dat die meeste van verlede jaar se wedstryde in Australië gespeel moes word, is Sanzaar vol vertroue dat die skedule vanjaar na normaal sal terugkeer.

“Terwyl die pandemie nog nie iets van die verlede is nie, word beplan dat die Rugbykampioenskap in 2022 ten volle in al vier lande gespeel sal word,” sê Sanzaar in ’n nuusverklaring.

“Die effek van die pandemie die afgelope twee jaar was dat geen wedstryde in Argentinië gespeel is nie en dat slegs ’n handvol in Suid-Afrika en Nieu-Seeland gespeel kon word. Die skedule vir 2022 sal mettertyd aangekondig word.”

SA Rugby het wel verlede week reeds aangekondig dat die Springbokke in tuistoetse teen Nieu-Seeland (Mbombela en Johannesburg) en Argentinië (Durban) sal speel. Die twee teen die All Blacks is op 6 en 13 Augustus, terwyl die kragmeting met die Poemas op 24 September beslis sal word.

– Reuters; Netwerk24

FOTO

Die Springbokke en All Blacks sal nog tot minstens 2025 jaarliks met mekaar in die Rugbykampioenskap kragte meet. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!