Boko Haram plunder rondom Chibok
Boko Haram plunder rondom Chibok

Boko Haram plunder rondom Chibok

Groep sit sy terreurstryd in die noorde van Nigerië voort ondanks aansprake deur die regering dat die militante groep se greep gebreek is.
Estelle de Bruyn
Dorpies naby die dorp Chibok in die noorde van Nigerië loop deur onder vegters van die terreurgroep Boko Haram wat honderde mense uit hul huise dwing terwyl geplunder word.

Boko Haram het in 2014 meer as 270 skoolmeisies van Chibok ontvoer.

“Chibok is nou onder beleg van Boko Haram,” het Yaga Yarkawa, voorsitter van Chibok se bestuursowerheid, gister aan joernaliste in Maiduguri, sowat 130 km noordoos van Chibok, gesê.

Berigte oor Boko Haram-geweld rondom Chibok, asook talle selfmoordbomaanvalle in Maiduguri en aanvalle op weermaginstellings in die gebied, laat twyfel ontstaan oor die weermag en regering se bewerings dat Boko Haram se mag gebreek is.

Nege dorpies binne 25 km van Chibok het die afgelope twee weke onder aanvalle deurgeloop. Boko Haram gebruik ’n verskroeide-aarde-taktiek deur vee en oeste te steel en huise af te brand, sê Yarkawa.

“Ongeag wat die regering en veiligheids­lede sê, is Chibok nie veilig nie,” sê Yarkawa.

Dit is onduidelik of inwoners doodgemaak is omdat mense te bang is om terug te keer na die dorpies, sê Bulama Abogu, wat gemoeid is met burgerlike weerbaarheid. Geen soldate het blykbaar nog ingegryp nie.

Talle van die dorpies grens aan die Sambisa-woud, waar Nigeriese veiligheidsmagte lug- en grondaanvalle uitvoer waarin duisende van Boko Haram se gyselaars ontset is.

Dit is ook waar Boko Haram die 276 ontvoerde meisies aanvanklik gehou het. Netwerk24/News24Wire/AP

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer