Bokke het g'n behoefte aan 'Plan B'

Rugby
Stephen Nell – Daar's geen rede vir die Springbokke om aan hul wedstrydplan te verander ná Sondag se nederlaag teen die Wallabies nie.

So het die Bok-vleuel Sbu Nkosi gesê nadat die Wallabies 'n doodsnik-oorwinning met 28-26 in die Goudkus in Australië behaal het.

“Dit kom maar net neer op uitvoering. Ek dink nie ons hoef terug tekenbord toe te gaan en enigiets te verander nie. Ons het 'n goeie plan wat van ons die wêreldkampioen gemaak het,” het die Bok-blits aangevoer.

“Ons groei nog as wêreldkampioene en gaan mettertyd die meedoënloosheid aanleer wat ons in staat stel om spanne weg te bêre.

“Ek dink net ons moet ons wedstrydplan beter uitvoer. Dit het in die verlede vir baie sukses gesorg.”

Op 'n vraag of die Bokke nie 'n “Plan B” moes gehad het vir meer avontuurlustigheid op die aanval nie, sê Nkosi dit was nie 'n geval van “Plan A” wat nie gewerk het nie.

“Ons het drie drieë deur rolmaalbewegings gedruk, wat uitstekend is. Ek sou dus nie sê ons het 'n Plan B op die aanval nodig gehad nie, want ons aanval het baie goed gewerk.

“Die rolmaal is 'n aanvallende faset. En welgedaan aan die voorspelers daarvoor.

“Dit is ons dissipline wat ons die wedstryd gekos het, want hulle het 23 punte met skoppe aangeteken.”

Nkosi was diplomaties toe hy uitgevra is oor moontlike obstruksie deur die Wallabies wanneer die Bokke hul skoppe opgevolg het. Dit het by tye verhinder dat die Bokke om die hoë bal kon meeding en sodoende druk op die Wallabies plaas.

“ 'n Hele paar dinge het nie reg gevoel nie, maar ek dink dit sal beter wees as ons gesels nadat ons die wedstryd in fynere besonderhede bestudeer het,” sê hy.

“Ek moet erken dat ons nie soveel munt as gewoonlik uit ons lugaanval geslaan het nie, maar om die rede daarvoor vas te stel sal ons die beeldmateriaal moet gaan bestudeer.

“Ek het gesukkel om in die lug te kom. Ek weet nie of onwettige taktiek gebruik is nie. Ek sal eers ná 'n ontleding van die wedstryd 'n reguit antwoord kan gee.”

Malcolm Marx, die Bokke se plaasvervangerhaker wat twee drieë gedruk het, het die nederlaag as 'n “bitter pil” beskryf. Hy het katvoet geloop oor die tema van beslissings teen die Bokke by die skrums.

“Daar was skrums waar ons gedink het ons oorheers het, maar waar die skeidsregter 'n ander prentjie gesien het,” sê Marx.

“As 'n Springbok sal ek altyd hier sit en sê ek dink ons het oorheers. Ons sal gaan kyk waar ons kan verbeter en ewe hard gaan werk as wat ons die afgelope week gedoen het.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!