Bokuitvoere tuimel nu00e1 KZN-onluste
Bokuitvoere tuimel nu00e1 KZN-onluste

Bokuitvoere tuimel ná KZN-onluste

Namibiese bokboere kan weens die onluste in KwaZulu-Natal nie baat by die groter vraag na slaggoed tydens die Moslem-gemeenskap se Qurbaani-fees nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die prys van bokke op veilings in die Suide het met minstens N$8 per kilogram geval ná uitvoere weens die onluste verlede week in KwaZulu-Natal (KZN) gestaak moes word.

Dit beteken boere kry sowat N$250 per bok minder in die sak.

Drie van die vyf Namibiese bokuitvoerders het veilingsaankope gestaak, sê mnr. André Rossouw van Maltahöhe.

Hy is bykans 55 jaar in die bokbedryf en voer op groot skaal bokke na die halaal-vleismark in die Moslem-Indiër-gemeenskap in KZN uit.

Rossouw sê dié gemeenskap se Qurbaani-fees einding vandag. Tydens die fees moet mense in die Moslem-gemeenskap gewoonlik volgens hul geloofstradisie ’n groot bok of skaap as offerhande slag.

“Ons beplan al twee tot drie maande voer die tyd hiervoor en koop die heel grootste bokkapaters en grootste skape aan, want dit is wat hierdie geloofsmark tydens Qurbaani soek,” vertel hy.

Rossouw sê oproeriges het by die veekrale in KwaMashu by Durban waarheen hy bokke stuur, bykans 500 stuks kleinvee geplunder. Daarvan was 350 bokke wat vanaf Namibië ingevoer is. Hulle het ook 50 beeste en ’n groot aantal hoenders gesteel, vertel hy.

Verder is infrastruktuur en toerusting verwoes. Die totale skade beloop R2 miljoen.

“Hulle het sommer vyf beeste in die kraal geslag en die plek geruïneer,” sê hy.

Onluste het anderhalfweek gelede in KZN uitgebreek en na Gauteng versprei in ‘n poging om oudpres. Jacob Zuma se vrylating uit die tronk te bewerkstellig. Skade van bykans R50 miljard is aangerig toe honderde winkels verwoes en geplunder is, tientalle lorries aan die brand gesteek is en plase, pakhuise en fabrieke afgebrand is.

“Ons lorries kon nie bokke gaan aflaai nie en dit is nog altyd ‘n risiko,” vertel Rossouw wat weekliks vragte bokke na Durban stuur.

Hy verwag die situasie gaan eers oor 14 dae tot 3 weke normaliseer.

Vanweë die baie sterftes wat tydens onluste voorgekom het, het die vraag na bokke in die Zoeloe-gemeenskap intussen gestyg. “Hulle gebruik die pensmis en bloed tydens begrafnis-rituele,” verduidelik Rossouw. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer