Bokke sonder veel ervaring teen Drake

Rugby
Stephen Nell



Dis als goed en wel om Italië met 'n ervare pak ­voorspelers te klop, maar hoe gaan die Springbokke die verlies van 194 toetse se ervaring in komende Sater­dag se rugby­toets teen Wallis oorbrug?

Allister Coetzee, die Bok-afrigter, moet vandeesweek waarskynlik 'n plan beraam sonder sy mees ervare speler, die stut Tendai Mtawarira, wat al in 98 toetse gespeel het, asook die losvoorspelers Duane Vermeulen (39 toetse) en Francois Louw (57 toetse), klaar te kom.

Vermeulen en Louw was deur hul fisieke spel en verdediging onder die Bokke se beste spelers in die ­afgelope naweek se sege van 35-6 oor Italië in die Stadio Euganeo in Padova, Italië, waar hulle in gietende reën geseëvier het. Hulle moet egter nou na hul klubs, onderskeidelik Toulon en Bath, terugkeer omdat die kragmeting met Wallis in Cardiff buite Wêreldrugby se toetsvenstertydperk gespeel word.

Coetzee het toegegee dat dit ­onwaarskynlik is dat ­Mtawarira fiks sal wees vir die toets teen Wallis nadat hy 'n liesbesering teen Italië opgedoen het. Siya Kolisi keer darem terug nadat hy verlede week met vader­skapsverlof was, terwyl Coetzee waarskynlik vir Dan du Preez op ­agtsteman sal inspan. Du Preez het nog net in twee toetse as 'n plaasvervanger gespeel.

Om teen Wallis te speel is uiteraard 'n heel ander storie as Italië, wat net een van hul laaste 12 toetse gewen het. Handré Pollard, wat Saterdag 'n goeie vertoning as losskakel gelewer het, glo die Bokke sal kan aanpas.

“Ek dink nie ons gaan momentum inboet nie. Siya keer terug. Natuurlik sal ons die ouens mis wat ons verlaat, maar die ander manne is honger om te wys wat in hulle steek. Die grondslag is gelê en die ouens kan inkom en alles gee,” sê Pollard.

Coetzee kan rustigheid in Steven Kitshoff se vertoning vind nadat hy vir Mtawarira in Padova moes vervang. Kitshoff het inderwaarheid nog nie 'n swak toets vir die Bokke gespeel nie en is ook al lekker ­uitgehonger omdat slegs een van sy 22 wedstryde in die Groen-en-goud tot op hede in die beginspan was.

Sewe-en-vyftig persent van die Bokke se ervaring onder sy agttal wat Saterdag die toets teen Italië begin het, behoort aan Louw, Mtawarira en Vermeulen wat altesaam 194 van die span se 335 toetse gespeel het.

Die Bokke verloor natuurlik ook vir Franco Mostert, hul plaasvervangerslot van die Italië-toets, wat by sy Japannese klub, die Ricoh Black Rams, moet inskakel. In eie reg is hy ook 'n baie goeie speler, maar die Bokke se diepte op slot sal dié verlies kan verwerk. Dit sal waarskynlik beteken dat Pieter-Steph du Toit slot toe geskuif word as Eben Etzebeth of Lood de Jager vervang moet word.

Daarmee in gedagte sal dit sin maak om vir Oupa Mohoje as losvoorspeler op die plaasvervangersbank te kies. Hy is immers 'n ervare nr. 7-flank en kan in Du Toit se posisie opdraf. Die losskakel Elton Jantjies wat Saterdag op die plaasvervangersbank gesit het, bly ondanks die feit dat hy in diens is van Japan se NTT Shining Arcs, by die Bokke aan om na Wallis te reis.

Coetzee is uiteraard in sy noppies met die Bokke se vertoning teen die Azzurri.

“Die lekkerste is wanneer die spelers se harde werk in die oefeninge na die speelveld oorgedra word. Die spelers en bestuurspan maak groot opofferings. Die harde werk is beloon en dis verblydend,” sê hy.

Die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen hoop hy en Francois Louw se ervaring het die groei van die Springbok-span op hul jaar­eindtoer aangehelp.

Louw wat by Bath in Engeland gekontrakteer is, was in al drie die Bokke se toetse tot dusver op die toer in die beginspan ingesluit. Die eerste teen Ierland as agtsteman en daarna teen Frankryk en Italië op flank.

Op sy beurt is Vermeulen uit Toulon se geledere opgeroep voor die toets teen die Franse wat naelskraaps deur die die Bokke gewen is.

“Jy kan nie sommer binne twee weke 'n noemenswaardige invloed op die span hê nie, maar hopelik het ek en Flo (Louw) ietsie vir die span agtergelaat om oor na te dink en aan te werk. Ons kon ons ervaring met hulle deel. Dit was eintlik 'n baie lekker twee weke. Met my aankoms was die span 'n bietjie onder druk, maar dit was goed om die ouens te leer ken en van naby 'n blik op die potensiaal te kry,” vertel hy.

“Ek weet die manne is onder druk in Suid-Afrika. Die publiek is selde tevrede, maar die belangrike ding is dat die span sy fokus op sy einddoelwit behou. Soms raak dit lelik, maar ons weet wat ons wil bereik wanneer die Wêreldbekertoernooi in 2019 aanbreek,” het die ervare voor­speler gesê.

Vermeulen se kontrak met sy Franse klub verstryk in Junie 2018 en die verwagting is dat hy dan na Suid-­Afrika sal terugkeer. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal hom dan heel waarskynlik by die Westelike Provinsie kontrakteer.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!