Boksende tweeling lus om mekaar op te dons

Boks
Michael Green



Die promotors sal hierdie maand hul hande vol hê om 'n boksende tweeling, wat in dieselfde toernooi in aksie gaan wees, uitmekaar te hou.

Jermall en Jermell Charlo van Amerika is albei wêreldkampioene, maar die broederliefde tussen hulle is soms maar min.

Jermell het Jermall juis verlede maand behoorlik in 'n Instagram-plasing sleggesê.

Dit wil voorkom asof daar 'n ongesonde wedywering tussen die 30-jarige broers is met altwee wat nie daarvan hou as die ander een meer aandag kry as hy nie.

Jermall verdedig sy middelgewigtitel van die Wêreldboksraad (WBC) op 26 September in Uncasville in die Amerikaanse staat Connecticut teen Sergiy Derevyanchenko van die Oekraïne.

Dieselfde aand kom Jermell, die WBC se super-weltergewigkam­pioen, teen Jeison Rosario van die Dominikaanse Republiek te staan.

Rosario is die ­Wêreldboksvereniging (WBA), die Internasionale Boks­federasie (IBF) en die Internasionale Boksorganisasie (IBO) se kampioen.

Die Charlo-tweeling se vertonings kan vir die hoogtepunt van 'n besige maand op die bokskalender sorg.

Asof hul gevegte nie genoeg is om boksentoesiaste opgewonde te maak nie, word daardie selfde aand nog twee wêreldtitelgevegte in die Mohegan Sun-arena aangebied.

Luis Nery van Mexiko pak sy landgenoot Aaron Alameda vir die vakante WBC-superkapokgewigtitel, en John Riel Casimero van die Filippyne verdedig sy kapokgewig-titel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) teen Duke Micah van Ghana.

Die vuiste klap egter reeds vanaand in Wakefield in Engeland waar Philip Bowes en Akeem Ennis-Brown mekaar vir die Statebond- en die Britse junior weltergewigtitel die stryd aansê.

Saterdag verdedig Jamel Herring van Amerika sy ­super-veergewigtitel van die WBO in Las Vegas teen Jonathan Oquendo van Puerto Rico.

• Ander gevegte om na uit te sien gedurende September, sluit in:

Sondag 6de: Yordenis Ugás teen Abel Ramos;

Saterdag 12de: Egidijus Kavaliauskas teen Mikael Zweski in Las Vegas; Anthony Yarde teen Dec Spelman in Londen;

Saterdag 19de: Erickson Lubin teen Terrel Gausha in Uncasville;

Vrydag 25ste: Tony Yoka teen Johnny Duhaupas in Parys; Julio Cesar Chavez junior teen Mario Abel Cazares in Culiacán;

Saterdag 26ste: Josh Taylor teen Apinun Khongsong in Londen.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer